Die Londense moltreinstelsel of “die tjoeb” soos ons plebs hom roep: Onontbeerlik, dog sielsverwoestend. ’n Parallelle heelal waar slegs een reël geld: daar geld geen reëls nie.

As ’n veteraan van ’n geskatte 7 000 ritte op hierdie noodsaaklike boosheid het ek nou al net mooi álles gesien – en in die proses genoegsame kennis opgedoen om ’n insiggewende gids vir die meer onervare pendelaar saam te stel. So, hier gaat ons … Of, soos ons in tjoebtaal sou sê: “This train is ready to depart. Please stand clear of the closing doors.”

Die tjoeb is ’n broeiplek vir siektes. Verkoue, griep, herpes, vigs … noem maar op. Sou jou gesondheid dus vir jou ’n prioriteit wees, behoort jy seker te maak dat jy jou kneukels gebruik om die knoppies op die kaartjiemasjiene en treindeure te druk.

Indien jy ’n handsak met jou saamdra, maak seker dat jy jou kaartjie byderhand het wanneer jy die toegangshekke nader. Moenie wag totdat jy rég voor die geel kaartleser tot stilstand kom om eers dán naarstigtelik tussen slymerige snesies, bosse sleutels en verspilde Tic Tacs daarna te begin soek nie. Jou tydsverkwisting sal jou ten beste ’n vuil kyk op die hals haal en ten slegste ’n kopstamp tussen die skouerblaaie.

Kyk wyd uit vir die moltreinmaaifoedie – daardie verskoning vir ’n mens wat ná jou op die platform aankom maar met slinkse bedrewenheid vóór jou indruk om die laaste sitplek op die wa te bekom. Moenie dit toelaat nie. Staan jou man. Klap hom, trap hom, têkkel of trip hom – wát dit ook al mag verg. Moet nét nie dat hy wegkom met sy onderduimshede nie.

Wanneer jy eers jou sit gekry het, wees tog bedag op die denkbeeldige skeidslyn tussen sitplekke. Posisioneer jou elmboë ferm aan die binnekant van die armleuning om só enige potensiële konfliksituasie te vermy. Indien jy jou egter aan die ontvangkant bevind van iemand wat aan ’n gebrek aan spasiëringsbewustheid ly, gee hom gerus ’n ligte elmboogpompie om hom op sy onbedagsaamheid te wys. Volg dit egter altyd op met ’n “Sorry, mate”, en gee voor dat dit ’n onskuldige foutjie aan jou kant was. Hy sál die skimp vang.

Indien jy, soos ek, ’n trotse man is, sal jy dalk moeite daarmee ondervind, maar veg te alle tye teen die instink om jou met oop ketels op ’n sitplek neer te plak. Onthou, jou kniekoppies teen die persoon langs jou s’n mag dalk net die indruk wek dat jy met ’n subtiele flankering doenig is, en dít mag heel moontlik in jou gesig ontplof. Indien jy ’n lid van die skoner geslag is, hou ook maar jou bene toe – vir voor die hand liggende redes.

Wees gewaarsku: Sommige vroue beskou ’n tjoebwa as ’n plaasvervanger vir hul badkamers. Die trein het skaars uit die stasie vertrek of die grimeersakkie word te voorskyn gebring. Probeer om nie te staar nie. Dink eerder aan hoe baie haar oogbal op haar maskarastokkie na ’n olyf op ’n tandestokkie sal lyk indien die trein skielik tot stilstand sou ruk. En wees dankbaar dat “ma’am” haar toonnaels ten minste by die huis geknip het.

Op die tjoeb kry mens soms die gevoel dat iemand besig is om jou koerant oor jou skouer te lees, en daardie gevoel is gewoonlik reg. Moet jou egter nie hovaardig hou en die koerant van só ’n persoon wegdraai nie. Vra eerder die oor-die-skouer-loerder om die ander kant van jou koerant vas te hou sodat julle saam-saam die hoofberig kan bestudeer. Die belangstelling in jou leesstof sal nie veel langer voortduur nie, synde enigiemand wat ’n geselsie met ’n vreemdeling op die tjoeb aanknoop as geestelik versteurd beskou word.

Geen troeteldier van welke beskrywing ook al betaal vir ’n tjoebkaartjie nie. Indien die laaste sitplek op jou wa dus deur Rex, Rover of Socks beset word, stap doelgerig op woefie af, staan voor sy sitplek en kyk stip in sy baas se oë. Die meeste troeteldiere in Londen het beter maniere as hul eienaars en sal hul sitplekke onverwyld ontruim om ’n situasie te vermy.

Die sitplek naaste aan die deure is ’n “priority seat” wat vir oumense, vroumense, kinders en krankes uitgehou word. Jy’s welkom om só ‘n sitplek warm te hou, maar sodra ’n vrou met ‘n “Baby on Board”-lapelwapen verskyn, beter jy vinnig dié sitplek ontruim. So gou soos nou en sonder énige vrae. En sou jy, vasgeknyp tussen Graanvlokkieman (die een met die skilfers) en Grafasem, opmerk dat die sitplekdief se magie gans te plat is vir iemand wat veronderstel is om swanger te wees, moenie dink dat jy om die bos gelei is nie. In Londen is eerlikheid die wagwoord, en niemand sal so agterbaks wees om ’n swangerskap te versin net om ’n voorkeursitplek te kan bekom nie (kug-kug!).

Indien die pendelaar neffens jou ’n kosblik met gisteraand se oorskietkerrie te voorskyn bring, moenie ’n gek van jouself maak en geanimeerd die stink walms voor jou neusvleuels probeer wegwaai nie. Vra hom eerder met groot entoesiasme uit oor die bestanddele wat hy daarin gebruik het. Vertel hom van jou passie vir kerrie en dat jy ’n geestelike eenheidsgevoel teenoor enige ander kerrieliefhebber koester. Jou kerrie-etende vriend sál by die volgende stasie van sitplek verander. Om die waarheid te sê, sal hy van tréin verander – en jou reukbesoedelingsprobleem sal iets van die verlede wees. Voila!

Jy sal jou vroeër of later teen die iPod-pendelaar vasloop, en jy sál geïrriteerd raak met die blikkerige tss-n-tss-n-tss wat uit sy oorfone uit opklink. Haal diep asem, tel tot by tien en laat dit gaan. Dis nie die moeite werd om jouself daaroor te verknies nie. Dis die ou sónder die oorfone uit wie se selfoon rap- en hip-hop-klanke opklink vir almal om te hoor, vir wie jy éintlik jou mes moet inhê. Gaan neem stilweg stelling langs só ’n persoon in, en val dan in jou beste operastem weg met ’n luidkeelse weergawe van O Sole Mio. Indien hy sou protesteer, vra om verskoning en voer aan dat jy aangeneem het dat julle met ’n wederkerige musiekwaarderingsessie besig was.

Om in Afrikaans te skinder, veral op die distrikslyn tussen South(Africa)fields en Wimbledon, kan in ’n gevaarlike waagstuk ontaard. Moet nooit dink jou verleenthede in die Slug And Lettuce is eksklusief vir jou reisgenoot se ore beskore bloot omdat dit in die Taal aan hom oorgedra word nie. Voor jy weet, lees ons weer in Rapport van die gefuifery onder Londense Afrikaners en hoe ons soos wellustige dronkaards tekere gaan – met jóú naam in die opskrif.

Namate jy jou bestemming nader, sal die wa waarop jy jou bevind stelselmatig leegloop. En soos wat daai Murphy-ou vasgestel het, sal dit eindelik net jy en die ou in die sitplek rég langs jou wees wat in julle wa oorbly – ’n sosiale situasie wat ’n raps ongemaklik kan raak. Moet egter nie huiwer om jou uit die voete te maak en op ’n ander plek te gaan sit nie. Jy is nie daar om ander mense se gevoelens in ag te neem nie en sal trouens die respek van jou medependelaars inboesem indien jy jou gedra soos ’n ongepoetsde deugniet wat niemand se belange behalwe jou eie op die hart dra nie.

So, daar gaat jy. Nou beskik jy oor meer as genoeg kennis om van elke tjoebrit ’n plesiertog te maak. Gaan dan heen en gaan wérk die London Underground se gal vir hom. This train terminates here.

Besoek gerus Fanie se webblad, Fanie Os Oppie Jas, en sy Facebook-blad, Fanie Os Oppie Jas: howzit my China.

Hierdie artikel is ook beskikbaar in: English

Fanie van der Merwe
Fanie van der Merwe

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest