Leesvordering:

Op soek na watervalle langs die Ingleton-voetslaanpad

Jun 19, 2019

Wie jou ook al aangeraai het om nie agter watervalle aan te loop nie, het geen benul waarvan hulle praat nie. As hulle maar ’n idee gehad het hoe asemrowend mooi die watervalle rondom die Yorkshire Dales is, het julle jou eerder aangeraai om soontoe te hardloop, in te spring en ’n heerlike stortbad in hul toweragtige water te neem. En dis presies wat ek gedoen het!

Die Ingleton Waterfalls-voetslaanpad is een van Yorkshire se mees onderwaardeerde aantreklikhede. Terwyl die meeste toeriste na die golwende groen heuwels van die Dales of die kus se strandoorde stroom, is my nuutste gunstelingtydverdryf om die vier en ’n half myl langs die kronkelende stroompies en deur diep, groen ravyne te gaan wandel.

Die Ingleton-watervalle kruip net buite die bekoorlike dorpie Ingleton in Noord-Yorkshire weg. Dié dorpie is beroemd omdat dit die inspirasie vir Arthur Conan Doyle se Sherlock Holmes was, en vir die laaste staande ruïnes van die enorme Ingleton-viaduk.

As jy – soos ek – die wonderlike watervalroete van die Broadwood-ingang benader, gaan jou asem binne oomblikke weggeslaan word waar jy langs die Twissrivier stap wat oor mosbedekte rotse deur die Silla Glen bruis. Hier is die lug só vogtig dat jy die diepgroen bos rondom jou amper kan próé. En dis ook hier waar jy die eerste van vele, vele trappe teëkom.

Dit is heel moontlik om feetjies en klein groen kabouters raak te loop waar hulle onder die blare in dié groen omgewing wegkruip – mits jy maklik ’n geldboom kan raakloop. Ja, die Ingleton-watervalroete speel gasheer vir ’n reusagtige afgekapte boomstomp wat met munte oortrek is, sommige eeue oud. Dié munte is met klippe ingeslaan deur verbygangers wat gehoop het dat dit hul goeie geluk sal bring. Geldbome – of wensbome, soos dit ook bekend staan – kan orals van die Peak-distrik af tot in die Skotse Hooglande raakgeloop word. Die een by Ingleton is egter veral indrukwekkend. Geen besoek aan die omgewing is volledig as mens nie jou eie gelukkige pennie hier kom inslaan het nie!

Steek ’n paar pragtige bruggies oor en voor jy weet, het jy die eerste watervalle bereik. Die Pecca-watervalle is ’n reeks van vyf watervalle wat sowat 30 meter oor sandsteen en leiklip in poele neerbruis wat net so diep is as wat die watervalle hoog is. Daar is ’n goeie uitkykpunt waar jy kan asemskep en jou op selfs meer trappe voorberei wat na die Hollybush Spout lei.

Byt vas terwyl jy jouself by honderde meer trappe opdwing wat jou na ’n wye heiveld neem. Volg nou die rivier, wat jou deur ’n smal dal lei. Hier kom jy op Thornton Force af – die beroemdste en mees skouspelagtige van al die watervalle. Wit water donder waar dit meer as 14 meter oor die kalksteenkrans na benede val, tot groot vermaak van al die besoekers wat hier rondmaal, foto’s neem en tuisgepakte pieknieks hou. Menige dapper mens het al die waterpoel onder die waterval aangedurf, maar wees gewaarsku: Die water is die heel jaar deur nie veel warmer as vriespunt nie.

Ná ’n vinnige swem en hopelik ontelbare foto’s loop die pad al langs die rivier tot in die Twiss-vallei. Steek ’n prentjiemooi bruggie oor en klim tot bo by Twisleton Lane. As jy op soek is na golwende groen Yorkshire-platteland, is dit nét die plek vir jou. Hier en daar verras ou tradisionele plaashuisies jou op jou pad, omlyn met grys klipmure om die lammers en ooie op die groen velde bymekaar hou. Hier van Twisleton Lane af kan jy ook ’n asemrowende uitsig oor Ingleborough aanskou – een van die beroemde Yorkshire Three Peaks. Ek was byna dood, maar dis ’n storie vir ’n ander dag.

As beloning omdat jy dit tot halfpad oorleef het, en voordat jy die terugtog deur die vallei aandurf, waarom nie ’n draai by Falls Cafe and Bistro op die Beezley-plaas maak en jouself met ’n koppie koffie en ’n volledige Engelse ontbyt bederf nie? Hier is ook toilette en ’n ander piekniekplek. Stap daarna die oeroue eikewoud in en voor jy weet, kruis jou pad dié van die Doe-rivier, wat jou reguit na die Beezley-valle terugneem. Die Doe stort ná die eerste waterval oor Triple Spout – drie kleiner watervalle wat neffens mekaar na benede bruis.

Van hier af word die boslandskap toweragtig met ryk plante-, diere- en voëllewe alom. Dit was myns insiens ook die gevaarlikste deel van die roete. Hou maar liewer op die duidelik gemerkte voetpad en moenie te naby aan die kante dwaal nie – jy mag dalk net in die Black Hole opeindig, ’n 80 voet diep poel aan die onderkant van die Rival-valle.

Wees maar sterk as jy die hangbrug oor die Baxenghyll-ravyn oorsteek. Dit is ’n opsionele syroete, maar beslis nie vir mense met hoogtevrees nie. As jy egter kan vrede maak daarmee om hoog bo ’n diep ravyn te staan met ’n stormagtige rivier daaronder, is die fantastiese uitsig nogal ’n groot beloning. Aan die ander kant van Baxenghyll aangekom, kyk terug in die rigting van die rivier na waar die Snow-valle deur die blare vir jou loer.

Die roete kronkel verby die Snow-valle deur Twisleton Glen en lei jou na die skilderagtige dorpie Ingleton en uiteindelik terug tot by die Broadwood-ingang, waar die avontuur begin het.

’n Paar waardevolle wenke:

  • Die hele staproete neem tussen twee en ’n half en vyf ure in beslag, afhangend van hoe vinnig jy trappe kan uitklim en hoe gereeld jy foto’s neem. Ek sou dit baie sterk aanbeveel om jou tyd te neem en die meeste daarvan te maak. Die omgewing is werklik toweragtig en watervalle so mooi soos dié by Ingleton is so skaars soos hoendertande.
  • Honde word wel op die roete toegelaat, maar moet aan leibande wees as mens landbougrond oorsteek.
  • Jy kan die roete óf by die Broadwood-ingang, óf by die Falls Park-vakansiepark begin. Koop jou toegangskaartjie by enige van die beginpunte teen £7 vir ’n volwassene.
  • Besoek ingletonwaterfallstrail.co.uk vir meer inligting, kaarte en ’n baie insiggewende inligtingsbrosjure.
  • Volg my ook op Instagram by @luzanne_fvir nóg foto’s.

Bron: www.ingletonwaterfallstrail.co.uk

 

Meer oor die outeur

Luzanne Fletcher

Luzanne Fletcher is gebore in Johannesburg en het in Krugersdorp aan die Wes-Rand grootgeword. Ná sy haar studies aan die Noordwes Universiteit voltooi het, het sy vir ’n jaar as ’n fotograaf op P&O Cruises Australia se plesierbote (cruise ships) in Australië gaan werk. Dit was haar eerste ervaring van in die buiteland bly. Buiten Australië het sy ook die geleentheid gehad om onder meer Nieu-Seeland, Fidji, Tonga en Singapoer te besoek. Dit is ook op een van hierdie plesierbote waar sy ’n aantreklike Engelsman ontmoet het. Ná haar tyd op die skepe het sy na Suid-Afrika teruggekeer en in die mediabedryf begin werk. Ná ’n langafstandverhouding van twee jaar met haar Engelsman het hulle in Suid-Afrika afgehaak en is sy vanaf Desember 2017 voltyds in Scarborough – ’n klein dorpie aan die noordoostelike kus van Engeland – gevestig.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest