Leesvordering:

Ons wipwa-rit van emigrasie

Nov 8, 2021

deur Sumari Potgieter

Ons gesin se reis het 3 November 2018 begin toe ons laataand op die vliegtuig in Johannesburg geklim het. Ons het via Dubai na Nieu-Seeland gereis en ná die ompad het ons op 7 November in Auckland geland. Dit was ons eerste kennismaking met Aotearoa. Ons was heeltemal vodde van die reis en tydsverskil, en het deur die stappe gegaan asof in ’n droom: doeane, bagasie, huurkar, SIM-kaart, geld wissel. Ons het direk na vriende gereis en ’n paar dae oorgebly om ons voete te vind, en toe na ons nuwe tuiste vertrek: Whanganui aan die weskus van die Noordeiland.

Ons het op my visum oorgekom en ek het kort daarna by my nuwe werk ingeval as ’n staatsveearts. My man het by die kinders gebly en ons het besluit om hulle met skool te laat begin al was dit laat in die jaar. Ons kinders was toe 3 en 7. Ons het ook dadelik by die kerk ingeskakel en my man het met die sportspannetjies gehelp.

Ons het uitgereik na die plaaslike Suid-Afrikaanse gemeenskap en is oorval met gasvryheid. Ons het doelbewus besluit om ons orals in te wurm – ons het vroeg besef niemand gaan aan ons deur kom klop en ons kom soek as ons nie self ook moeite doen nie.

Sommige dae was dit baie rof. Ek was in ’n nuwe pos met nagskofte en moes weg van die huis werk, ons het in ’n motelkamer gewoon en daarna in ’n piepklein huisie ingetrek, alles en almal was nuut en vreemd. Daar was dae wat ons gewens het ons word wakker en dat dit alles ’n droom is, en dan was daar dae wat ons weer dankbaar was dat ons so ver gekom het en nie genoeg van die avontuur kon kry nie. Ons het geleer om die “roller coaster” te ry en te erken wanneer ons ’n af dag ervaar.

Ons het geleer van swart basaltstrande wat skitter in die son en brand soos rooiwarm kole, lieflike museums, Anzac en ’n vurige trots, “sausage sizzles” (moenie opgewonde raak oor Nieu-Seeland se “cuisine” nie!), vier seisoene in een dag en die wonderlike Kiwi-aksent. Nieu-Seeland het tog op baie maniere bekend gevoel – die gedeelde Britse herkoms, ’n liefde vir landbou, die buitelewe, kamp, avontuur en rugby. Daar was selfs ’n ou kanon uit die Anglo-Boereoorlog in die plaaslike oorlogsmuseum.

Ná ’n jaar moes ons vir my werk verhuis na Matamata, ’n klein dorpie in die Waikatostreek. Ons was baie hartseer om Whanganui vaarwel te roep – dit bly steeds ’n spesiale plek vir ons.

Die aanpassing na Matamata was moeiliker. Die baie veranderinge het sy tol geëis en ons het net nie lus gevoel om weer so veel moeite te doen en weer die hele proses van voor af aan te pak nie. Ons was emosioneel en sosiaal uitgeput. Toe gebeur COVID-19 en maak dit nog moeiliker om momentum te kry. Ons was wel baie dankbaar dat ons op ’n plaas kon huur. Ons het gevoel ons leef die Kiwi-droom: ons het in die middae met ons waterstewels na die melkstal gestap en vars, yskoue melk getap. Ons was omring met sagte groen heuwels, die kinders het sorgeloos fietsgery, ons het met oop vensters geslaap as ’n lafenis teen die hitte (Nieu-Seeland kan baie warm raak), ons het gestap om ons pos by die posbus langs die hoofpad te gaan uithaal. Daar was so baie sterre in die lug soos ek lanklaas gesien het.

Ek en ’n vriendin het besluit om die Suid-Afrikaners bymekaar te bring. Ons het die vroue bymekaar gekry vir kuiers, ’n Kersfees-spitbraai gereël en gesorg dat nuwe inwoners verwelkom word en ingesluit word. Ons besef dat ons mekaar se aanneemfamilie is en dat ons daar vir mekaar moet wees.

Ons geniet Nieu-Seeland baie en die land was tot dusver goed vir ons. Ek en my man spot en sê dit voel asof ons in die 1980’s geland het: pos daagliks in jou posbus (tot my kredietkaart het ’n paar dae veilig daar gelê), ’n lae muurtjie voor ons huis en die motorhek is lankal afgehaal, geen diefwering, ons stap dorp toe, die kinders ry fiets na hul maats toe, ons bring ure langs die dorpswembad deur, besoek die biblioteek gereeld en die kinders stap na die hoekkafee om lekkergoed te koop.

Maar dis ook belangrik dat ek nie ons storie deur ’n rooskleurige lens vertel nie. Daar is in ons garage ingebreek en my man se motorfiets is gesteel – kriminele en kansvatters kry ’n mens die wêreld oor. Ons mis die Suid-Afrikaanse skole se dissipline en ons mis ons Christelike waardes wat in Suid-Afrika die norm was. Ek mis die ontsettende natuurskoon en diversiteit van Suid-Afrika. Ek mis my taal, my mense. En die grootste gemis is ons familie. Dit bly ’n hartseer dat die grootouers nie deel is van die kleinkinders se grootword nie. Ons “Facetime”so gereeld as wat ons kan, maar die tydverskil en stadige internet maak dit nie altyd maklik nie. Daar sal vir altyd ’n verlange en ’n hoekie rou in my hart wees.

Ek mis my huishulp en tuinwerker. Dit is rugbreek harde werk om alles self te doen! Ons kon nie verstaan waarom die Kiwi’s se huise nie so skitterskoon en netjies is soos waaraan ons gewoond is nie, maar ná drie jaar begin ons bietjie ontspan en besef dat ons nie die heeltyd kan stofsuig en skottelgoed was nie, en soms moet mense jou maar vat soos hulle jou kry. Dit was nie maklik om rolle te ruil en die broodwinner te wees nie, en die snaaksigheid van huisman wees het ook gou by die venster uitgevlieg. My man het gesukkel om werk te vind – die arbeidsmark verskil van dit waaraan ons gewoond is en ’n bedryfsingenieur is hier ’n onbekende spesie. Hy het biltong, droëwors en boerewors gemaak om ’n geldjie in te bring, swembaddens skoongemaak en melkmasjiene gediens. Nog iets wat ek moet noem is die massiewe hoeveelheid papierwerk – daar is so baie papierwerk en vorms en administrasie om jouself as ’n burger in ’n nuwe land te vestig!

Wat ons deur die tye dra is ons geloof, ons absolute oortuiging dat ons die regte besluit geneem het, die wonderlike plaaslike Suid-Afrikaanse gemeenskap, en humor. Ons ouers se ondersteuning en gebede is ook onbeskryflik waardevol.

Ons het besluit dat ons die reis as ’n avontuur sal aanpak en is nuuskierig oor en geïnteresseerd in ons nuwe dorp, streek en land. Ons probeer oopkop bly en meer ontvanklik wees teenoor mense wat anders as ons is.

Ons werk baie hard om verlore jare in te haal – om van voor af te begin met ’n pensioenplan, weer onder te begin op die eiendomsleer, onder te begin in ons loopbane en nuwe vriendskappe te smee. Ons glo hierdie ervaring maak van ons beter, meer volronde en gebalanseerde individue. Ons weet ook ons is in hierdie wêreld, maar nie van hierdie wêreld nie en dat ons werklike ewige tuiste vir ons wag.

Meer oor die outeur

Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Onderneming in die Kollig: Meat Point Switserland

Onderneming in die Kollig: Meat Point Switserland

Wêreldwyd se Wêreldgids skep ’n suksesvolle netwerk om Suid-Afrikaners in die buiteland met mekaar in aanraking te bring sodat jy Suid-Afrikaanse ondernemings in jou omgewing kan ondersteun. Vat die kans en word deel van hierdie netwerk. Netwerke is nie net vir...

Leesgenot vir die jongspan: ʼn Boek vir Desember

Leesgenot vir die jongspan: ʼn Boek vir Desember

Hou die kinders besig gedurende die skoolvakansie! Briewe van Mieliepit Ontmoet vir Mieliepit: ’n baie pittige troetelhoender van Bloemfontein. ’n Bietjie lui (sal sy self erken), en baie lief vir gesels, skryf sy die allersnaakste briewe aan ene Liefsteling. Sy...

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Wêreldwyd vriende

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest