Leesvordering:

Raad as jy emigrasie oorweeg

Jul 11, 2018

Karen en haar man, Kobus Jordaan, woon tans in Brits-Columbië, Kanada. Hulle het in November 2012 Prince George toe getrek nadat hulle vyf en ’n half jaar in Frobisher, Saskatchewan gewoon het.

Karen gee raad as jy emigrasie na Kanada oorweeg en deel hul emigrasieproses met Wêreldwyd: 

’n Saak van gebed

Dit moet eerstens ’n gebedsaak wees, want as die Here nie jou hart voorberei nie, is dit moeilik.

Jy moet bereid wees om te midde van lief en leed te kies dat jy nie armlengte van jou geliefdes af gaan wees nie. Dit was helaas die moeilikste gedeelte van die hele besluit. Maar danksy die tegnologie kan ’n mens wêreldwyd so gereeld as moontlik kontak hê.

Die klimaatskok

Dit hang natuurlik af waarheen jy beplan om te skuif – die klimaat kan dit sekerlik maak of breek vir baie. Ons geleentheid het uit Kanada gekom, so ons het nie eens elders rondgekyk om te besluit of ons hier wil wees nie. Om binne ’n week van +30 na -27 te gaan, kan nogal ’n skok vir die sisteem wees. Ons het nog nooit in ons lewens eens sneeu gesien of ervaar nie, en hier klim ons van die vliegtuig af en alles is WIT… En dit hou nie op nie… Vir minstens ses maande van die jaar is dit hier om te bly, soms meters hoog. Hier het jy gewoonlik twee stelle bande vir jou motor: een vir die winter en een vir die somer. Die vloeistof wat jy in jou motor se vensterwashouer gooi, maak saak: een vir die somer om die “torgom” van jou ruit af te kry en een vir die winter om te keer dat dit nie onmiddellik vries as dit die ruit tref nie.

Die kultuurskok

Dit is mos maar oral dieselfde (glo ek). Maak nie saak waar jy land nie – Australië, Engeland, die VSA of Kanada – Suid-Afrikaners soek mekaar op en maak kontak. Niks is meer bevredigend as om saam met jou hartsmense te kuier nie. Almal weet waarvan jy praat en jy hoef nie te verduidelik wie “Jan van der Merwe” is nie! Ek het nie ondervinding van ander plekke oor die wêreld heen nie, maar ons het spoedig uitgevind die Kanadese het ’n ander soort sin vir humor. Hoewel hulle almal vriendelik en behulpsaam is, was (en is) dit moeilik om hier huisvriende te maak. Waar ons gewoond is jy kan sommer gou in jou kar klim en by “Piet en San” gaan koffie drink, moet jy hier eers reël voor jy opdaag.

Kinders is aanpasbaar

Hoe vroeër jy hulle skuif, hoe beter, dink ek. Hoewel ons kinders maklik aangepas en maats gemaak het, het hulle ná 11 jaar steeds kontak met hulle maats in Suid-Afrika. Emigrantekinders word ook baie geterg en geboelie hier. Dit het meestal op die skoolbus gebeur net nadat ons hier gekom het. Maar ons kinders was gelukkig; ons het die boelies gou op hulle plek gesit deur hulle by die skoolhoof te rapporteer, wat ons kinders genadig was. Soos hulle ouer geword het, het hulle ook besef baie van die waardes wat hier gevind word, is nie wat hulle by ons geleer het nie. ’n Mens kan maar net op jou knieë bly dat die opvoeding wat jy hulle gee later van hulle karaktervolle mense sal maak.

Werksgeleenthede

Hier is soveel meer werksgeleenthede en ’n toekoms vir enigiemand. As jy hier nie werk het nie, wil jy nie werk nie. Jy kan letterlik enigiets doen wat jou hart begeer en dit word moontlik gemaak deur die beskikbaarheid van oorvloedige bronne. Hier is natuurlik groot aanvraag vir ambagsmense en jy sal altyd verseker wees van werk as jy in een of ander ambag gekwalifiseerd is. Die ouer mense tree af en daar is nie genoeg jonges om hulle te vervang nie.

Kom ons wees eerlik

Eerlikwaar: elke land het sy eie moeilikhede. Jy sal nooit iewers wees waar alles net 100% voorspoedig is nie. In die ekonomie en politiek is daar altyd iets aan die gang wat baie mense óf gelukkig óf ontevrede maak. Dis jou keuse: aanvaar wat jy nie kan verander nie en doen iets as jy wel ’n verskil kan maak.

Blom waar die Vader jou plant

Gee ’n welriekende reuk af in jou omgewing. Ons is uiters geseën met die wonderlikste vriende hier in Prince George. En toe ons in Kanada aangekom het, was ons in ’n klein gemeenskappie tussen ’n paar SA gesinne; ons beskou hulle steeds as ons Kanadese familie. Ons gaan kuier nog een keer per jaar in Saskatchewan vir hulle, onthou mekaar se verjaarsdae en gesels so gereeld as moontlik.

Ander artikel: François-meer in die Birch-baaireservaat

Meer oor die outeur

Karen Jordaan

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Afrikaans is Groot hou vir ’n 11de keer konsert en jy kan wen!

Afrikaans is Groot hou vir ’n 11de keer konsert en jy kan wen!

In ’n wêreld vol onbekendes is daar een bekende: Afrikaans is Groot. Dis ’n saamkomplek omjou taal, jou kultuur en jou menswees te vier. En die jaar is geen uitsondering wanneer diegrootste familie-reünie nóg vanaf 8 to 17 November 2024 in die SunBet Arena in...

AfriForum vier 18 jaar van selfdoen

AfriForum vier 18 jaar van selfdoen

AfriForum, ’n organisasie wat vandag meer as 315 000 lede in elke uithoek van die land verteenwoordig, vier vandag sy agtiende bestaansjaar. Dié burgerregteorganisasie is op 26 Maart 2006 vir die eerste keer aan die publiek bekendgestel in ’n berig oor sy...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest