Kenka Matsuri in die reën en Nikkō saam met my skool.

Iizaka Kenka Matsuri

Die naweek van 12 Oktober het die Iizaka Kenka Matsuri plaasgevind. Iizaka is ’n onsen (warmwaterbron)-dorpie 20 minute buite Fukushima City. Vir net 370 yen kan jy van die stad na dié klein dorpie reis.

Source: https://fukushima-guide.jp/event/iizaka-kenka-matsuri/

Die Kenka Matsuri word ook die ‘Fighting Festival’ (gevegsfees) genoem. Dit is een van die drie grootste gevegsfeeste in Japan en is meer as 300 jaar oud. Kenmerkend van die fees is die mikoshi (draagbare relikwieëkis oftewel ’n gevegsierwa), waarmee mense van Iizaka op die ritme van taiko-dromme deur die strate paradeer. Iizaka bestaan uit ses gebiede. Elke jaar kompeteer dié gebiede teen mekaar sodat die wenner ná die geveg die guns en seëninge van die gode kan ontvang.

Die oggendsessie het internasionale studente, ALT’s en inwoners van Iizaka ingesluit wat ’n mikoshi om die stad gedra het terwyl hulle happi (tradisionele Japannese oorjasse) kon dra en deel wees van dié kulturele ervaring.

Vir die oggenddeel van die fees moes ek ongelukkig by die huis bly en swot, aangesien ek nog deeltyds aan my honneurs studeer. Ek was baie bly dat ek nie deelgeneem het nie, want dit het begin reën en almal was ná die oggend se mikoshi-draery papsopnat.

Ek het so 17:00 die trein na Iizaka geneem. (Dis ongeveer ’n uur en ’n half van my stad na Fukushima City.) Daar aangekom, moes ek van treine verwissel na Iizaka waar David en Cormac my by die stasie kom haal het.

Die eintlike Kenka Matsuri het eers 19:30 begin, so ons het ongeveer ’n uur gehad voordat ons na die tempel moes gaan om die ander ALT’s te ontmoet.

Angela, David se vrou, het kort ná my aankoms ook by ons aangesluit. David het besluit om ons na ’n openbare voetbad te neem waar ons kon ontspan voor die aand se feesverrigtinge. Dit was lekker om weer ná twee weke met hulle te kon opvang!

Daar is kosstalletjies en vermaak tot die geveg afskop.

Die mikoshi word gedra tot by die Hachiman Tempel teen ’n heuwel in Iizaka. Hier veg die mikoshi teen mekaar. Die mikoshi wat ná die geveg bly staan, word as die wenners aangekondig. Dis ’n skouspel om te aanskou, want die mikoshi breek of slaan aan die brand as gevolg van die lanterns wat dit dra.

Ons was ’n groep van ongeveer 30 ALT’s wat na die aandfees in die dorp gaan kyk het. In my opinie was die fees een van die lekkerste wat ek tot dusver al bygewoon het.

Nikkō saam met die skool

Nikkō is ’n klein stad in Japan se Tochigi-prefektuur, in die berge net noord van Tokio. In Nikkō kry jy Toshogu, die bekende tempel wat in 1617 ter nagedagtenis aan Tokugawa Ieyasu, die leier van die Endo-era, opgerig is.

Op 21 Oktober het ek die geleentheid gehad om saam met my skool en die eerste­jaarstudente (graad 10) na Nikkō te gaan om die tempels te aanskou. Nikkō is ’n bekende toeristeaantreklikheid en glo my, daar was baie toeriste wat daarheen gevlok het om ’n foto of twee te kom neem. Dit het gereën daardie dag en ons het dus gedink dat dit nie so besig sou wees nie – jinne, was ons verkeerd!

Ná ons al die tempels besigtig het, het ons vir middagete gegaan. Soos tipiese onderwysers het ons almal verdwyn na ons eie eetplek, en die kinders in die toergidse se hande oorgelaat. Die lekker ding van Japan is die dissipline van die kinders. Daar is nie een oomblik wat ons hoef te bekommer dat iemand dalk van die pad sal afdwaal nie.

Ek en Ando-sensei.

Ná middagete het ek, Ando-sensei en Sakuma-sensei weer terug na die tempels gegaan om te gaan bid by die Shinto-tempel. Ek en Ando-sensei het vir goeie liefde gebid en Sakuma-sensei vir goeie gesondheid en geluk.

By die ingang van die tempel is daar ’n sirkel wat uit strooi geweef is. Dié spesifieke voorwerp is daar vir geluk. Ons moes in die vorm van ’n agt (of oneindigheidsteken) deur die sirkel loop en twee keer klap – daar word gesê dat ons dan geluk sal hê vir die jaar. Ek en Ando-sensei het saam deurgeloop, en Sakuma-sensei het alleen daardeur geloop. Daar word gesê as man en vrou saam stap is hulle ’n paartjie en hulle sal dan geluk in hul verhouding hê: Nie een van ons drie wou daai verkeerde indruk vir enige student skep nie!

Ek en Sakuma-sensei by die ingang en die sirkel-voorwerp.

Ons by die stalletjies het gestop om gelukbringertjieste koop, waar ek sommer ook poskaarte en sleutelhouers gekry het.

 

Hierdie artikel is ook beskikbaar in: English

Michelle Krüger
Michelle Krüger

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest