Verlede week moes ek al weer groet. Die rol waarin ek myself tans bevind, beteken dat ek heelwat tussen kleuterskole regoor die land moet rondskuif. Ek het vir die afgelope vyf weke gehelp met afronding by ’n kleuterskool in Palmerston-Noord om hulle gereed te maak vir die Education Review Office, Nieu-Seeland se “skoolinspekteurs”.

As bedanking vir my hulp kry ek toe die mooiste Afrika-laserkunswerk met ’n gedig deur Bridget Dore daarop geskryf. Dié gedig, Africa smiled a little when you left, is aan Madiba opgedra.

My neef en sy jong gesin het drie maande gelede na Nieu-Seeland geëmigreer en verlede naweek het ons almal ’n groot behoefte aan vitamien F (familie) gehad. Hulle kom kuier toe by ons in Palmerston-Noord, en een van die eerste dinge wat my neef wil weet, is: “Hoe gaan ons rugby kyk en wie ondersteun julle?” Vir die eerste keer in 16 jaar sê ek sonder om te dink: “Die All Blacks.” En ek dink dadelik: Het ek nou amptelik ’n Kiwi geword? Identifiseer ek myself nie meer as ’n Suid-Afrikaner nie? Ek het wel ’n Nieu-Seelandse paspoort, maar beteken dit dat ek myself nou as ’n Nieu-Seelander moet identifiseer? As iemand my nou sou vra waar ek vandaan kom, sal ek sonder om te dink Palmerston-Noord antwoord, en nie meer Suid-Afrika soos ek gewoonlik het nie.

Dus “ondersteun” ek toe die All Blacks tydens die wedstryd, maar elke keer as die Springbokke punte aanteken, skreeu en klap ek net so hard hande. Nou wonder ek … het ek regtig die All Blacks ondersteun?

Die Vrydag ná die wedstryd kry ek my geskenk en toe ek die gedig lees, bars ek in trane uit, want soos die gedig sê: Afrika is altyd in my; dis in my kop, die riviere vloei deur my vingerafdrukke, die tromme pols deur my, die kuslyn vorm die silhoeëtte van my siel.

My neef se vrou vra: “Wanneer voel ek asof hierdie my huis is? Wanneer voel ek weer asof ek hoort?”

Ek kan nie vir haar ’n besliste antwoord gee nie. Ek weet nie aldag of ek ná 16 jaar al voel of ek 100% hier hoort nie. Daar is dae wat ek voel dat Nieu-Seeland nou my huis is, maar op ander dae dink ek, nee dit sal nooit wees nie.

Ek is nog altyd lus vir biltong, droëwors en krummelpap. Ek mis nog altyd my Chocolate Logs en Creme Soda. Ek mis die reuk van vars reën op ’n stofpad en donderstorms wat só kragtig is dat jy nie nodig het om die ligte aan te skakel nie, want die bliksemstrale verlig die wêreld rondom jou.

Ek mis die fantastiese swemstrande vol mense wat met oorgawe vakansie hou, koelkiste vol toebroodjies, koeldrank, en tjips wat saamgeneem word strand toe. Van vroeg af kamp jy op die strand uit in jou kolletjie son tussen al die blinkgesmeerde, songebrande lywe.

Ek smag na die ongelooflike sonsondergange wat net in Afrika voorkom. Nêrens anders het ek al ooit sulke sonsondergange beleef nie. Ek mis dit om in my taal bedien te word en om in my taal te kan werk.

Dit is nou beter, maar ek het baie lank met die plaaslike humor gesukkel, want ons humorsin is nie dieselfde as dié van ander lande nie – en dit neem ’n rukkie om die sleng aan te leer en daaraan gewoond te raak. Jy leer om te sê “yeah” in plaas van “yes” of “ja”. Jy sê “righto” in plaas van “all right”; “Bob’s your uncle, I’ll shout you a meal” in plaas van van “ek stick jou vir ete”. Ek kan nou in Engels grappies maak sonder om bang te wees dat ek gaan aanstoot gee.

Dit geld seker vir waar jy jou ook al in die wêreld bevind. Dit gaan nie oor waar jy bly nie, maar oor wie saam met jou daar bly. Ek het nou al baie nuwe vriende in Nieu-Seeland gemaak. Sommige kom ook uit Suid-Afrika; ander is Pakeha (wit Kiwi’s) en een van my beste vriendinne is Maori. Ek is lief vir almal van hulle en hulle het elkeen ’n spesiale plek in my hart.

My kinders weet reeds: Ek en my man sál Afrikaans in ons huis praat. As daar kleinkinders kom, sál ons met hulle Afrikaans praat, en as daar skoonkinders kom, sál hulle vinnig Afrikaans moet aanleer, anders gaan hulle swaarkry in ons huis, want ons moedertaal is Afrikaans en dis hoe ons onsself kan wees.

Sal Afrika ooit nié deel van my wees nie? Ek glo nie. Afrika en Afrikaans is in my bloed. Vir altyd.

Hierdie artikel is ook beskikbaar in: English

Charlé Klopper
Charlé Klopper
Charlé Klopper woon in Mangonui, Nieu-Seeland. Charlé is ’n bestuurder by ’n kleuterskool en haar man, Tobie, is ’n verplegingspraktisyn.

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest