Oom Herrie se lekkerste jaar was toe hy as sewejarige kind saam met sy gesin ’n bykans sorgelose jaar in die VSA deurgebring het. Minder as twintig jaar later het hy probeer uitpluis wat de ongeluk hy destyds in Amerika moes aangevang het dat die VSA hom ʼn visum geweier het. Dít het gebeur toe hy vir sy ma, wat toe met die uitgeweke Suid-Afrikaner en Afrikaanse digter, Barend J. Toerien getroud was, op hul plasie buite Kerhonksen 100 myl noord van New York, wou gaan kuier. Na ’n groot gedoente is hy darem met ’n verkorte visum VSA toe.

Oudste het gisteraand uit die Kaap gebel, sy stem bewe liggies. “Weet pa dalk of Jon Nichols oorlede is?” Pa weet nie, maar pa sal probeer seker maak. Ja, Jon Nichols is inderdaad oorlede. Sy Facebookblad laat geen onduidelikheid daaroor nie.

Ouboet het Jon eerste van ons almal leer ken. Kort voor oudste sy landbougraad verwerf het, is sy destydse lewensdroom onder sy voete uitgeruk toe hy agterkom sy droom-werksaanbod bestaan nie meer nie.  Sy klasmaats weet almal waar hulle gaan werk, meestal by hul ouers op die plaas. Ek het nie ‘n plaas nie, en my hande is taamlik afgekap. Al genade, na ’n stroom werksaansoeke niks opgelewer het nie, is om ’n honneurs te doen.

Maar oudste se hart is uit hom uitgeruk. Dis toe dat ek hom vra of hy nie sou belangstel om navorsing te doen oor die moontlikheid om die beefalo in Suid-Afrika te vestig nie? Eers wil hy weet wafferse soort ding ’n beefalo nou is. “Dis ’n kruising tussen ’n bees en ’n Amerikaanse buffel, of te wel, die bison. Pa het jare gelede in die Landbouweekblad daarvan gelees.”

Oudste stel geweldig in beeste belang, en hy pak die onderwerp met ’n passie. Hy e-pos die VSA vol, en so verskyn Jon Nichols, ’n beefalo-man van Washingtonstaat, naby Oregon op die toneel. Hoed op die kop tussen die beefalo’s lyk hy nes ’n lang skraal cowboy. Amper op ’n haar na soos oud-pres, CR Swart wat in sy jong dae in ’n Amerikaanse rolprent ’n cowboyrol losgeslaan het.

Ek het my verstom oor dié man wat so vriendelik en hulpvaardig na die jong Suid-Afrikaner uitgereik het. Jon, ’n paar jaar my senior, het bykans niks ontsien om die jong man se aandag vasgevang te hou nie, en mettertyd het sy trauma die wyk geneem. Ek het gehelp waar ek kon, en nie lank nie, toe is ek en Jon goeie vriende. Onder die vele dinge wat ons gemeen gehad het, is dat hy ook ’n draai in Kerhonksen gemaak het. Hy was daar by ’n radiostasie betrokke, terwyl die uwe self by wyle Radio Hoogland en Radio Rosestad betrokke was.

Mettertyd begin die foto’s van sy gesin, en veral sy kleinkinders, opdaag. Die een kleindogter, River, se ouers woon naby en is gereeld haar oupa se oogappel op die plaas.   

Hy ken heelwat oud-Suid-Afrikaners wat in die VSA gaan aanpas het, en ’n paar huisvriende het onder hulle getel. Na een laat glip het van die Krugerrande wat hy saam VSA toe geneem het, skynbaar gesmokkel, het hy skynbaar geglo elke Suid-Afrikaner in die VSA het toegang tot ’n aansienlike neseier van Krugerrande.

Op ’n dag het hy ’n versoek. ’n Klompie jare tevore het hy en vroulief Suzanne by Afrikaanse vriende geëet, en daar was ’n besonder lekker Suid-Afrikaanse gereg. “Do you perhaps have a recipe in English for something that sounds something like booboothi?” Die vriende het sedertdien verhuis, resep en al, en hulle het kontak verloor.

Ek is nie ’n reseptemens nie, maar op Google is daar resepte in Engels te kies en te keur. Van heel matig, tot sterker tot iets wat niks anders as ’n vlammende hel kan wees nie. Ja, dit blyk dat na Columbus Amerika herontdek het, het die Indonesiërs nie gras onder hul voete laat groei om hul boboties met rissies uit Suid-Amerika nog vuriger te maak nie. Daar is verskillende spesies rooi rissies, en die sterkstes onder hulle is ’n belangrike bestanddeel in die ding wat die misdaadgeteisterde Suid-Afrikaners as “pepersproei” ken. Eintlik is die regte Afrikaans daarvoor sjoe-sjoe Rooirissie bl*&^mse sproei. Ek het dit self jare lank verkoop. Van die make is so flou dis eitlik maar miggiepiepie. Moenie iets koop wat swakker is as tien persent capsicum nie, en as dit kan, 16 persent. As die persentasie nie op die kannetjie staan nie, donder tog die verkoopsman want hy stel jou lewe in gevaar.

Kort hierna is ek met twee kankers gediagnoseer, en toe ek vir Jon inlig, kom hy met die sak patas uit dat hy self al ’n ruk vir een van my kankers, prostaatkanker, behandeling kry. Nogal dieselfde soort behandeling.

Hy plaas my dadelik op die gebedsgroep waarvan hy lid is se gebedslys. Kort-kort herinner my dat daar is ’n klompie Indiane lid van die groep is, en dit blyk later hulle het tradisionele gebruike wat vir hom aan die vreemde kant is. So vergelyk ons vordering. Later is hy gesond – ek nog ’n ent agter, en boonop looi ’n ander kanker my ook van die kant af. Die booboothi raak vergete.

Toe dit tot my deurdring dat Jon regtig heengegaan het, skiet herinneringe my in – die lang, skraal cowboy met die besondere humorsin, wat hom met sy enorme kennis oor ‘n jong boertjie in Suid-Afrika ontferm het, en van die jong man een van die groot beefalo-kenners in die wêreld gemaak het, die VSA ingesluit.

En as die eerste reggeteelde beefalo-kuddes wat tegelykertyd hitte- en kouebestand is, alles vreet en vet word daarvan, wat ’n klein kalfie het maar gou-goue die gewone beeste in- en verbygroei, wie se vleis jaar vir jaar die Amerikaanse beefbraai-kompetisies wen, eers in Suid-Afrika posgevat het, dan wei ‘n monument soos min vir Jon Nichols op die Suid-Afrikaanse plase.

Foto: Bold Venture, een van Jon se suksesvolste beefalo-bulle.

Herman Toerien
Herman Toerien
Herman Toerien is ’n vryskutskrywer en politieke en staatkundige navorser van Bloemfontein. Hy skryf Maroela Media se daaglikse nuuskommentare en een keer per week ook dié van Pretoria FM, hy skryf Ruimtenuus vir RSG se gewilde program, Sterre en Planete, en onder sy wetenskaplike artikels en berigte tel verskeie oor outisme (sy jongste seun is outisties) en kanker, nadat hy meer as vier jaar gelede met twee soorte kanker gediagnoseer is. Verskeie van sy artikels is al in die publikasies van die GKSA (Doppers) en die NHK (Stoepsitters) gepubliseer. Hy was voor hy siek geword het ’n gereelde panneellid van RSG se program Kommentaar. Hy is getroud met Joan, ’n plaasmeisie van Bethlehem en ook ’n opgeleide onderwseres. Sy oudste seun, Nic, is ’n plaasbestuurder en hy en sy vrou, Leandri, woon op ’n vrugteplaas buite die Paarl. Sy jongste, Jandré, is ’n outistiese kunstenaar wat skilder, maar veral bekend is vir sy keramiekwerk.

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest