Leesvordering:

Prominente Amerikaanse advokaat gesels oor sy liefde vir Afrikaans

Jun 15, 2017

Afrikaans is ‘n ryk en unieke taal. Suid-Afrika sal intellektueel armer wees as daar nie plek vir die taal in sy akademie en hoër onderwysinstellings is nie.

So het Robert O’Brien, ‘n prominente advokaat van Los Angeles, Kalifornië, in ‘n eksklusiewe onderhoud met Forum Nuus gesê.

O’Brien het al verskeie topposisies binne die Bush-administrasie beklee en was voorheen bekendes soos die ruimtevaarder Buzz Aldrin se regsverteenwoordiger.

O’Brien was ook destyds een van die topstudente van die Universiteit van Kalifornië se Los Angeles kampus (UCLA) wat deur ʼn internasionale beursfonds gekies is om in 1986 as uitruilstudent in Suid-Afrika te kom studeer.

Hy praat vandag nog Afrikaans en sy vrou voer maandeliks vir hom kopieë van De Kat en Huisgenoot in om te lees.

O’Brien is ‘n oudstudent van prof. Jacques du Plessis, ‘n voormalige dosent in Afrikaans aan die Universiteit van Wisconsin en UCLA, wat hom beywer vir die navorsing en ontwikkeling van taaltegnologie en taaltegnologieprodukte vir Suid-Afrikaanse tale. Een so voorbeeld is die webtuiste, Open Languages, wat ten doel het om die beste Afrikaanse onderrig kosteloos aan die internasionale gemeenskap te bied.

Volgens O’Brien het hy besluit om Du Plessis se Afrikaanse klasse by UCLA te neem, wat toe een van die min universiteite in die VSA was met ‘n Afrikaanse taalkursus, ter voorbereiding vir sy tyd in Suid-Afrika. Hy het ook met behulp van ‘n kursus aan een van die wêreldbekende Berlitz-taalskole, boeke en privaatklasse Afrikaans geleer voordat hy na Suid-Afrika gekom het.

“My vriend en destydse Afrikaanse dosent, Jacques du Plessis, het Afrikaanse studiemateriaal ontwikkel vir die Brigham Young Universiteit (BYU) en daardie studiegidse het my ook baie gehelp.”

O’Brien sê voorts dat sy tyd in ‘n Afrikaanse manskoshuis by Kovsies hom veral gehelp het om die taal te snap. “Suid-Afrikaners is na my mening die mees gasvrye mense ter wêreld en ek het dit veral by Kovsies ervaar. Die Afrikaanse studente in my koshuis het baie belanggestel in die VSA en het meer kennis gedra van ander wêreld gebeurtenisse as my Amerikaanse vriende. My klasmaats was ook baie behulpsaam en het moeite gedoen om my met Afrikaans te help.”

Hy bieg dat hoewel hy vandag nog Afrikaans kan praat, hy weens sy Amerikaanse aksent steeds sukkel om sy r’e te rol.

Ondanks Afrikaans se assosiasie met apartheid sê O’Brien is daar steeds ‘n plek daarvoor in Suid-Afrika en die internasionale akademie. “Afrikaans is verweef in die Suid-Afrikaanse geskiedenis en was ook die moedertaal van ‘n groot gedeelte van die bevolking wat teen apartheid opgestaan het. Daar is beslis vandag steeds plek daarvoor.”

Die gebruik van inheemse tale op amptelike vlak kan wel volgens O’Brien ‘n belaaide politieke kwessie wees en is nie ‘n uitdaging uniek aan Suid-Afrika nie. Hy het verwys na die aanleer van Spaans in Kalifornië, Russies in Oekraïne en Frans in Kanada, as voorbeelde van minderheidstale wat al sosiale en politieke uitdagings tussen gemeenskappe geskep het. Sy siening is egter dat hoe meer tale ‘n persoon kan praat, hoe beter dit vir hom of haar is om hulself in ‘n sake-omgewing, die politiek of diplomatieke sake te kan handhaaf.

“In die VSA sien ons dat minderheidsgroepe hul eie skole stig en bestuur waar die regering besluit om nie hul taal in die bestaande skole aan te bied nie. Daar gaan dalk ‘n tyd kom wat Afrikaanse mense in Suid-Afrika en Namibië óók privaatskole sal moet open om kinders van alle agtergronde in Afrikaans te leer om só tot die taal se voortbestaan by te dra.”

deur Jhua-nine Wyrley-Birch vir Forum Nuus.

Meer oor die outeur

Jhua-nine Wyrley-Birch

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

Uit en tuis: ’n e-pos uit Nederland

Uit en tuis: ’n e-pos uit Nederland

Uit en tuis is ’n rubriek waarin ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar weer terug is in Suid-Afrika. Ons hoor graag van enigeen wat hul belewenisse met ons wil deel. Vandeesweek gesels ons met Natasha Viljoen wat al ses...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest