Leesvordering:

Onthou van hierdie twee dinge as jy sonder sukkel wil tuisskool

Mei 5, 2020

Ons wil suksesvol wees en ons kinders op die beste en vinnigste maniere laat leer.

Daar is twee baie belangrike beginsels om mee rekening te hou as jy wil weet hoe leer mense, en veral kinders, vinniger.

1. Hoe jy voel

Almal weet dat mense anders optree as hulle gelukkig voel as wanneer hulle miserabel voel.

Wat jy dalk nie weet nie, is dat iemand se emosionele toestand ʼn kragtige effek het op hulle vermoë om:

  • iets te herroep, met ander woorde om te onthou wat hulle reeds geleer het
  • gebruik te maak van kennis wat hulle reeds verwerf het

Dink aan ʼn vak wat jou dom laat voel. Sal jy meer of minder waarskynlik goed vaar in daardie vak as jy aanhou om dom te voel? Jou gemoedstoestand bepaal tot watter paadjies van jou brein het jy toegang. Daarom is dit so verskriklik belangrik dat ons seker maak ons kinders is gelukkig, het selfvertroue, voel geliefd en aanvaarbaar.

Ek dink Langenhoven sê dit die beste:

Ons moet die swaarkry met lekkerkry klaarkry.

Maar, as jy probeer om die gekanselleerde Klein-Karoo-Nasionale-Kunstefees van 2020 op jou eentjie te vervang en jou kinders dag in en dag uit probeer vermaak, gaan jy uitbrand. Nee, ek praat van ʼn oorhoofse houding teenoor leer.

Hier is drie stukkies raad wat ek het sodat jy tuisonderwys altyd met die beste moontlike gesindheid aanpak:

1. Marisa se wet

My beste raad is dat mens gereeld werk, maar dit vir baie kort, haalbare tydjies doen.

Hier is Marisa se wet vir leer: Bietjie werk + elke dag = reuseresultate

2. Emosies waai oor

As jy een dag moedeloos voel oor tuisskool, is dit nie te sê dat jy volgende week nog steeds moedeloos gaan voel nie. Hou rekening met die kortstondige aard van emosies. Moenie so baie waarde aan hulle heg nie. Hulle waai oor. Nog ʼn ding: begin elke dag op ʼn nuwe blaadjie. Moenie gister se gesukkel oordra na vandag toe nie. Herinner jouself daaraan dat jy elke dag die wonderlike kans het om oor te begin.

3. Wat is die positiewe emosie wat jy wil hê?

Ja, ons het gesê mens leer makliker as jy ʼn positiewe gesindheid teenoor leer het. En dit geld vir jou en jou kind. Maar moenie verwag dat die emosie altyd “geïnspireerd” gaan wees nie. Speel ook ʼn bietjie rond met emosies soos “oopheid” of “nuuskierigheid”. Hierdie emosies gaan jou beter dien as Boetie of Sussie dikbek is as hulle byvoorbeeld agteruit moet leer tel. Dis ʼn herhaal-takie, vervelig en nie so opwindend nie.

Wees net opreg geïnteresseerd in jou kind se reaksie. Moenie dink dat dit ʼn refleksie op jou is nie. Kyk met nuuskierigheid na die weerstand wat jou kind teenoor sekere leertake het.

Vra jouself dan af:

  • Hoe kan ek op hierdie oomblik my kind die beste dien?
  • Wat het my kind nou van my nodig?

Dalk is ʼn dit geval van meer pret. (Spring op die wipmat terwyl jy tel, is altyd ʼn goeie idee). Miskien is dit net meer geduld of vasberadenheid. Onthou, jou kinders leer meer van jou voorbeeld as van enige ander ding.

2. Mislukking is ʼn voorvereiste tot sukses

Ek hou baie van hierdie aanhaling van Mark Twain:

As mense leer loop en praat het op die manier waarop hulle geleer word om te lees en te skryf, was almal kruppel en het gehakkel.

Wat bedoel hy? Wel, stel jou voor twee ma’s sit en kyk hoe hulle tweejariges op hulle pokkelbeentjies rondloop en hulle haal hulle notaboeke uit en vergelyk hulle kinders se vordering.

Die eerste ma sê: “Ek is so trots op Jannie, want hy het net 3000 keer geval voordat hy kon loop.”
Die tweede ma sê: “Dis nog niks nie, ek is so trots op Annie, want sy het die klank s net 700 verkeerd uitgespreek voordat sy dit kon sê.”

Dit is absurd. Ons hou nie tred van al die kere wat kinders val of klanke nie reg uitspreek nie. Ons weet immers daar is nie ʼn manier waarop ʼn kind kan leer loop of leer praat sonder om aanmekaar te misluk nie.

Hoekom dra ons hierdie insig nie net so oor na leer lees en skryf nie?

En uiteindelik na alle leer toe?

Die oomblik wat ons besef dat elke mislukking net ʼn frustrerende trapklip op die pad na sukses toe is, verloor “misluk” sy hele negatiewe lading. Dink aan pannekoekbak. Die eerste ene is altyd ʼn floppie, reg? Wel, jy is besig om jou kind meer te leer as pannekoekbak. Wees gereed dat daar BAIE floppies gaan wees.

Mag jou week in die grendelstaat geseënd en gesond wees. Wat Vlak 4 ookal mag beteken.

 

Marisa Haasbroek is ’n bekroonde Afrikaanse skrywer, maar ook ’n tuisskoolma wat gereeld in Afrikaans blog. Sy en haar gesin bly in Amerika. Om haar verlange na Afrikaans en Suid-Afrika te besweer, het sy Afrikaanse aanlyn kursusse ontwikkel, sommige oor taal en skryf, ander oor hoe om suksesvol te tuisskool. Sy hoop om dit só vir Afrikaanssprekendes die wêreld oor makliker te maak om aan te hou om vir hulle kinders Afrikaans te leer. Sy glo kennis van Afrikaans bied vir ons kinders ’n venster op Europa, want as ’n mens Afrikaans kan lees, kan jy taamlik maklik ook Nederlands leer lees. Meer inligting by oolfant.com

Meer oor die outeur

Marisa Haasbroek

Marisa Haasbroek, wat in Amerika bly, is ’n skryfster, tuisskoolbegeleier vir ma’s in Suid-Afrika en ook ’n lewensafrigter of life coach. Volg haar op Instagram by @risa4coaching.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest