Leesvordering:

Ons buurland – berei só voor vir jou besoek

Aug 25, 2020

Om na die buiteland te reis beteken nie altyd dat mens op ’n groot vliegtuig moet klim en ’n ure lange reistog moet aanpak nie. Soms kan dit so eenvoudig wees soos om in jou eie motor te klim en die lang pad aan te durf – veral as jy besoek aflê aan een van Suid-Afrika se ses buurlande. Óf jy nou na die tropiese strande van Mosambiek óf die Namibiese woestyn reis, bied ons buurlande ongelooflike besienswaardighede wat die moeite werd is om te besoek – mits jy weet waarvoor jy jouself inlaat.

Die volgende dokumente word vir die meeste lande op die lys vereis indien reisigers met ’n motor oor die grens wil gaan:

  • ’n Geldige Suid-Afrikaanse rybewys.
  • Derdepartyversekering vanaf jou versekeraar.
  • ’n Brief vanaf jou bank met die datums van jou reis en dat hul bewus is daarvan dat die motor die grens oorsteek.
  • ’n Gesertifiseerde kopie van die motor se registrasiedokumente.
  • ’n Brief vanaf die Suid-Afrikaanse Polisie waarin jy toestemming ontvang om die motor oor die grens te neem in die geval waar die motor gehuur of nie in jou naam geregistreer is nie.
  • Buiten die dokumentasie moet Suid-Afrikaanse motors ’n ZA-plakker op hê om aan te dui dat dit ’n buitelandse motor is.

Botswana

Dit is relatief maklik om na Botswana te reis en die rit vanaf Johannesburg kan tussen vier en sewe ure neem, afhangende van watter een van die 17 grensposte jy gebruik maak. Alhoewel Botswana redelik naby aan Suid-Afrika is, word reisigers aangeraai om eerder nie in die nag te ry nie. Diere, hoofsaaklik donkies, beeste en boerbokke, loop vrylik langs en soms op die nasionale paaie rond en kan ’n veiligheidsrisiko wees.

Vir reisigers na die noorde van Botswana word malariapille aanbeveel veral vir besoekers aan die bekende Chobe Nasionale Park. Kraanwater word oor die algemeen veilig geag om te drink. Reisigers word ook aangeraai om versigtig met ander waterbronne om te gaan aangesien bilharzia in die land voorkom.

Mosambiek

Suid-Afrikaners is lief daarvoor om die wit strande van Mosambiek te besoek, veral vir Paasnaweek of Desember-vakansies. Buiten die bogenoemde dokumentasie, vereis Mosambiek ook dat alle motors twee driehoeke moet hê in die geval van nood.

In sekere dele van Mosambiek, veral in die meer afgeleë gebiede, is die kos en water nie altyd van hoë gehalte nie. Een van die algemene probleme is kos of water wat met tifus besmet is. Gewoonlik word reisigers aangeraai om eerder gebottelde water te drink om enige risiko te voorkom.

Indien jy wil gebruik maak van publieke vervoer is daar verskeie opsies om van te kies. Al die publieke vervoer staan onder die versamelnaam chapa bekend. Dit verwys na enige vorm van ’n motor, uitsluitende busse en trokke, wat tussen dorpe beweeg en kan omtrent enige plek gevind word, soortgelyk aan taxi-dienste in Suid-Afrika. Busse is ook ’n gewilde reisopsie in Mosambiek en reis tussen die meeste groot dorpe. Soos chapas is die busse nie luuks nie en moet reisigers hulself daarvoor voorberei.

Vir reisigers wat hulle eie vervoer gebruik, is daar natuurlik ook die plaaslike polisie om in ag te neem. Reisigers moet volgens wet te alle tye identifikasiedokumente by hul dra en motoriste moet voorbereid daarop wees om gereeld vir inspeksies afgetrek te word.

Namibië

Baie Suid-Afrikaners wat lief is vir die wilde Afrika-skoonheid hunker na die Namibiese woestyn en die pragtige natuurskoon van Etosha. Aangesien Namibië so ’n groot land is, is dit belangrik vir reisigers om toe te sien dat hul genoeg brandstof het. Hul moet seker maak dat die brandstoftenk gedurig vol is, want vulstasies is nie so algemeen beskikbaar soos in Suid-Afrika nie en kan soms ver uitmekaar wees.

Die Suid-Afrikaanse rand word ook algemeen aanvaar in Namibië en is gelyk in waarde aan die Namibiese dollar. Dit is dus nie nodig om geld om te ruil as jy hierheen reis nie.

Swaziland

Swaziland is een van ons kleiner buurstate en beslaan slegs 17 364 vierkante kilometer. Buiten om per motor na Swaziland te reis vanaf Suid-Afrika, is dit nou ook moontlik om daarheen te vlieg met SA Airlink wat daagliks vlugte na King Mswati III Internasionale Lughawe onderneem. Soos in Namibië is die Swazi-geldeenheid, die Swazi lilangeni, dieselfde waarde as die Suid-Afrikaanse rand en is dit nie noodsaaklik om geld te ruil nie.

Zimbabwe

Zimbabwe word minder besoek as die ander buurlande weens die onlangse onrus in die gebied. Tog bly die land steeds een van die mooiste in Suider-Afrika en bied Zimbabwe ongelooflike wonders soos die Victoria-valle. Zimbabwe het vir jare nie hulle eie geldeenheid gebruik nie, maar sedert 2019 het die Zimbabwiese Minister van Finansies aangekondig dat buitelandse geldeenhede nie meer gebruik sal word nie en slegs die Zim. dollar voortaan gebruik sal word. Reisigers moet daarom eerder hulle geld omruil of van kredietkaarte gebruik maak wanneer hulle in Zimbabwe gaan reis.

Soos Suid-Afrika het Zimbabwe verskeie kulture en is daar 16 amptelike tale maar reisigers wat Engels praat, sal redelik maklik oor die weg kom. Een ding wat eerder vermy moet word wanneer jy na Zimbabwe reis, is om kamoefleerdrag te dra want dit stem ooreen met hul militêre drag. Jy kan ’n boete of tronkstraf opgelê word as jy jou skuldig maak aan dié oortreding.

Lesotho

Lesotho is veral bekend vir sy toeriste-attraksie soos Afriski wat juis tydens wintermaande ’n lekker wegbreek vir Suid-Afrikaners is. Net soos die ander buurlande is dit nie nodig om ’n visum te hê om die land te besoek indien jy korter as drie weke bly nie. Die plaaslike geldeenheid, die Lesotho loti, se waarde is gelyk aan die rand en rande word algemeen aanvaar in dié land. Besoekers aan Lesotho hoef ook nie bekommerd te wees oor siektes soos malaria nie, aangesien dit nie in die gebied voorkom nie. Een risiko in Lesotho is wel die dun lug in hoër-liggende gebiede en reisigers ly soms aan hoogtesiekte tot hulle liggame aangepas het.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

Uit en tuis: ’n e-pos uit Nederland

Uit en tuis: ’n e-pos uit Nederland

Uit en tuis is ’n rubriek waarin ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar weer terug is in Suid-Afrika. Ons hoor graag van enigeen wat hul belewenisse met ons wil deel. Vandeesweek gesels ons met Natasha Viljoen wat al ses...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest