Leesvordering:

Om nog Afrikaans te mag praat en skryf

Jul 20, 2018

Elke keer as ek my telefoonnommer hier in Amerika moet sê, hang my Afrikaanse aksent uit soos ’n skoolseun se hemp na pouse. Jy sien, my nommer begin met 443. Met die twee viers gaan dit goed (ek kan ’n dik Britse aksent goed namaak). Maar tref my Afrikaanse tong daardie “three”, maak ek hom “free”. Keer op keer. En dis gereeld, want baie Amerikaanse winkels gebruik mens se telefoonnommer vir hul lojaliteitsprogramme en vra knaend vir jou nommer.

Raak mens ooit aksentvry? Kan jy as gewone Afrikaanssprekende sonder toegang tot taalafrigters uiteindelik soos Charlize Theron klink? Ná meer as drie jaar in Amerika weet ek nie so lekker nie.

Die spesifieke paadjie wat ek sover oor die waters ingeslaan het, help ook nie juis dat ek Engels soos ’n moedertaalspreker leer praat nie. Ek sê altyd: Ek mag miskien in Amerika bly, maar ek leef in Suid-Afrika. In plaas daarvan om die taal van die mense om my te absorbeer, duik ek elke dag dieper en dieper in Afrikaans in.

Siek van verlange na kiewiete en miskruiers, die ruik van reën op ’n stofpad en biltong, braaivleis en Mrs Ball’s het ek ’n Afrikaanse blog en toe ’n Afrikaanse onderneming met die naam van oolfant.com begin. In Amerika. Bid jou dit aan!

Elke week publiseer ek minstens een artikel in Afrikaans. Verder het ek ook aanlyn kursusse geskep oor Afrikaanse taalleer en hoe om in Afrikaans te skryf. Dis meestal Suid-Afrikaanse tuisskoolma’s wat my kursusse koop en my skryfsels lees. Maar daar is ’n paar Afrikaanse ma’s in Amerika, Georgië, Engeland, Ierland en Nieu-Seeland wat ook van my kliënte is.

Die nuutste is dat ek onderhoude doen. Tegnologie, Amerika se vinnige internet en die feit dat ek sagteware in dollar kan aankoop, maak baie dinge vir my moontlik.

Ek raak maar net nie gewoond daaraan om onverwags Afrikaans in ons Amerikaanse meenthuis te hoor nie. Miskien omdat ek in ’n gebied bly waar ek nie veel Afrikaans hoor nie. In die geweste van Atlanta hier in die VSA en ook in dele van Texas is daar hope Afrikaanse mense, hoor ek, maar hier waar ons in Maryland bly, is Afrikaans uiters raar.

Dis anders vir my suster-hulle wat in Brisbane in Australië bly. So ’n paar maande gelede het hul kerk daar selfs ’n regte boerebasaar gehou, met melktert en koeksisters en boerewors en biltong. Hulle het glo lekker wins gemaak.

Daarom maak die voorreg om nog steeds in Afrikaans te mag werk my kinderlik gelukkig. Nou nog spring my hart in my keel op as ’n stem van doer ver uit Afrika uit my rekenaar opklink en dis ’n stem wat harde r’e en g’s sê en twee keer “nie” en sinne met “ja-nee” begin.

Swaer wat ’n huisdokter in Brisbane is, sê dit gebeur gereeld dat ’n nuwe pasiënt in sy spreekkamer instap, begin praat, ná ’n rukkie haar kop skeef draai en in Engels vra: “Maar jy het mos ’n aksent. Kom jy van Suid-Afrika af?”

En dan, as hy na Afrikaans oorslaan, in trane uitbars en sê: “Ons is nog nie lank in Australië nie en ek verlang so huis toe. Dis so ’n verligting om met my dokter in Afrikaans te kan praat.”

Of ek die regte ding doen om so aan te hou om in Afrikaans te leef, weet ek sowaar nie. My suster vertel dat dit ’n teer sakie vir baie Afrikaanssprekendes in hul gemeente is. Hoewel die kerk in Brisbane steeds ’n Afrikaanse diens baie vroeg op ’n Sondagoggend hou, is die hoofdiens in Engels. Selfs die predikant, wat ook van Suid-Afrika kom, preek in Engels, sy swaar Afrikaanse aksent ten spyt. Die gemeente se jaarlikse Kerssangdiens is uiters gewild. Dan sit die Afrikaanse mense die banke vol en sing Stille nag, heilige nag uit volle bors, terwyl die verlangtrane oor hul wange loop en loop.

Baie ouers daar praat nog Afrikaans, maar die kinders skuif so geleidelik oor na Engels. Dis ’n goeie ding, sê die meeste mense, want hulle bly nou in ’n nuwe land en as die kinders regtig gelukkig daar wil wees, moet hulle so gou moontlik volwaardig inskakel. Afrikaanse immigrante moenie soos klonte in witsous in Australië staan en wees nie. Gladde deelword, so gou as moontlik – dis wat nodig is.

Ek lees op die oomblik die outobiografie van die Russies gebore skrywer Vladimir Nabokov, Speak, Memory. Nadat hy hom uiteindelik in Amerika gevestig het, het hy die Russies van sy kinderdae versaak en hoogs literêre boeke in Engels begin skryf. Maar sy vreemdelingskap het hy openlik bly dra: Hy het aanmekaar verskoning gemaak omdat hy Engels so sleg praat, nooit ’n huis gekoop nie en sy lewe lank soos ’n banneling in hotelle en huurhuise gebly.

“Niks buiten die presiese replika van die omgewing van my kinderdae sou my tevrede stel nie. Ek sal dit nooit regkry om my herinneringe so presies na te boots nie, so waarom probeer?” het hy gesê.

Nabokov het selfs teen 1927, nege jaar nadat hy uit Rusland weg is, steeds geglo dat hy binne die volgende dekade na Rusland sou kon terugkeer; sy vaderland sou hom met ope arms terugverwelkom, bitter spyt oor die simpel flirtasie met kommunisme. Helaas, hy kon nooit teruggaan Rusland toe nie – nie eens om te gaan kuier nie. En 22 jaar nadat hy uit Rusland gevlug het, het hy sy eerste boek in Engels gepubliseer.

Dis seker nie só snaaks dat ek ná net drie jare weg uit Suid-Afrika steeds graag in Afrikaans wil leef nie. Strenggesproke durf ek nie eens aanspraak maak dat ek banneling is nie. Ons is in Amerika danksy ’n werksgeleentheid vir my man. Hy is ’n ingenieur en mense sê mos altyd ingenieurs is die wêreld se grootse groep trekarbeiders. Hulle moet maar altyd oppak en verhuis na waar die projekte is.

Soos Nabokov, glo ek op hierdie stadium nog vas: Eendag gaan ek huis toe. Ek sien nie kans om Afrikaansloos oud te word nie. Nog nie.

Maak dit my ’n idealis? Of ’n idioot?

Meer oor die outeur

Marisa Haasbroek

Marisa Haasbroek is ’n bekroonde Afrikaanse skrywer, maar ook ’n tuisskoolma wat weekliks in Afrikaans by oolfant.com blog. Om haar verlange na Afrikaans en Suid-Afrika te besweer, ontwikkel sy aanlyn kursusse oor Afrikaanse taalleer en hoe om in Afrikaans te skryf. Sy hoop om dit só vir Afrikaanssprekendes die wêreld oor makliker te maak om aan te hou om vir hulle kinders Afrikaans te leer. Sy glo kennis van Afrikaans bied vir ons kinders ’n venster op Europa, want as ’n mens Afrikaans kan lees, kan jy dan taamlik maklik ook Nederlands leer lees.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Lapa Uitgewers: Ouma Mollie en die mensvreter

Lapa Uitgewers: Ouma Mollie en die mensvreter

Ouma Mollie en die mensvreter Fanie Viljoen Haar naam is Mollewania Mollewiekus Nagtegaal. Maar jy kan haar sommer net ouma Mollie noem – die grootse moeilikheidmaker op Seeperdjiebaai. Gelukkig hou Nina haar ouma (gewoonlik) uit die moeilikheid. Vandag is egter nie...

Oom Paul, sy soldate en die plein

Oom Paul, sy soldate en die plein

Terwyl die storms oor die geskiedenis woed en betogers onlangs nog met spuitverf rondom Paul Kruger se standbeeld op Kerkplein in Pretoria gedans het, staar dié ou staatshoof in stilte in die verte. Sy klipvoete staan dalk nou (nog) rustig op Kerkplein met sy...

Resep: Sjokolademousse-kaaskoek

Resep: Sjokolademousse-kaaskoek

deur, Marinda Kook Maak 'n lekker nagereg vir jou en jou familie saam met Marinda Kook. Bestanddele 250 g roomkaas 250 g mascarpone 160 ml strooisuiker 60 ml kakao 250 ml room 5 ml vanielje 1 Lindt sjokolade 30 ml melk 1 pakkie oreokoekies 60 ml botter gesmelt Metode...

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Wêreldwyd vriende

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest