Leesvordering:

Potchefstromers in België

Mei 23, 2022

Ons het hierdie week met Aimee le Roux en haar man gesels wat hul hele lewe lank in Potchefstroom gewoon het en binne drie maande al hulle besittings verkoop het en met ses tasse na ’n klein dorpie in België getrek het. Sy vertel ons van hulle eerste sneeu-ervaring, die emosies rondom die emigrasieproses en hoe hulle ingeskakel en vriende gemaak het.

Hallo, Aimee. Dit is so lekker om met jou te gesels. Dankie vir al die mooiste foto’s van België wat jy vir ons gestuur het. België is ’n kultuurryke land met die mooiste Renaissance-geboue, wat het vir jou uitgestaan toe julle daar aangeland het?

Ons bly in Hemiksem, ‘n klein dorpie so 10 kilometer suid van Antwerpen, langs die groot Schelderivier. Hemiksem is 5,44 km² groot en het so 11 000 mense wat hier woon. Dis vier keer minder mense as in Potchefstroom. Die eerste keer wat ons in Hemiksem ingery het, was om by die munisipaliteit te registreer en ’n klomp vorms in te vul (hier praat hulle van ’n gemeentehuis).

Eers ry ons deur die groot poorte wat ’n boog maak bo die voertuig, toe op ’n ou “cobble stone”-paadjie (in leketaal praat hulle hier van “kinderkopjes” – ek wil ook weet hoekom), toe deur ‘n park wat lyk soos iets uit ’n Jane Austen-boek, om ’n massiewe gebou en uiteindelik kom ons by die gemeentehuis uit. Die gemeentehuis is in ’n ou abdy.

’n Gebou mooi genoeg dat jy onmiddellik jou ma wil bel en haar wil vertel. Dit het al die krulletjies en draaitjies wat die geboue in erafilms het, en selfs ’n hoë toring met ’n goue klok. Om die gebou is grasperke en boomlanings, hondeparke en dammetjies, parkbankies en wandelpaadjes, alles besaai met rooi en geel en oranje herfsblare. En dit alles is vir die inwoners ’n doodnormale plek om op ’n Dinsdagoggend 11:00 te besoek om aansoek te doen vir ’n ID-kaart. Dan dink ek terug aan die gebou waar ek my ID moes oplaai in Potchefstroom, en waardeer die komiese kontras.


Die eerste keer wat ons Antwerpen toe was, het ons die trein gevat. Antwerpen is bekend daarvoor dat dit een van die mooiste treinstasies in die wêreld het. Antwerpen Central Station slaan jou voete onder jou uit. Die dak is aan die binnekant ’n massiewe geboë struktuur wat bestaan uit geometriese staalvorms. Hoe hoër jy met die ou trappe opgaan, hoe meer detail begin jy raaksien. Oral om jou is goue detail en dit voel of jy baie geld moet betaal om sulke mooi goed te mag sien. Jou woorde is min as jy vir die eerste keer in so ’n gebou loop. Jy verstom jou dat eenvoudige sirkels en driehoeke en reghoeke op so ’n fenomenale manier gekombineer kan word om sulke indrukwekkende motiewe te skep.


Somtyds kyk ek na ’n mooi gebou en dink by myself dat as hierdie pragstuk in ’n ander land en dorp was, dit die juweel van die area sou wees. Hier verdwyn dit in ’n see van meesterstukke. ’n Bekende gesegde in België lui: “Antwerpen is stad en de rest is parking”, en ek verstaan hoekom Antwerpenaars so bietjie arrogant is. Dit is werklik ’n ongelooflike stad.

Hoe het jy die emigrasieproses ervaar en wat is die uitdagings wat julle ervaar het?

Emigrasie is traumaties, en ek is baie seker dat ’n mens daarna aan ’n ligte vorm van post-traumatiese stres ly. Ek droom nou nog gereeld oor dokumente of dat ek moes agterbly en Juan alleen moes kom. Elke aspek van jou lewe verander. Almal wat deel van jou elke dag was, is nou net nie meer nie. Vir hulle is dit een mens in hulle kring wat weg is. Jy het self skielik nie meer ’n tasbare kring nie. Hulle lewe gaan aan, en dit is hoe dit veronderstel is om te wees. Maar die mat is onder jou uitgeruk en die vloer daaronder is met tye yskoud. Dit kom in golwe. Party dae sluk ’n mens met elke asemteug trane van verlange: nie noodwendig na iemand spesifiek nie, maar na alles wat bekend is. Dan kom die skuldgevoel ook in golwe. Jy leef nou die drome wat ’n jonger jy jouself nie eens toegelaat het om te droom nie. Jy’s in die land van melk en heuning. Jy moet straal van geluk en dankbaarheid. Daar’s oorlog in Oekraïne en beurtkrag in Suid-Afrika. Ja, jou ma is vêr, maar jy kan met haar praat en haar sien. Ja, jy kan nie jou pa ná werk kry vir koffie nie, maar jy kan jou oorfone insit en vir ure met hom praat. Ja, die taal is moeilik, maar dis so naby aan Afrikaans, jy is bevoorreg. Ek weet al hierdie goed, maar dit help nie altyd nie.

So ’n groot skuif plaas ’n vergrootglas oor enige emosionele en geestelike worstelinge. Ek was nog nooit so bewus van my ADHD-geneigdhede soos nou nie. Ek voel so gereeld só deurmekaar en selfs net verlam. Ek vergeet wat ek moes doen en raak kwaad vir myself.


Elke aand voor ek gaan slaap onthou ek dat ek my ouma moet bel en my vriendin se boodskap moet antwoord, dan vergeet ek môre die hele dag daarvan en onthou dit eers weer wanneer die ligte al af is en my man lankal slaap. My emosies is baie dae groot en onvoorspelbaar. Soms is jy net in ’n gat, en dit is oukei. Dit maak sin. Jy voel nog nie geborge nie, al hierdie is natuurlike simptome van ongeborgenheid. Dis deel van die proses. Dis deel van waarna jy gaan terugkyk maande en jare van nou, en dan gaan jy dankbaar wees vir waar jy is, vir die nuwe mooi mense wat jy gevind het, vir hoe jy dan geborge voel waar jy is. Die feit is, geborgenheid groei en ontwikkel. Dit sal weer terugkom, maar ná 26 jaar in dieselfde dorp bly en dan na ’n ander kontinent trek, begin dit met ’n baie klein saadjie wat baie stadig ontkiem in ’n klein en kwesbare plantjie wat eendag weer ’n boom sal wees.


Ek dink ook terug aan wat ’n logistieke nagmerrie dit alles was. Ons het alles wat ons besit het verkoop en elkeen met drie tasse van ons waardevolste items en klere hier aangekom. Dis al. As ek terugdink kan ek nie eers lekker onthou waar my koffietafel beland het of my gunstelingmat nie. Ons het einde Julie 2021 vir die eerste keer daaraan begin dink om dalk eendag, miskien, ons-sal-sien, so ’n skuif te maak. Einde Augustus het Juan baie aansoeke ingestuur maar nog niks gehoor nie. Einde September het hy ’n werk gekry en kontrak geteken. Einde Oktober was alles wat ons besit het verkoop en het ek my laaste week gewerk as RTT-juffrou wat vir graad 10 tot 12 klas gee, met al die eksamens wat hulle moes skryf klaar opgestel. Einde November was ons al twee weke in België, in ’n leë woonstel, en my merkwerk was voltooi.

Hoe was dit vir jou om yskoue sneeu te ervaar waar jy gewoond was aan Potchefstroom, Suid-Afrika?

In April, normaalweg ’n lentemaand gevul met bloeisels en kantblomme , het ons sneeu gekry. En dié keer nie die tipe wat ná ’n uur weggesmelt is nie. Hierdie sneeu het vir ’n paar uur gebly. Dit het ’n lagie op die gras gevorm wat gekraak het onder jou voete. Ek en Juan het 05:00 opgestaan om sneeu te gaan soek voordat hy werk toe moes gaan, en ons was nie teleurgesteld nie. Ons het gestap na die parkie naby ons huis en gesien hoe die sneeu alles wat groen was, wit gemaak het. Die sneeu het oral op die bloeisels gelê, en met die blote oog was dit moeilik om te onderskei waar die een se wit begin en die ander se wit eindig. Ons het deur die slapende strate van Hemiksem getrippel en sneeu vanaf karre se vensters geoes, gekompakteer, en na mekaar gegooi. Dit was net genoeg sneeu vir kuithoogte sneeudwerge, maar vir twee Potchefstromers was dit beslis genoeg sneeu om ’n massiewe indruk te maak.

Hoe vergelyk die verblyfopsies in België met dié van Suid-Afrika?

Baie min Belge woon in huise – die meeste bly in woonstelle, sonder erwe. Die meeste woonstelle het wel darem ’n klein balkon waar jy jou mentplantjie kan sit en koffie kan drink. Al die vertrekke is kleiner as waaraan jy gewoond is in Suid-Afrika. Dit is wel oor die algemeen beter ingerig, en as dit nie is nie, is daar hordes bekostigbare opsies by winkels soos Ikea wat jou spasie optimaliseer. Ons het byvoorbeeld ’n bed gekoop met groot sterk laaie onder. Dit is so ’n ideale oplossing as daar nie ingeboude kaste is nie.

Die meeste woonstelle is teen die straat en as jy vir ’n middagstappie gaan, kan jy ruik (en soms sien) wat daar vir aandete gemaak word. Motorhuise is ’n luukse wat baie min mense het, hoewel kelders en/of solders nogal algemeen is.

Daar is wel om elke hoek en draai ’n speelpark of ’n hondepark met van die oulikste speelgoed wat ek nog gesien het. En die mense gebruik dit so gereeld. Dit maak wel op vir die afwesigheid van erwe.

Is dit duur om in België te woon?

Die beste raad rondom finansies wat ons gekry het was die volgende: moenie alles terugwerk na rande toe nie, dan is alles duur. Jy moet eerder een ding wat jy redelik standaard koop se gemiddelde prys kry en dan alles wat jy koop daarteen opweeg. ‘n Koppie koffie kos gemiddeld seker €3. So, daardie skoene kos nie amper R500 nie, maar eerder die prys van tien koffies. En tien koffies vir ’n paar skoene is redelik billik.


Sekere dinge is beslis baie duur hier, selfs met die koffie-maatstaf. Vleis, vrugte, uiteet, brandstof en skoonheidsdienste is alles vrek duur. Maar dan is daar weer ander dinge wat soveel goedkoper is. Baie goeie sjokolade, fantastiese kaas, delivleise, gebak en tulpe is alles baie bekostigbaar.
Een groot voordeel is die kringwinkels (“thrift shops”). Dit is tweedehandse winkels soos wat ons in Suid-Afrika in baie dorpies die Solidariteit Helpende Hand-winkels het. Die kringwinkels het wel meer goed het wat nog so min gebruik is omdat die land se ekonomie so sterk is, dit is elke keer soos ’n skattejag as jy daar instap. Ek is elke keer so verbaas met die ongelooflike vondse waarmee ek uitstap. En dit is altyd baie bekostigbaar.

Vertel ons bietjie hoe verloop ’n dag in jou lewe in België?

Ek werk tans by ’n kinderopvangsentrum totdat ek iets kry wat ek meer permanent kan doen. ’n Kinderopvang is waarheen kleuterskool- en laerskoolkinders gaan voor en ná skool as hulle ouers werk. Dit beteken dat ek soms al 07:00 by die werk moet wees, of dat ek eers 15:00 werk, maar dan tot 18:30 werk. My werksplek is so 15 km van ons huisie af, wat in Potchefstroom ook vir my die geval was, maar in ’n besige België kan dit redelike ongemaklike pendel beteken. Dit is nie sommer net 20 minute op die hoofweg in die kar nie.


My gunstelingmanier om by die werk te kom is om 1 km fiets te ry vanaf ons huis na die waterbushalte in Hemiksem. Dan klim ek op die waterbus met my fiets, vaar 30 minute na Antwerpen se sentrum, klim daar af met my fiets en ry die laaste 3 km na my werk. Die waterbus is soos ’n veerboot, met luukse groot sitplekke binne en ’n lekker groot platform vir fietse en vars lug buite. Die Schelderivier word spesiaal dieper gemaak tot in Hemiksem sodat groot bote en die waterbus tot daar kan vaar.


Ongelukkig ry die waterbus nie vroeg genoeg in die oggende nie, en moet ek ’n ander plan maak werk toe as ek soggens werk. Dan spring ek op my elektriese fiets en ry deur bosse, handelstrate en ’n paar kilometer op die promenade langs die mooie Schelderivier werk toe. Met mooi weer is dit ’n lekker 45-minute-rit met ’n podsend in my ore. Met slegte weer is dit 45 minute van tande kners, wind wat beteken dat ek nie my podsend kan hoor nie, lopende maskara en koddige reëntoebehore.

Hoe het jy ingeskakel en vriende gemaak in die proses?

Die tipiese Belg (as ons nou gaan stereotipeer) is redelik privaat en gereserveerd. Ek kry die idee dat hulle sosiale boksies het. As jy vir ’n middagstappie gaan of in die winkel loop, is jy in ’n private boksie. Dit is nie dan die tyd om te groet of interaksie te hê met ’n vreemdeling nie. As jy as vrywilliger werk by ’n geleentheid, en daar is ’n vrywilligersontbyt, is jy in ’n sosiale boksie. Dan neem hulle graag deel aan geselsies oor ditjies en datjies.


Die boksies het my aanvanklik baie geïsoleerd laat voel. Dit het gevoel of daar “buitelander” op my voorkop staan en asof ek nie noodwendig baie welkom was nie. Dit was totdat ons by ’n kerk in Antwerpen aangesluit het. Ons het onmiddellik tuis gevoel. Dit is ’n klein kerkie met net een gesin wat regtige egte Belge is, en die res is almal van verskillende ander lande, of gemengde gesinne. Daar is ook baie Facebook-groepe waar jy kan aansluit om met mense in verbinding te kom, maar die mense by die kerk was regte egte mense, jy kan hulle gesigsuitdrukkings sien en hulle druk.

Die kerk is vir ons ’n veilige hawe waar ons kan asemhaal en in-persoon-verhoudings kan bou.

Verder het dit ook baie gehelp toe ons begin werk het, daar kan jy ook lekker interaksie hê met mense. Dis ’n goeie manier om die plaaslike mense se dialek gewoond te raak, te leer wat vir hulle snaaks is en waaroor hulle skinder, wat hulle kwaad maak en wat hulle graag oor naweke doen.


Dan is ons ook baie geseënd met Juan se oom en sy vroutjie wat ook in België woon. Die ironie was wel dat hulle twee weke nadat ons hier aangekom het, vir byna vyf maande Suid-Afrika toe was om vir hulle kinders te gaan kuier. In daardie twee weke het hulle wel maande se ondersteuning gebied. Hulle het ons rondgery en gehelp om so baie burokratiese boksies af te tik. Hulle het seker gemaak ons het ’n besem en ’n skoppie en plastiekstoele om op te sit. Hulle het vir ons inkopies gekoop en gehelp om ’n Ikea-bed te gaan koop. Hulle het vir ons die nodigste breekware en eetgerei gekoop. Hulle was vir ons ’n veilige sagte landing in ’n vreemde nuwe plek. Hulle het in hierdie week teruggekom en ons sien so uit daarna om saam te braai, Afrikaans te praat, en saam te giggel oor al die uitdagings. Ons Suid-Afrikaners maak mos graag grappies oor dinge wat eintlik moeilik is.

Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika?

Ek mis dit op in my kar te spring en by familie te kuier. Ek mis dit om by die plaaslike koffiewinkel in te stap en mense op hulle name te groet. Ek mis dit dat vriendskappe maklik was om te vorm. Ek mis dit om op ’n Sondag saam met my pa-hulle by my ouma te gaan eet of by my skoonma te gaan braai. Ek mis dit verskriklik om vir ’n naweek by my ma te kuier. Ek mis dit om saam met my sussies slaai te maak in ’n oorvol kombuis.


Wie en wat jy mis is sporadies. Dis elke dag anders. Maar grotendeels mis jy bekendheid. Om te weet watter pad om te vat werk toe, om ’n werk te hê waar jy weet wat jy doen en dat jy dit goed kan doen. Jy mis die smake en teksture van die goed wat jy saam met jou mense geëet het as julle iets of iemand gevier het hier. Om elke dag, heel dag en met almal wat oor jou pad kom in jou moedertaal te praat. Jy mis die mense by wie jou siel veilig voel en die plekke waar jy geborge voel.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

Uit en tuis: ’n e-pos uit Nederland

Uit en tuis: ’n e-pos uit Nederland

Uit en tuis is ’n rubriek waarin ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar weer terug is in Suid-Afrika. Ons hoor graag van enigeen wat hul belewenisse met ons wil deel. Vandeesweek gesels ons met Natasha Viljoen wat al ses...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest