Leesvordering:

Paul Kruger: Waarom het hy die ZAR verlaat?

Jun 22, 2022

Deur Ilze Nieuwoudt

Terwyl die Anglo-Boereoorlog in September 1900 in die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) en die Oranje-Vrystaat (OVS) voortgewoed het, het die ZAR se president, Paul Kruger, sy land vir die laaste keer verlaat. Teen dié tyd was die bejaarde president volgens die historikus Herman Giliomee al “oud en afgeleef” en het hy daarin geslaag om in Oktober daardie jaar die kontinent aan boord van die Nederlandse skip Gelderland by Lourenço Marques (nou Maputo) te verlaat “net voordat die Britte hom kon vang”.[1]

            Sommige kyk vandag nog veroordelend na Kruger se vertrek uit sy land wat in daardie stadium reeds in chaos gedompel was. Verwysings na Kruger se Vrystaatse eweknie, pres. M.T. Steyn, wat wél agtergebly en die oorlog saam met sy mense deurgesien het, word dikwels in argumente geopper. Maar skets dié stellings die volle prentjie? Of verdien Kruger se vertrek uit die ZAR om van naderby (en met meer simpatie) ondersoek te word?

            Wat het sy vertrek voorafgegaan? Tydens ’n sitting van die Volksraad in Mei 1900 is besluit dat die Republiek se hoofstad nie teen die Britte verdedig sou word nie en dat Kruger en sy regering na ’n veiliger streek moes uitwyk. Die besluit is op 29 Mei 1900 deur die Uitvoerende Raad bekragtig, en dieselfde aand nog het die regering uit Pretoria padgegee. Hiervandaan het die regering na Machadodorp verskuif en op 28 Augustus neem die Uitvoerende Raad die gewigtige besluit dat Kruger na Europa moes uitwyk om te voorkom dat hy in Britse hande val.

            Volgens die historikus O.J.O. Ferreira is daar op 10 September in Nelspruit (wat intussen die nuwe regeringsetel geword het) in oorleg met die regering van die OVS besluit dat Kruger se ouderdom en “swaarlywigheid” reise te perd en in die veld by die burgers onmoontlik gemaak het. Daar is besluit dat “hy vir ses maande met verlof na Europa moes gaan” – aan die een kant om te verhoed dat hy deur die Britte gevange geneem word en aan die ander kant om die Boere se saak by Europese leiers te bevorder.

Met die besluit geneem, verlaat Kruger die ZAR die volgende dag om 17:30 toe hy die grens by Komatipoort op pad na Lourenço Marques oorsteek. Hiervandaan het hy aan boord van die Nederlandse skip Gelderland na Europa gereis en op 22 November in Marseilles, in die suide van Frankryk, dié kontinent betree. Hier is die 75-jarige Kruger gul ontvang. Duisende mense het in die Franse stad aan die Middellandse See byeengekom om Kruger te verwelkom.

Volgens die Amerikaanse nuusblad San Francisco Call was Kruger vir die oomblik die Franse se idool en op sy noordwaartse reis deur die land is hy by treinstasies deur skares entoesiastiese ondersteuners ingewag. Hy is jillend verwelkom met “Vive Kruger” en “Vive les Boers”, terwyl ander krete om die ondergang van Engeland geroep het.[2]

Hoewel Kruger met ope arms deur die mense van Europa ontvang is, het nie alle politici dié sentiment gedeel nie. Hy is byvoorbeeld ’n ontmoeting met die Duitse keiser, Wilhelm II, geweier. Die Nederlandse historikus Martin Bossenbroek skryf oor dié afjak in sy boek De Boerenoorlog. Kruger is ontmoedig om na Berlyn te reis en dit het voorgekom asof die “hartlike telegramme wat dié staatshoofde vroeër jare gewissel het” iets van die verre verlede was. Volgens Bossenbroek was daar bloot nie meer plek vir Kruger in Wilhelm II se planne nie – Kruger moes weg en padgee uit Duitsland.[3]

Kruger het nie in Britse hande geval nie, maar van die hoop om hulp by Europese leiers te kry, het daar ook nie veel gekom nie.

            In Julie 1901, nagenoeg ’n jaar nadat Kruger in Europa gekom het, sterf sy vrou, Gezina, in Pretoria. (Kruger het op 29 Mei 1900 afskeid van sy eggenote geneem omdat haar gesondheid haar nie toegelaat het om hom op sy reis uit Pretoria te vergesel nie.)[4] Nóg ’n jaar later kom die Anglo-Boereoorlog tot ’n einde en die afgeleefde president besluit om nie na sy tuiste in Afrika terug te keer nie, want hoewel hy onder die Britse vlag gebore is, was hy vasbeslote om nie onder dié vlag te sterf nie. Hy bly in Europa aan as banneling.[5]

            In Mei 1904 gaan woon hy in Clarens, Switserland. ’n Toespraak deur Albert Mayer, die burgemeester van Montreux tydens die onthulling van ’n gedenkplaat by Villa 17 van die Villas Dubochet (waar Kruger in Julie 1904 gesterf het) skets ’n prentjie van ’n eensame man in ballingskap:

The man who for hours remained sitting on his balcony, looking out wistfully at the expanse of the lake, had enjoyed a happy life in the beginning, but singularly tragic afterwards. […] He like to walk through the shady groves of this charming quarter, admiring the beautiful scenery that surrounded it. But his thoughts were ever carried off to other shores where were rolling the big waves of the ocean. He was dreaming of his people, of his town of Pretoria. He was dreaming … and death overtook him on the 14th July 1904.[6]

Sy gedagtes wás by sy mense. Kort vóór sy dood, het Kruger op 29 Junie 1904 sy sekretaris, dr. W.J. Leyds, opdrag gegee om dié Boereleier se laaste amptelike boodskap aan sy volk op te stel. Hierin sê Kruger onder meer:

Want wie vir hom ’n toekoms wil skep, mag nie die verlede uit die oog verloor nie. Daarom: Soek in die verlede al die goeie en skone wat daarin ontdek kan word, vorm daarna u ideaal en probeer om daardie ideaal in die toekoms te verwesenlik … Uit die diepte van my hart groet ek u [Louis Botha] en die ganse volk.

Kruger se laaste boodskap vanuit verre Switserland word vandag nog beskou as Kruger se “politieke testament” en ’n bewys van ’n man wat as balling steeds na sy land en sy mense gehunker het.


[1] H. Giliomee, Die Afrikaners: ’n Biografie (Kaapstad: Tafelberg, 2014), p. 207.
[2] San Francisco Call, “Paul Kruger now the idol of the French: Is enthusiastically greeted at every station”, San Francisco Call, 87(177), 24 November 1900, p. 2. Available at https://cdnc.ucr.edu/?a=d&d=SFC19001124.2.13&e=——-en–20–1–txt-txIN——–1 [Accessed on 21 June 2022].
[3] M. Bossenbroek, De Boerenoorlog (Amsterdam : Athenaeum-Polak & Van Gennep, 2012), no page indicated in Google Books.
[4] O.J.O. Ferreira, “Paul Kruger in Mosambiek, September-Oktober 1900”, Historia, 50(2), November, p. 86.
[5] “The Exile”, Pretoriana, 3, 1954, p. 7. Available at https://repository.up.ac.za/handle/2263/11474 [Accessed on 21 June 2022].
[6] “The Exile”, Pretoriana, 3, 1954, p. 11. Available at https://repository.up.ac.za/handle/2263/11474 [Accessed on 21 June 2022].

Meer oor die outeur

Ilze Nieuwoudt

Ilze is die publikasiebestuurder by AfriForum Uitgewers.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees. ‘Komitee moet Phala...

Onderneming in die Kollig: Reisgenoot

Onderneming in die Kollig: Reisgenoot

Reisgenoot is ’n klein onderneming wat boutique-reisdienste aan ons kliënte bied, insluitende vlugte, toere, bootreise en hotelle regoor die wêreld. Jy kan jou soektog en bespreking aanlyn doen net wanneer dit jou pas, terwyl ons bedrewenheid en ondersteuning jou stap...

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Wêreldwyd vriende

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest