Deur Daniël Eloff

Wanneer plagiaat bespreek word, fokus die gesprek gewoonlik op ’n wye verskeidenheid etiese raamwerke, letterkundige standaarde, beste aanhalingspraktyke en die beleide van universiteite en ander instellings. Plagiaatpleging word dikwels met interne dissiplinêre prosesse gestraf, maar daar word selde gepraat oor die regsgevolge buite universiteite, skole of ander instellings.

Hoewel die etiek en beste praktyke belangrik is, is plagiaatpleging nie in die streng sin van die woord ’n regskonsep nie. Dit word nie deur enige wetgewing of die gemenereg gedefinieer nie. Die afwesigheid van so ’n definisie beteken egter nie dat plagiaatpleging geen regsgevolge het nie.

Plagiaat het al in ’n verskeidenheid sake ter sprake gekom, onder meer sake oor kopiereg en inligting op produkverpakkings en waar regeringsdokumente onder geregtelike hersiening geneem is. Al gaan ‘n mens nie tronk toe oor plagiaatpleging nie, laat dit jou steeds met die spreekwoordelike gebakte pere sit.

’n Mens moet onderskei tussen kopieregskending en plagiaat. Soos vroeër genoem is plagiaat nie ’n konsep wat in die reg erken word nie; dit is eerder ’n etiese of letterkundige standaard. Om plagiaat te pleeg, is dus nie op sigself onwettig nie. Die oortreding van die etiese reëls teen plagiaatpleging het nie ekonomiese nadele nie en benadeel ook nie jou eiendomsreg nie. Waar plagiaatpleging egter vir die plagiaatpleger finansiële voordeel meebring, loop dit hand aan hand met kopieregoortredings. Dit kan regsgevolge inhou en sal waarskynlik ’n uitstappie hof toe meebring.

Buiten vir ’n kopieregoortreding kan plagiaatpleging ook in wese ’n wanvoorstelling wees – jy gee voor dat die werk en idees jou eie is. Om plagiaat te voorkom, moet ’n skrywer dus wanvoorstelling voorkom. Dit moet duidelik wees watter dele van ’n teks jy self geskryf het en by wie jy watter dele van die inhoud of idees gekry het. Indien ’n wanvoorstelling tot ’n regsnadeel of delik lei, kan daar gevolge vir die plagiaatpleger wees.

Om op te som: Plagiaatpleging kan tot regsgevolge lei indien ’n derde party daardeur benadeel word. ’n Mens moet dus versigtig wees dat jy nie ander se werk as jou eie voorstel nie, selfs al skryf jy nie vir ’n akademiese joernaal nie. Soos oudstaatspresident Paul Kruger gesê het: “Jy moet erkenning gee aan jou internetbronne.”

Daniël Eloff is ’n regspraktisyn by Hurter Spies Ing.

Hierdie artikel is ook beskikbaar in: English

Wêreldwyd
Wêreldwyd

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest