Leesvordering:

Oos Wes Tuis Bes

Mei 10, 2022

Deur Pieter de Lange


Ná drie lang Covid-jare, kon ons weer teruggaan Suid-Afrika toe vir ’n lang vakansie. Ons was baie opgewonde oor die vooruitsig, maar ook ’n bietjie huiwerig. Hoe lyk dinge ná die wydverspreide en vernietigende, onlangse onluste, net ’n paar maande terug? Dit het amper op ’n stadium gelyk of daar niks gaan oorbly nie. Ons het vinnig die negatiewe gedagtes opsy gesit en ernstig begin planne maak om al die naby familie en vriende te sien. Ons mense is wyd versprei en ons het meer as 4 500 kilometers gery deur vyf verskillende provinsies en twee binnelandse vlugte gevat om almal te bereik. 

Ons het afgeskop in Pretoria, waar ons by familie gebly het in Wierdapark en ek het my eerste ernstige steak van die vakansie by Buffelsfontein Boereplaas in Menlopark aangedurf saam met Sue-Ann en Alana. Die stuk vleis wat in ’n skroef of “vice” bedien is, was uitstekend, maar ek kon dit nie op een slag baas raak nie. So dit was eintlik twee etes in een. Die res van die spyskaart het ewe interessant gelyk.

Laeveld roep

Daar is altyd so ’n spesiale opgewondenheid wanneer mens die pad Laeveld toe aandurf. Ons was die slag bevoorreg om die ou wêreld op sy mooiste te sien, ná die milde reën. Ons het gemik vir Mjejane, ’n privaat oord op die Krokodilrivier waar ons vir ’n paar dae tuisgegaan het met ons Hatting-familie van Kroonstad, Quartus en Martie. Dit was heerlik om elke dag in die pragtige swembad te baljaar. Daar is ook ’n buiteluggimnasium met gesofistikeerde toerusting, wat net so skynbaar ongebruik in die son en reën staan. Heerlik gekuier, net las van die ape gehad. Die groepie ape het sommer op die tafel gespring waar ons gesit het en een van hulle het sowaar my stuk beskuit gegryp, toe gooi ek my warm koffie op hom as ’n refleksaksie. Hulle het toe vinnig laat spaander.

Konsternasie op Krokodilbrug

Daarna is ons na Croc Bridge Lodge toe, sowat 50 meter van die Krugerwildtuin se grens af. Ons was bly om uiteindelik by die oord uit te kom, want ons het twee jaar gelede al die deposito betaal, voor alles so toegemaak het. Die gerieflike chalets kyk op die Krokodilrivier uit en ons is elke middag besoek deur ’n olifantbul wat rustig langs die draad op die oewer van die rivier geloop en wei het. Dit was maklik om hom te herken want sy een tand het na bo gewys en die ander een het ’n duidelike kurwe na onder gehad. Ons was een middag op pad terug van ’n rit in die wildtuin toe ons sien dat die motors op Krokodilbrug tot stilstand gekom het. Die oorsaak was ons olifant met die op en af tande. Die ou bul was op die verste punt van die brug, waar hy rustig begin stap het en die brug betree het. Die voorste motor was in ’n penarie, want dis ’n smal brug en wanneer die groot gedierte op jou afkom, dan wil jy padgee. Maar ongelukkig was die brug nou al vol motors en die mense agter het natuurlik nie dadelik kon uitpluis wat aangaan nie. Die ou reg voor ons se vrou het eers beangs geskree, “Go back,” en toe dit nie werk nie het haar gade, rooi in die gesig, dieselfde gedoen. Ná ’n paar lang, angsvolle minute het die dringende boodskap geleidelik deurgedring na die agterste voertuie toe en hulle het begin om agteruit te ry. Die olifant het geduldig gewag tot die brug skoon was, voor hy ’n negentig grade draai gemaak het, en weer sy gewone roete parallel aan die rivier voortgesit het. Mens kan nie anders as om te dink dat hy ’n speletjie met die angstige motoriste gespeel het nie.

Pragtige Tradouw-pas

Ná die wildtuin het ons afgevlieg George toe, waar ek tyddeel op Sedgefield kon gebruik. Daar is vir ons so baie herinneringe in die Suid-Oos-Kaap dat ons eintlik langer as ’n week nodig het. Ons het weereens na die unieke Birds of Eden naby Plettenbergbaai toe gegaan en ’n heerlike oggend daar deurgebring. Lekker swem by Buffelsbaai is ook altyd hoog op ons agenda en dan stop ons sommer vir ’n vinnige ete by Riverdeck op pad. Ons kon ook darem ons familie op George en vriende op Brenton sien. 

Daarna het ons afgery Kaapstad toe, wat op sigself ’n avontuur was, waar ons in die Strand tuisgegaan het. Ons was op die gewone roete Kaapstad toe, wat van Mosselbaai oor Albertinia en Riversdal gaan, toe ons ’n aanwysing vir Barrydale sien. Ek het onthou dat een van my pasiënte pal van hulle plekkie op Riversdal gepraat het en my vertel het hoe hulle nie kan wag om daar te gaan aftree nie. Sy is ongelukkig toe oorlede, ’n paar maande voor ons vakansie. Toe ek die naam Barrydale sien, het ek dadelik vir Mariaan gesê ons moet gaan kyk hoe lyk dit daar. Ons draai toe by Heidelberg af en beland op ’n treurige grondpad, vol dongas, wat lei na Barrydale. Dit het soos ’n ewigheid gevoel voor ons weer teerpad gekry het en deur die Tradouw-pas begin ry het. Ons koppe het gedraai en ons monde het oopgehang van verwondering oor die manjifieke uitsig. Skouspelagtige berge, rotse en klowe, dit gaan net aan en aan. Ons was skoon moeg toe ons Barrydale binnery. Eers die aaklige grondpad, toe die pragtige pas. Barrydale is klein maar kleurvol en vriendelik. Koffie en kuier was aan die orde van die dag. By die laaste plekkie was ek al so ontspanne dat ek nie die motor gesluit het nie en sommer net die ruite ook oopgelos het. Die eienaar van die pizza- en microbrewery-plek het ons vertel dat hulle gewoonlik baie besigheid kry van busse vol toeriste wat op die R62-roete van die Kangogrotte op pad is Kaapstad toe, maar dat dit die laaste tyd baie stil was. Daarna het ons via die geskiedkundige Montagu en Swellendam na die Strand toe gery. 

Strand Pawiljoen

Ons het soos eregaste hier gevoel met ’n pragtige drieslaapkamereenheid met ’n wye uitsig oor die strand en diepsee. Weereens gekuier dat die “bloed loop” – daar is so baie mense wat ons van Gauteng ken, wat nou in die Wes-Kaap woon. Ons vriende wat in Kiyv gewoon het, het nou in die Strand afgetree. Iaan, wat die ambassadeur in die Oekraïne was, is nou in aanvraag om kommentaar of praatjies te gee, as gevolg van sy kennis oor die Oekraïne en die omliggende lande. Deur die Bassons het ons weereens ’n lekker eksentrieke eetplek ontdek, by name Jam and Pyjamas. Ons het die Sondag heerlik by my Van der Vyver-familie in Constantia gekuier, hulle is nou Modenas en Wrights, maar vir my is hulle nog die Van der Vyvers. Ons het ook na Boschendal-wynplaas toe gegaan, waar Dominique, een van die familielede, ’n wynmaker is. 

Maputaland

Vandaar Durban toe gevlieg, om eers op te ry na die Tembe Olifantpark, naby die Mosambiek-grens, saam met Mariaan se broer Kobus. Die rit noorde toe het al wilder al hoe verder gevoel, met ’n konstante stroom van skoliere, bokke, varke, hoenders en dies meer in en om die baie yl teerpad. Die permanente tente by Tembe het goeie lugreëling en die uitstaande kenmerk is ’n buitestort. Wat ’n plesier om so buite te staan en vir die voëls te luister en die bosse te ruik terwyl die water oor jou spoel. Ons het elke aand ’n wildvleisdis op die spyskaart gekry en tot ons verbasing was die vlakvark die lekkerste. Op pad terug na Mtinzini het ons by die Jozini-dam gestop, wat ook ontwikkel het as ’n toerismebestemming, hoofsaaklik vir tiervisvang en vir funksies en kongresse by die groot hotel met sy mooi uitsig oor die water. Ons het lekker uitgerus by Kobus en Sonja by Mtinzini vir ’n dag of twee. 

Omtrent van Mosambiek tot by die Transkei

Daarna moes ons afry Port Edward toe, naby die Transkei, na Mariaan se suster, Tillie, toe. 

Ons het weereens in ’n tyddeeloord, Carribean Estates, tuisgegaan. Pragtige groot plek met digte tropiese plantegroei en baie eenhede van verskillende groottes. Maar tot ons verbasing het nie die oord of die dorp WiFi nie. Ons moes na die Wildekus Casino toe gaan om opvangs te kry, wat op sigself eintlik ’n lekker uitstappie was.  

Van Port Edward het ons tweetjies vir Ladysmith gemik waar ons by Quintus en Marina oorgeslaap het. Quintus het ons deur hulle papiersakfabriek gevat wat ontwikkel het in ’n yslike onderneming. Die papierpulp vir die aartappelsakkies kom van óf die Nordiese lande soos Noorweë af, óf van Bulgarye of Rusland. Quintus was juis onseker oor die Russiese bestelling weens die dreigende oorlog op daardie stadium. Quintus het ook De Lange-bloed van sy ouma se kant af en hy het daarin geslaag om Hans Dons se ou seldeur, asook die balk waaraan hy sou opgehang gewees het, te kry en in sy huis in te bou.

Caribbean Estate by Port Edward

Selfs Harrysmith is groen

Ons het op pad terug na Pretoria deur die Vrystaat gery en dit was opvallend groen en pragtig ná al die reën. Ek en my vriend Johan was besig met ’n lekker vleiserige ontbyt by Wood Hill Estates se gholfklub, nadat ons ’n stywe vier kilometers gedraf het, toe dit my weereens tref wat se uitstekende waarde dit is vir iemand wat ponde verdien. Vir £3.20 koop jy net ’n groot koffie in die VK.

Ons kon toe eers aan die einde ’n paar dae afknyp om by ons eie huis in Leeupoort in Limpopo te vertoef. Wat ’n plesier was dit nie! Ons het teen die einde van die ses weke ons terugvlug probeer uitstel, maar kon dit nie regkry nie. Ons kon darem vinnig stop by ons Botswana-vriende, Piet en Cari, wat nou baie gerieflik in Warmbad bly.

Kan ’n mens weer van voor af verlief raak op jou eie land? Ja, verseker. Die feit dat ons relatief lanklaas daar was, asook die nuwe roetes en bergpasse het ’n ander dimensie aan ons besoek gegee. Daar is ook deesdae soveel verbeeldingryke kuns en kosstalletjies langs die hoofroetes, dis eintlik moeilik om nie orals te stop nie.

Toerisme het duidelik ’n groot bedryf geword en baie meer mense is afhanklik daarvan. Daar was destyds ’n advertensieslagspreuk om buitelandse toeriste na Suid-Afrika te lok, wat gesinspeel het op “See South Africa, a World in One Country”. Die skerp kontras tussen die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal regverdig alreeds die slagspreuk. Ek het gedink dat Natal dalk bietjie van ’n antiklimaks sal wees ná die Wes Kaap se wonderlike berge, maar nee, die kusstreek van die Indiese Oseaan het sy eie unieke bekoring. 

Wat sê die mense? 

Ons het nooit onveilig gevoel nie en dit was opvallend hoe gemeenskappe saamwerk om misdaad te bekamp. Die meeste huishoudings het ook al teen dié tyd behoorlike voorkomende maatreëls getref. Dis veral in die Wes-Kaap waar mens ’n harmonie kan waarneem, mense is gemaklik met mekaar, daar is ’n warmte en ’n algemene vriendelikheid. In Gauteng verdra die mense mekaar, soort van, ja ons moet maar klaar kom. Dit was lekker om bietjie tyd te hê om in woonbuurte rond te stap en so hier en daar te gesels. In Sedgefield byvoorbeeld was daar ’n plattelandse rustigheid. In Wierdapark, Pretoria, het dit meer besig gevoel, maar tog was daar families wat buite was om rond te stap of fiets te ry en albei is netjiese plekke met mooi plantegroei. Ek het gevoel ek sal lekker daar kan woon. Mense gee om vir hulle woonbuurte. ’n Mens sien dinge natuurlik deur ’n optimistiese vakansiegeeslens as jy so toer en kuier, maar die lewenskwaliteit is nog uitstekend vir mense wat ’n redelike inkomste het. Ek is al klaar besig om verskillende opsies vir volgende keer te ondersoek, soos om miskien die hele R62 van Humansdorp af te doen. Wat van die Kgalagadi in die Kalahari en of die Skukuza-halfmaraton? Ons het nog nooit die blomme in Namakwaland gesien nie. My kop draai van al die moontlikhede.

Tot volgende keer dan.

Pieter de Lange

LEES OOK: Dubrovnik, Sligo en Jerusalem – vroegoggend vakansiedramas

Meer oor die outeur

Pieter de Lange

Ek is in Kroonstad gebore neffens die rustige ou Valsrivier en matrikuleer aan die Hoërskool Kroonstad in dieselfde era as skrywers soos Antjie Krog en Max du Preez. Ek studeer op Tukkies, speel o.19-rugby vir hulle en boks vir die SA Universiteitespan, waarna ek Protea-kleure in dié sport verwerf. In 1974 begin ek in Londen praktiseer, word deur die Ferrari-gogga gebyt en keer ná drie jaar na Pretoria terug met ’n rooi Ferrari Boxer. In 1981 trou ek met Mariaan en ons verhuis Londen toe vir 18 maande. Ek begin in 1990 met ’n MBL-kursus en geniet die navorsingsprojek die meeste, en kry tot my verbasing die hoogste punte. Ek skryf baie artikels oor SA se Olimpiese bod vir die Sunday Times, Beeld, Business Day en Rapport. Ek publiseer ook my Olimpiese boek The Games that Cities Play, wat voorgeskryf was vir BA MBK (Menslike Bewegingskunde) asook B Com Sportbestuur se eerstejaars, (Sportgeskiedenis en Sportfilosifie) studente by Tukkies, vir 1999 tot 2003. In 1999 verhuis ons sak en pak Londen toe met ons kroos René, Christiaan en Simon. Ek begin ’n navorsingsprojek oor oorsese Suid-Afrikaners en skryf ’n reeks artikels vir The South African. Ons sien die wêreld saam met ons kinders, van ’n ysige St. Petersburg tot die snikhete Rooisee in Egipte. Ons het nou ’n pragtige kleinseun Arlo en woon in Kent, waar ek steeds praktiseer en gereeld aan parkwedlope deelneem om die ou karkas aan die gang te hou.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Afrikaans is Groot hou vir ’n 11de keer konsert en jy kan wen!

Afrikaans is Groot hou vir ’n 11de keer konsert en jy kan wen!

In ’n wêreld vol onbekendes is daar een bekende: Afrikaans is Groot. Dis ’n saamkomplek omjou taal, jou kultuur en jou menswees te vier. En die jaar is geen uitsondering wanneer diegrootste familie-reünie nóg vanaf 8 to 17 November 2024 in die SunBet Arena in...

AfriForum vier 18 jaar van selfdoen

AfriForum vier 18 jaar van selfdoen

AfriForum, ’n organisasie wat vandag meer as 315 000 lede in elke uithoek van die land verteenwoordig, vier vandag sy agtiende bestaansjaar. Dié burgerregteorganisasie is op 26 Maart 2006 vir die eerste keer aan die publiek bekendgestel in ’n berig oor sy...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest