Leesvordering:

Onteiening sonder vergoeding

Mar 15, 2018

Ons het beslis ’n koue winter agter die rug, maar vir alle belangstellende Suid-Afrikaners oorsee was die felste tornado die parlement se besluit om die mosie te aanvaar om grond sonder vergoeding te onteien. My wêreldwye opname toon dat een uit elke drie Suid-Afrikaners wat oorsee woon baie graag na ’n stabiele, veilige Suid-Afrika wil terugkeer – maar helaas! die groot held van die sakewêreld, president Cyril Ramaphosa, het maar net weer eens bevestig dat die ANC-beheerde regering eenvoudig nie in staat is om die beginsels van ’n markgedrewe ekonomie te snap nie. Hulle blyk ook nie op die gevoel van die gewone man op straat afgestem te wees nie, waarvan 70% werkloosheid as hul grootste bekommernis aangedui het en slegs 2% aandui dat boerdery hul doelwit is. Om die gerespekteerde Economist aan te haal (vertaling):  “As die regering titelaktes opskeur, sal geen regdenkende in die Suid-Afrikaanse ekonomie investeer nie, en die ekonomie sal duik, soos Zimbabwe wys.”

Een van my gereelde pasiënte het die ekstreme gevolge beleef van ’n brutale leier wat nie twee keer geskroom het om titelaktes op te skeur nie: Josef Stalin. Dis haar aangrypende verhaal (vertaal deur AfriForum):

My Trans Siberiese Reis

Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog het Rusland al die Baltiese State beset. Op 14 Junie 1941 is die eerste van vele groepe Litouers na Siberië gedeporteer. Dit was gesinne van staatsamptenare, militêre personeel, dokters, onderwysers en diesulkes. Dit was die wreedste deportasie van almal: Minder as 40% van gedeporteerdes het oorleef. Gesinne is geskei en vele het weens dié fel omstandighede gesterf. 

Ná die oorlog was daar verskeie verdere deportasies, en my gesin is op 22 Mei 1948 gedeporteer. Die trein is uit tussen 40 en 50 veewaens van verskillende groottes bestaan; ons s’n was een van die groteres. Mense se besittings is op die vloere opgestapel met mense wat daarop gesit het. Daar was klein openinge aan die bokante van die waens en jong kinders het op die bagasie geklim om na buite te probeer loer. Daar was seker sowat 80 mense in ons wa. Aan die begin is daar geen kos aan ons gegee nie, maar later is kos wel voorsien, hoewel baie min. Die volledige treinreis van Litoue tot in Siberië het ’n maand geduur. Soms het die trein by stasies gestop sodat mense die toilette aan die kant van die treinspoor kon gebruik. Die haltes het soms ’n halfuur gehou, soms veel langer. Plaaslike mense het soms hul plaaslik verboude kos kom ruil vir die gedeporteerdes se besittings. Voorbeelde sluit ingelegde agurkies, kool of sampioene, maaskaas en melk. Die Litouers het met klerasie gesmous. Ons is natuurlik deurgaans deur gewapende wagte vergesel. Toe ons die Oeralgebergtes (by Jekaterinburg) bereik, is ons na ’n massiewe badhuis geneem waar mans en vroue geskei is, ons kaal uitgetrek het en toegelaat is om te was. Al ons klere is saam gestoom en toe terugbesorg, hoewel ek twyfel of almal hul eie klere teruggekry het. Ons reis het in Taishet in die suide van Siberië geëindig, twee dae se reis voordat ons die Baikalmeer bereik het. Ons is toe met trokke sowat 80 km in die taiga (ongerepte dennewoude) ingeneem. Hier is sommige gesinne deur die plaaslike inwoners gekies om op die plase en ander werksplekke te werk, maar omdat ons gesin soveel klein kinders gehad het, is ons en ander soortgelyke gesinne nie hier geplaas nie. Ons is verder in die wildernis ingeneem waar dinge heeltemal ongeorganiseerd was. Die behuising hier wa sin barakke wat voorheen vir Russiese gedeporteerdes in die 1930’s gebruik is. Ons gesin het ’n kamer van miskien 6 m2 gehad, met ’n steenstoof in die hoek van die vertrek. Daar was my ouers (beide 45 jaar oud) en ons vyf kinders, tussen vyf en 12 jaar oud (ek was vyfjarige). Kleiner gesinne moes dieselfde grootte vertrekke deel. Ons het vir ses jaar daar gewoon. In die winter is die vensters heeltemal toegeys en gereeld ook toegesneeu. Ons moes 2 km skool toe loop. Ons het meestal aartappels geëet, en ons het gereeld diere (’n varkie, kalf en hoenders) in ons enkel vertrek aangehou in die koudste deel van die winter toe hulle nog jonk was.

Die winters was uiteraard koud, maar ongelooflik mooi. Die lewe was moeilik vir ons ouers, maar ons jonger kinders, wat nie van beter geweet het nie, het dit gelate aanvaar. Almal van ons moes van ons dertiende jaar af in die drie maande van die somervakansie werk. Laerskooluse was tussen 8:00 en 12:00 en hoërskool tussen 8:00 en 13:00, miskien 14:00 – ses dae ’n week. Kort ná Stalin se dood is ons toegelaat om na Litoue terug te keer, maar nie na ons oorspronklike woongebiede nie. My pa het besluit dat ons in Siberië agterbly totdat ons skoolopleiding voltooi is. Ons is in 1954 toegelaat om na Sujetiha te trek, waar daar beter werksgeleenthede en skoolvooruitsigte was. My gesin het in 1965 na Litoue teruggekeer, hoewel my oudste broer agtergebly en later getroud is, en waar hy in 2016 dood is. My ander broers en susters leef nog.

Ná die Litouse onafhanklikheid in 1991 is ons oorspronklike huis en grond aan ons teruggegee. My ouers was teen daardie tyd reeds oorlede en my broers en susters wydverspreid. Ons houthuis was in ’n erge staat van verval. Dit was ’n lang hut, en ek het die ergste deel daarvan laat afbreek en herbou. Ons gebruik dit nou as ’n vakansiehuis (ek gaan binnekort soontoe). Die grond word aan ’n plaaslike boer verhuur.

Aldona Waterman

Die 1941-deportasies was die ergste, want die Russe wou van alle moontlike rebelle ontslae raak wat glo anti-Sowjet-sentimente gehad het – uitsluitlik weens hul sosiale stand, politiese affiliasies en geloofsoortuigings.

Ná die vernietigende oorlog moes mense in Siberië gaan werk, wat, die fel klimaat ten spyt, ryk is aan natuurlike hulpbronne. Stalin het dus as deel van die nasionaliseringsprogram  op privaat eiendom beslag gelê en mense as gratis arbeiders na Siberië gestuur.

Daar word beraam dat 130 000 mense in totaal gedeporteer is, waarvan 70% vroue en kinders was. Dié syfer sluit egter nie die 150 000 politieke gevangenis in wat na die goelag-gevangenekampe gestuur is nie.

Aldona het my vertel dat sy eers op 11-jarige ouderdom elektriese ligte gesien het. Daar was geen dokters of hospitale nie, slegs ’n verpleegster aan die anderkant van die rivier. Hulle het hul eie groente verbou en het op hul eie vee staatgemaak. Sy sien hierdie tydperk egter vandag as ’n waardevolle lewensles, want sy was te jonk om al die weemoed te kon herken.

Pieter de Lange

Meer oor die outeur

Pieter de Lange

Ek is in Kroonstad gebore neffens die rustige ou Valsrivier en matrikuleer aan die Hoërskool Kroonstad in dieselfde era as skrywers soos Antjie Krog en Max du Preez. Ek studeer op Tukkies, speel o.19-rugby vir hulle en boks vir die SA Universiteitespan, waarna ek Protea-kleure in dié sport verwerf. In 1974 begin ek in Londen praktiseer, word deur die Ferrari-gogga gebyt en keer ná drie jaar na Pretoria terug met ’n rooi Ferrari Boxer. In 1981 trou ek met Mariaan en ons verhuis Londen toe vir 18 maande. Ek begin in 1990 met ’n MBL-kursus en geniet die navorsingsprojek die meeste, en kry tot my verbasing die hoogste punte. Ek skryf baie artikels oor SA se Olimpiese bod vir die Sunday Times, Beeld, Business Day en Rapport. Ek publiseer ook my Olimpiese boek The Games that Cities Play, wat voorgeskryf was vir BA MBK (Menslike Bewegingskunde) asook B Com Sportbestuur se eerstejaars, (Sportgeskiedenis en Sportfilosifie) studente by Tukkies, vir 1999 tot 2003. In 1999 verhuis ons sak en pak Londen toe met ons kroos René, Christiaan en Simon. Ek begin ’n navorsingsprojek oor oorsese Suid-Afrikaners en skryf ’n reeks artikels vir The South African. Ons sien die wêreld saam met ons kinders, van ’n ysige St. Petersburg tot die snikhete Rooisee in Egipte. Ons het nou ’n pragtige kleinseun Arlo en woon in Kent, waar ek steeds praktiseer en gereeld aan parkwedlope deelneem om die ou karkas aan die gang te hou.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Onderneming in die Kollig: Ipixel web & graphic solutions

Onderneming in die Kollig: Ipixel web & graphic solutions

Hierdie week se kollig is op Ipixel web & graphic solutions in Nieu-Seeland. Ipixel web & graphic solutions is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom om...

Natuurhoekie – Groot ontdekking in die Karoo

Natuurhoekie – Groot ontdekking in die Karoo

Deur Alana Bailey Sommige mense vrees hulle, ander hou hulle as troeteldiere aan … hoe dit ook al sy, spinnekoppe bly merkwaardige kreature. Sover ons kon vasstel, is daar 71 spinnekopfamilies, 471 genera en meer as 2 000 spesies in Suid-Afrika bekend. Omdat hulle in...

’n Feesjaar vir Afrikaans – wees deel van die vieringe!

’n Feesjaar vir Afrikaans – wees deel van die vieringe!

Op 8 Mei 2025 sal dit presies ’n honderd jaar wees wat Afrikaans al Suid-Afrika se amptelike taal is. Om hierdie besondere mylpaal te herdenk, word ’n feesjaar beplan wat op 8 Mei vanjaar (2024) gaan begin. Ons wil jou graag nooi om deel van die vieringe te wees. Met...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest