Leesvordering:

OPE BRIEF AAN MY LANDGENOTE

Okt 27, 2020

Hendrika Jooste

Ons staan op die vooraand van die bekendstelling van ons immigrasieboek se internasionale weergawe en die knop in my keel is trane wat net wil-wil kom. Met ons eerste immigrasieboek het ons net op ons Suid-Afrikaanse landgenote gefokus, maar as gevolg van verskeie navrae en versoeke het ons nou ook immigrante van ander lande in ag begin neem. Dié dat ek vanaand so ‘n bietjie weemoedig is en terugdink aan wat verby is. Ons het sedert 2018 al baie Suid-Afrikaners gehelp, maar daar is nog steeds baie wat nie weet van ons boek of die hulp wat ons bied nie. Ons hoor nog te veel hartseer stories, en nou met die COVID-pandemie en al die nuwe uitdagings wat daarmee gepaardgaan, is dit nog meer op die voorgrond.

Ek en my medeskrywer, Robyn Vogels, is albei oorspronklik van Suid-Afrika. Robyn is ‘n Engelssprekende Suid-Afrikaner van Durban en ek ‘n Afrikaanssprekende wat in die ou Wes-Transvaal grootgeword en gestudeer het. Nooit in my wildste drome het ek gedink dat ek op verskillende plekke in die wêreld gaan beland en uiteindelik in Australië gevestig gaan raak nie. My destydse Engels- matriekonderwyser het altyd grappend verwys na my Fochville-Engels. Nou het ek en Robyn al twee Engelse boeke geskryf (waarvan een ‘n Amazon-topverkoper is). Na 15 jaar weg uit Suid-Afrika kan ek myself in ‘n Engelse werks- en sosiale omgewing handhaaf sonder om Engels very deliciously te praat.

My en my gesin se emigrasiepad was lank en swaar. Ek vergelyk dit altyd met die Israeliete wat deur die woestyn na die beloofde land moes trek – ons was eers twee jaar in Frankryk en drie jaar in Engeland voor ons ons in Australië gevestig het, waar ons nou al 10 jaar woon en werk. Ons emigrasiereis kon soveel anders gewees het as daar meer inligting was oor wat vir ons voorlê. Die enigste verwysing wat ons gehad het, was my skoonsuster en haar man wat hulle in die VSA gevestig het. Hulle het net met hulle tasse oorgegaan. Ons het ‘n negejarige dogtertjie gehad, ‘n vraghouer met te veel onnodige aardse besittings en baie emosionele bagasie.

Ek en Robyn het mekaar weer in Frankryk raakgeloop. Ons mans het by dieselfde maatskappy in Suid-Afrika gewerk en die laaste keer wat ek haar gesien het, was 10 jaar tevore op die lughawe toe ons albei ons mans, wat op ‘n sakereis sou vertrek, gaan afsien het. In Frankryk het Robyn, wat reeds ‘n gesoute ekspat was, my onder haar vlerk geneem. Dit was en is nog steeds die twee moeilikste jare van my lewe. Nie net moes ek sukkel met ‘n nuwe taal wat glad nie dieselfde klanke het as Duits (my derde taal) nie, maar ek moes ook Engels praat met al die Britse en Nederlandse ekspats in ons sosiale kring. My Suid-Afrikaanse ondersteuningsnetwerk was weg, en in daardie twee jaar het ek my oupa, my ouma, my broer en my pa aan die dood afgestaan. Dit was net met krag en genade van Bo wat ek staande gebly het.

Ek het baie emosionele littekens om te wys. Voordat die littekens verskyn, is daar ‘n wond wat bloei, en jy bloei ongelukkig oor almal om jou, ook die mense wat jou nie gesny het nie. Dit is hierdie verskuilde gevare van emigrasie waarvan niemand jou vertel nie. Te veel van ons verlaat die land met bloeiende wonde – wonde oor ons land se verlede, wonde oor alles wat nou daar aangaan en wat dalk persoonlik met jou gebeur het, wonde oor familie en vriende wat jou afskryf en kwalik neem dat jy moes kies tussen hulle en jou kind se toekoms, wonde oor jou moedertaal wat jy elke dag mis, wonde oor jou kerklewe, wonde oor jare se harde werk en kwalifikasies wat hier feitlik niks beteken nie en gapende finansiële wonde wat deur ‘n rugbrekende wisselkoers veroorsaak word wanneer jy hier aankom. Dan is daar ook die sout wat so af en toe ingevryf word net om die seer nog ‘n bietjie erger te maak. Tipiese Aussie-opmerkings, soos: “Oh, you’re still fresh off the boat,” wat beteken dat jy nog ‘n nat-agter-die-ore-immigrant is, of die menige faux pas- of immigrant-oomblikke wanneer jy jou naam so in die modder laat beland dat jy wens die aarde kan jou net insluk en iewers anders gaan uitspoeg.

Ek kan nog ‘n boek skryf net oor my immigrant-oomblikke. Vandag kan ek daaroor lag, maar destyds, toe dit gebeur het, was dit verskriklik! En dit is juis waarom ek en Robyn besluit het om vir Suid-Afrikaners ‘n boek te skryf. Hulle lê ons steeds na aan die hart, en ons wil hulle voorberei, hulle help om geld te bespaar, en hulle emigrasiereis minder stresvol en meer positief maak as wat ons s’n was. Tussen ons twee het ons 35 jaar ondervinding van internasionale hervestiging oor vyf kontinente, en ons het baie foute gemaak en daaruit geleer. Ons het ‘n baie lojale groep ondersteuners en volgelinge. Vir die mense wat ons boek gekoop het en ons raad gevolg het, het die hervestiging en aanpassing in Australië seepglad verloop. Daar is egter nog te veel Suid-Afrikaners wat in slagysters trap wat vermy kon gewees het.

Dit bring my by die bloeiende wonde wat nie net oor almal om jou bloei nie, maar ook oor jou nuwe kollegas, nuwe vriende en kennisse, gesoute Suid-Afrikaanse Australiërs en jou toekomstige skoonseuns of -dogters en kleinkinders. Ons almal word in ‘n sekere land, kultuur, taalgroep(e) en subkultuur gebore en grootgemaak. Dit is jou verwysingsraamwerk, en jou lewensuitkyk word daarvolgens gevorm. Jy dink dit is hoe die hele wêreld werk en alles aanmekaargesit is. Kom wat wil, buig of bars, dit is hoe jy is en niemand gaan jou verander of jou van hulle opinie oortuig nie. In die life coaching-bedryf noem ons dit beperkende geloofstelsels. En, mede-Suid-Afrikaners, dit is net hier waar die pôpô die waaier met ‘n reuseslag tref. Het jy al probeer om so ‘n papaja weer aanmekaar te sit? Dit is onmoontlik.

So baie van my kliënte se eerste werksgeleenthede in Australië was totale nagmerrie-ondervindings. Baie Aussies hou nie daarvan om saam met Suid-Afrikaners, en veral Afrikaners, te werk nie. Hulle ervaar ons as aggressief, eiewys, onbuigsaam in ons denke en vooropgestelde idees en met ego’s so groot soos die operahuis in Sydney. Daar is verskeie strategieë wat ‘n mens kan volg om dié soort situasies te verhoed of bestuur. Nuusflits, mede-Suid-Afrikaners: Ons weet nie alles nie! Jy wil nie in jou nuwe land ‘n resumé hê wat verraai dat jy elke ses maande ‘n nuwe werkgewer het nie. Jy gaan baie vinnig as ‘n swerfwerker geklassifiseer word, of voornemende werkgewers gaan ‘n vraagteken agter jou bevoegdheid plaas.

Kris Finlayson, ‘n Nieu-Seelander wat met ‘n Suid-Afrikaner getroud is, het Afrikaans leer praat om sy meestersgraad – “Ik ben een Afrikaander”: Redrawing Afrikaner ethnic boundaries in New Zealand – in 2019 te voltooi. Een baie belangrike aspek van sy navorsing het vir my uitgestaan: Al die Suid-Afrikaners met wie hy onderhoude gevoer het en wat suksesvol in Nieu-Seeland geïntegreer het, is geskei van hul Suid-Afrikaanse lewensmaat en is met ‘n Nieu-Seelander getroud. Te veel van ons huwelike eindig op die rotse. Gapende, bloeiende wonde! Moenie die stres van emigrasie op ‘n reeds wankelende huwelik onderskat nie. Op ‘n persoonlike vlak kan ek getuig dat elke huwelik deur een of ander immigrasieverwante krisis gaan, en beide partye moet aan ‘n oplossing werk.

Ek het empatie met my mede-Suid-Afrikaners, en veral met dié wat nie voorbereid is nie. Hulle gaan op die ingrypendste reis van hulle lewens, maar hulle doen nie hulle huiswerk nie. Hulle leen hulle ore uit vir goed bedoelde maar verouderde en onnadenkende raad op internetforums en sosiale media. In die proses skaad hulle nie net hulself nie maar ook hulle kinders en almal met wie hulle te doen kry. Ek staan verstom oor sommige immigrante se naïwiteit, algehele gebrek aan selfbewussyn en onbewuste vooroordele. Elke gesin en individu is uniek saamgestel en het unieke omstandighede en ‘n unieke begroting. Ons bepaal altyd eers wat ‘n gesin se behoeftes en begroting is voordat ons aanbevelings maak.

Geen ruimtevaarder vlieg die vreemde in sonder maandelange voorbereiding en ‘n hele professionele NASA-span se ondersteuning vir die duur van hulle ruimte-avontuur nie. Dans van vreugde en vier die mylpaal as jou visum goedgekeur word, maar besef een baie belangrike saak: Dit is maar net ‘n mylpaal op ‘n lang emigrasiereis. Die volgende fase gaan ook geld kos, gaan ook huiswerk en navorsing verg, en kan baie meer stresvol as die visumproses wees. Dit is nie nou die tyd om suinig te wees nie. Dit is waar die meeste Suid-Afrikaners die kluts kwytraak. Hulle soek kortpaadjies, of cheap and cheerful opsies soos ons dit in die boek noem.

Die goeie nuus is dat dié Suid-Afrikaners wat dit op die regte manier aanpak, op die ou end sterker en beter daaraan toe is. Sommiges is al so sterk dat hulle mense en liefdadigheidsorganisasies in Suid-Afrika emosioneel en finansieel kan ondersteun. Wat is hulle geheim? Hulle het BETYDS by die regte mense aangeklop om professionele raad. Hoe gouer jy inligting en hulp kry, hoe beter. Ons is hier om te help in ons professionele hoedanigheid, met ons gekombineerde wysheid, kennis, versiendheid en ‘n gevestigde netwerk van kundiges. Ons is jou veiligheidsgordel op jou tuimeltrein-emigrasiereis. Ons is jou ondersteuningsnetwerk en jou vangnet as jy dalk tydelik jou houvas verloor.

Jy kán in beheer wees van jou eie emigrasiereis.

Vriendelike groete

Hendrika Jooste
MCC, BA (HONS), PGCE, Cert 4 TAE, TESOL
Relocation and Integration Life Coach

Hendrika Jooste is ‘n professionele Master Certified Life Coach wat spesialiseer in migrasieverwante kwessies (www.pillarsofpower.com.au). Sy is ook die medeskrywer van Your D.I.Y. Move Guide to Australia: The South African Guide en die Amazon-topverkoper Your D.I.Y. Move Guide to Australia (Global Edition). www.yourmoveguide.com

Meer oor die outeur

Hendrika Jooste

Hendrika Jooste is ’n professionele Master Certified Life Coach wat spesialiseer in migrasieverwante kwessies (www.pillarsofpower.com.au). Sy is ook die medeskrywer van Your D.I.Y. Move Guide to Australia: The South African Guide en die Amazon-topverkoper Your D.I.Y. Move Guide to Australia (Global Edition). www.yourmoveguide.com

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Onderneming in die Kollig: Meat Point Switserland

Onderneming in die Kollig: Meat Point Switserland

Wêreldwyd se Wêreldgids skep ’n suksesvolle netwerk om Suid-Afrikaners in die buiteland met mekaar in aanraking te bring sodat jy Suid-Afrikaanse ondernemings in jou omgewing kan ondersteun. Vat die kans en word deel van hierdie netwerk. Netwerke is nie net vir...

Leesgenot vir die jongspan: ʼn Boek vir Desember

Leesgenot vir die jongspan: ʼn Boek vir Desember

Hou die kinders besig gedurende die skoolvakansie! Briewe van Mieliepit Ontmoet vir Mieliepit: ’n baie pittige troetelhoender van Bloemfontein. ’n Bietjie lui (sal sy self erken), en baie lief vir gesels, skryf sy die allersnaakste briewe aan ene Liefsteling. Sy...

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Wêreldwyd vriende

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest