Leesvordering:

Ons Nederlandertjie met sy Suid-Afrikaanse wortels

Jun 5, 2024

Deur Alecia Odendaal

‘n Mens doen soms ’n paar dinge in jou lewe wat jy nooit gedink het jy sou wou doen nie of bloot te bang was om te doen. Ek dink vir my was dit om ’n baba in ’n land te kry ver weg van my familie – dus so ’n mengsel van die twee. My genade, die lewe werk natuurlik so dat sulke dinge dan juis met jou gebeur!

Ons het ’n ongelooflik lekker paar jaar in Europa beleef voordat ons seuntjie in April 2023 gebore is. Ons pad na ouerskap het ’n paar kronkels geloop en lyk ’n bietjie anders as die gewone verhaal. Ons het die wipplank van ’n surrogaatproses gery; van aanneming tot ’n hele paar rondtes in vitro- (IV-) bevrugting beleef. En net toe ons besluit om ’n ou huis te koop en self te renoveer so tussen die rondtes IV-bevrugting deur, kry ons die voorreg om ouerskap te beleef – en dit boonop in ’n ander land.

Ons is heel gemaklik daarmee om ons verhaal te deel. Só het ons pad al gekruis met ’n paar ander ekspats wat ook graag met ’n gesin wil begin, maar sukkel om swanger te word.

Ons het ná ‘n paar jaar se “rus” weer vir fertiliteitsbehandeling kans gesien en by ons huisdokter hier aangeklop. Ek het ons dokumente van die fertiliteitspesialis in Suid-Afrika aangevra en die hele lot dokumente saamgeneem. Ons is heel vinnig na die Medische Centrum Amsterdam (die akademiese hospitaal) verwys. Ná ses maande se wagtyd is ons lêer nagegaan en kon ons direk met IV-bevrugting voortgaan.

Ons was so twee jaar deel van die program voordat ons seuntjie gebore is. Ek was bevoorreg dat my ouers kom kuier het tydens die rondte IV-bevrugting toe hy gebore is. Dit was spesiaal om my ouers saam te neem na die hospitaal wat ons so gereeld besoek het.

Ons het sommer vroeg besluit dat ons die Nederlandse proses gaan vertrou en het onsself in die hande van die dokters gelaat. Die proses, ingesteldheid en metodes is baie anders as waaraan ons in Suid-Afrika gewoond was, maar dis ’n ander land – natuurlik moet dit anders wees!

Die verrassings val so bietjie plat as familie weet dat jy IVF deurloop en twee weke ná die embrio teruggeplaas word al weet of dit suksesvol was. Nietemin, toe ons die familie per video bel, het my ma gedink ons dra die nuus oor dat ons na ’n ander land verhuis. Dus kon ons hulle toe in elk geval verras!

Dit verg soms beplanning om familie en vriende deurentyd by jou lewe buite Suid-Afrika te probeer betrek. Só het ons onverwags die geslag op 13 weke uitgevind, want seuntjies steek moeilik hul geheime weg. Ons het met ondernemings in die onderskeie dorpe waar ons ouers woon, gereël om gebak te voorsien om die bekendstelling van die geslag te vier. Oupa en Ouma Odendaal (my man se ouers) het kolwyntjies op Oupa se verjaarsdag gekry. Hy was lekker verbaas want hy het aangeneem die kolwyntjies is bloot vir sy verjaarsdag. Oupa en Ouma Stander (my ouers) het ’n koek gekry wat die geslag verklap het. Dit was vir ons so lekker om die nuus wel op ’n manier aan hul oor te dra.

Ons het elke week foto’s gestuur, en soos die tyd aangestap het, het ek maar lekker senuweeagtig geword vir die geboorteproses en die tydperk daarna. Die eerste uitdaging wat ek te bowe wou kom, was die idee dat Skalk tuis gebore sou word. Dit is heel normaal in Nederland en rondom die 25ste week van jou swangerskap lewer die mediese fonds jou kraamboks af, met alles wat jy vir ‘n tuisbevalling benodig. Gelukkig vir ons en ook die honde was dit ’n goeie belewenis ín die hospitaal en ons klein Nederlandertjie is op 25 April gebore.

Ons kon sommer dieselfde dag huis toe gaan en om 19:00 die aand het ons met ons nuwe bondel by die voordeur ingestap. Om 21:00 het ons kraamverzorger aangeklop en ons ’n paar riglyne vir die eerste nag gegee. Ek was so dankbaar! Ek weet immers net hoe om ’n vriendin se baba vir 15 minute lank vas te hou! Vir die volgende sewe dae het sy elke oggend klokslag om 08:00 aangemeld en met haar roetine begin. Koffie vir ons drie volwassenes – wat ek in die bed gekry het! – en dan het ons vertel hoe die nag was. Om 09:00 het ek ontbyt in die bed gekry, en om 10:00 is die mannetjie gebad. Dan het sy gou huis skoongemaak en ’n paar ander dinge gedoen. Om 14:00 tot 15:00 het sy Skalk oorgeneem sodat ons ’n middaguiltjie kon knip. Wat ’n absolute luuksheid – terwyl ek hier tik, klink dit bietjie soos ’n feëverhaal! Kraamsorg is ’n diens vir elke vrou wat in Nederland geboorte gee. Sonder dat Rosaline dit geweet het, het sy kalmte en roetine na ons huis gebring. Sy is omtrent dieselfde ouderdom as ons ouers en ek het heerlik gehuil toe ons haar aan die einde van die week moes groet.

Hier is ’n oulike tradisie om jou baba se geboorte met ’n banier buite jou huis aan te kondig; ook om ’n kaartjie aan vriende te stuur met meer besonderhede oor die baba se gewig en lengte, en waarin jy hulle dan uitnooi om kraambesoek te kom aflê.

Ons Suid-Afrikaanse ambassade in Nederland het ons sommer gou ná Skalk se geboorte gesien en op 10 dae oud is sy eerste paspoortfoto’s geneem, wat die arme kind vir die volgende paar jaar sal moet gebruik! (Ek belowe hy is darem nou baie mooier as wat die paspoort foto weergee.) Daarna het die wag vir sy Suid-Afrikaanse paspoort begin. Ons was baie verras toe ons ná sewe weke die oproep kry dat die paspoort gereed is; ons het ’n paar verhale gehoor van mense wat baie lank moes wag. Natuurlik het jy dié paspoort nodig om in Suid-Afrika te gaan kuier en na ander plekke te reis.

Oupa en Ouma Odendaal het kom kuier toe Skalk ses weke oud was en dit was vir ons ’n ongelooflike spesiale tyd. Dit het my ook so bietjie gehelp om tot verhaal te kom.

Ons het natuurlik die kans aangegryp en ’n heerlike gesinsvakansie tydens ouerskapverlof beplan. Só het ons deur die noorde van Duitsland en die suide van Denemarke getoer toe Skalk maar drie maande oud was. Toe ons weggetrek het ek gewonder wat ons besiel het om met twee honde, ’n pap baba, ’n 1961-Volkswagenkombi op vakansie te gaan. Maar nou ja, ek is darem hier om dit te vertel: Dit was ’n sukses en ook baie lekker! My man het dalk ’n ekstra grys haar of twee bygekry, maar ek is seker hy sal dit ook weer aanpak.

Toe Skalk ses maande oud was, het ons die res van ons ouerskapverlof geneem en ses weke lank in Suid-Afrika gaan kuier. Ons word lekker bederf wat kraam- en ouerskapverlof in Nederland betref. Vanaf 37 weke is jy op verpligte kraamverlof; daarna het jy nog 12 weke ná die baba se geboorte en daarna nege weke wat jy in die baba se eerste lewensjaar kan neem soos wat jy wil. Jy het ook 26 weke onbetaalde verlof tot en met die kind se agtste verjaarsdag. My man het nou nie soveel verlof soos ek gekry nie, maar sy tien weke verlof was ook nie te versmaai nie!

Die meeste kinders hier gaan nie vyf dae per week na die kleuterskool toe nie, of opvang soos wat hulle dit hier noem. Jy het gewoonlik een van drie keuses: ’n gastouder (’n dagmoeder wat kinders by haar huis oppas), ’n au pair wat kom handjie bysit, of die gewone kleuterskool. Dit is algemene praktyk in Nederland vir ouers om ’n mamma- of pappadag deur die week te neem om saam met hul kinders te bestee. So het ek en my man elkeen ’n dag in die week waarop ons na Skalk omsien terwyl die ander een werk toe gaan. Op die ander dae gaan hy na die kleuterskool op die dorpie langs ons.

Ons het so lekker feesgevier met Skalk te eerste verjaarsdag – ons het ons eie boerewors gestop vir boereworsrolle, brandewyn gedrink en in Afrikaans “Veels geluk, liewe maatjie!” gesing. ’n Jaar later kan ons terugkyk en sê dit verg goeie beplanning, ’n paar aande se lekker huil en ’n meer as gereelde deurmekaar huis om ’n kind sonder jou bekende ondersteuningsnetwerk groot te maak. Maar vir elke moedelose sug is daar ’n klipharde gelag in die huis!

Ek benadruk dit seker dat ons ouers geword het in ’n land anders as ons tuisland Suid-Afrika, maar wat ’n lekker voorreg is dit nie om ’n klein mensie met wortels van Afrika in die wêreld van vandag groot te maak nie. Daar is ’n gesegde wat lui: “Twee van die beste dinge wat ons vir ons kinders kan gee, is wortels en vlerke.”

Lees ook: Huisbouavonture in Nederland

Skryf vir ons

Woon jy in die buiteland, of het jy dalk onlangs uit die buiteland teruggekeer? Jy kan ook vir ons ’n Uit en tuis-rubriek skryf. Stuur ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees. [Mening] Johannesburg...

Uit en tuis: ’n e-pos uit Hongarye

Uit en tuis: ’n e-pos uit Hongarye

Uit en tuis is ’n rubriek waarin ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar weer terug is in Suid-Afrika. Ons hoor graag van enigeen wat hul belewenisse met ons wil deel. Vandeesweek gesels ons met Yulan Love wat in Hongarye...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest