Leesvordering:

Nuwe land, selfde jy: Oorwin só die kultuurskok

Sep 30, 2020

So jou planne om oorsee te gaan is bevestig? Voorspoed! Of jy nou emigreer, tydelik in die buiteland gaan werk of selfs gaan studeer, ’n nuwe wêreld is pas vir jou oopgemaak met nuwe avonture, mense, disse, klimate en kulture. Dié nuwigheid kan egter baie gou vreesaanjaend word as jy nie die nuwe land se giere en grille met die regte houding aanleer nie. Hier is ’n paar wenke om te verhoed dat jy vasgevang word in die ellende van kultuurskok.

1. Vermy vergelykings

Alhoewel dit onwaarskynlik is dat jy nié aspekte van jou nuwe bestemming met jou tuisland sal vergelyk nie, is dit tog noodsaaklik om oopkop te bly oor die onbekende. As jy alles deurgaans vergelyk met waaraan jy gewoond is, selfs al is Suid-Afrika slegter af in die vergelyking, kan jy op ’n dwaalspoor van negatiwiteit beland. Probeer om nuwe avonture sonder enige vooropgestelde idees aan te pak. Jy is immers in die bevoorregte posisie om ’n nuwe land te leer ken.

2. Klim uit jou gemaksone

Die groot onbekende is gemaak om jou uit te daag. As jy iemand is wat sukkel om nuwe vriende te maak en plekke wat gons met mense ten alle koste vermy, is dit maklik om elke aand in jou huis of kamer met jou vriende en familie by die huis te sit en gesels. Jy ontneem jouself egter van die plesier om nuwe mense te ontmoet en hulle kultuur te leer ken.

Heinrich, ’n uitruilstudent in België wat weens die korona-pandemie nie kon terugkeer Suid-Afrika toe nie, moes dit op die moeilikste wyse moontlik leer. Vasgekeer in sy koshuiskamer en omring deur ander uitruilstudente het hy besef as hy nie nou uit sy gemaksone klim nie, sal hy stadig maar seker stukkies van homself verloor. “Die mens is ’n sosiale wese. Ek sou nooit voorheen daaraan gedink het om met die ander mense in my studentehuis te praat of kuier nie, maar toe die opsie van kontak na buite nie meer daar was nie, en my vlug huis toe op ys geplaas is, het ek besef dié mense sukkel heel moontlik met dieselfde sosiale angs as ek.”

Leer ken die mense om jou en sien die moontlikhede van nuwe vriende raak. Dit kan die vreemde land dalk so ’n bietjie bekender laat voel.

3. Aanvaar mense se unieke eienskappe

Voor enige reis is dit belangrik om te begryp dat nie net mense se aksent en fisiese voorkoms van joune kan verskil nie, maar ook hulle geloofsoortuigings, houding teenoor buitelanders en denkwyses. Die wêreld het ’n ryk verskeidenheid kulture en dié kulture stem nie altyd ooreen nie. Bly oopkop oor die mense wat jy teëkom en probeer om nie betrokke te raak by mags- en meningsverskille tussen verskillende rasse, gelowe, nasionaliteite of geslagte nie. Nie net kan dit jou geheel en al van jou fisiese omgewing vervreem nie, maar dit kan ook aanleiding gee tot konflik met die mense wat jy as jou tydelike medelandsburgers moet aanvaar.

4. Aanvaar die nuwe, maar behou die oue

’n Maklike manier om oor die skok van ’n nuwe kultuur te kom, is om hulle te beïndruk met jou eie! Daar is niks so lekker soos eg Suid-Afrikaanse kos, staaltjies, aksente, musiek en flieks nie! Soos wat jy aanpas in jou nuwe omgewing, is dit dalk goed om jou gunsteling-gedeeltes van Suid-Afrika te deel met jou nuwe vriende.

Bianca, ’n Engelse onderwyser in Thailand, het foto’s geneem van haar gunstelingplekke in Suid-Afrika en haar nuwe woning daarmee versier. Sy maak ook nog waar sy kan eg Suid-Afrikaanse disse soos breyani en hoenderkerrie. “Ons is ’n groot groep ekspats wat saam in dieselfde gebou woon en ons hou gereeld kultuur-uitruilaande. Dit help ons om vas te hou aan ons eie land terwyl ons steeds meer sien en leer as wat selfs Thailand het om ons te bied.”

Deur die magdom kulture wat die wêreld bied te vier, vergeet jy hoe vreemd jou nuwe werklikheid is.

5. Maak tyd vir jouself

Gaan ’n ooreenkoms aan met jouself: Doen elke dag een ding net vir jouself en een ding waarvoor jy bang is. Neem ’n busrit na ’n gedeelte van die stad wat jy nie ken nie of maak ’n gereg wat aardsvreemd is; pak dit aan met die wete dat jy jouself kan beloon met iets wat vir jou bekend en gemaklik is. Dié ruiltransaksie beteken dat jy nie jouself oorweldig met nog meer uitdagings nie, maar eerder stadig maar seker ontdooi en gewoond raak aan die onbekende.

Kultuurskok is onvermydelik en uitdagend. Maak tyd vir jouself, maar probeer ook om elke dag ’n bietjie meer van die vreemde te leer ken.

Meer oor die outeur

Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig Nuusbrief: 17 Junie 2021

Kollig Nuusbrief: 17 Junie 2021

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir Suid-Afrikaanse burgers in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die...

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ʼn Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela-gemeenskap wil wees. SA terug op vlak 3, sê...

Onderneming in die Kollig: Harry Erasmus Art

Onderneming in die Kollig: Harry Erasmus Art

Wêreldwyd se Wêreldgids het ’n suksesvolle netwerk op die been gebring om Suid-Afrikaners in die buiteland met mekaar in aanraking te bring sodat jy Suid-Afrikaanse ondernemings in jou omgewing kan ondersteun. Wêreldwyd kies elke week een onderneming uit die...

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Wêreldwyd vriende

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest