Leesvordering:

Reëls en regulasies om in gedagte te hou voor jou reis

Mei 21, 2020

Ons is deesdae meer as ooit tevore bewus van reëls en regulasies wat mense se gedrag en bewegings monitor. Tans is die inperkingsregulasies belangrik, maar een of ander tyd sal die land se grense weer oopgemaak word en die buitewêreld sal jou met ope arms verwelkom. Dié buitelandse arms het egter ook hul eie reëls en regulasies, en jy moet dit in gedagte hou voor jy jou tassies pak en alle versigtigheid oorboord gooi.

Bo en behalwe die normale wette wat oral van toepassing is, is daar ook ’n paar regulasies wat eie is aan elke land en sommiges kan vreemd klink in vergelyking met Suid-Afrika s’n. Ons raai jou aan om die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking (DIRCO) se webtuiste voor jou vertrek dop te hou aangesien belangrike wetgewing in verskillende lande daagliks daar opgedateer word.

Hou die volgende in gedagte voor jy jou paspoort laat stempel.

Drank en dwelms

In die meeste lande, Suid-Afrika ingesluit, is drank en dwelms ’n taai tameletjie. Die kanse dat jy enige soort dwelms oor ’n landsgrens mag neem, is skraal. Die drankies wat op vliegtuie bedien word, is heerlik maar ongelukkig moet jy dit daar los.

As jy In Mexiko met dagga gevang word, kan jy van dwelmsmokkelary aangekla en tronkstraf opgelê word al het jy ’n voorskrif vir die medisinale gebruik daarvan. En jy weet seker Mexikaanse tronke is van die gevaarlikste plekke op aarde. Ander lande waar die nagevolge van dwelmbesit ’n nagmerrie is, is Kuba, Uganda, die Verenigde Arabiese Emirate, Singapoer en Rusland. Saoedi-Arabië het waarskynlik die swaarste strawwe vir dwelmbesit; daar kan jy die doodstraf opgelê word indien jy skuldig bevind word.

Vat liewer die maklikste uitweg en bly onder die wetstoepassers se oë uit – daar is veel lekkerder dinge om te sien en te doen in ander lande.

Onwelvoeglike gedrag

Jou gedrag in die openbaar kan jou in baie lande in die sop laat beland. Sorg dat jou kleredrag altyd gepas is (veral in die Midde-Ooste), dat jou taalgebruik skoon is en dat jy nie met jou optrede aandag trek nie.

In Duitsland kan jy toegesluit word indien jy besope op straat gevang word. Hierdie reël is interessant aangesien dit nie onwettig is om op straat te drink of met drank rond te loop nie. Dit maak dié wet dus baie belangrik om te onthou! Singapoer duld geen openbare steurnis of bedreiging vir mense se veiligheid nie. As jy in die openbaar rook, baklei of kougom kou, kan jy ’n swaar boete of selfs tronkstraf opgelê word. In Thailand is dit onwettig om sonder ’n hemp ’n motor te bestuur. Alhoewel Sweedse partytjies ’n dansery aanmoedig, is dit onwettig om in Swede in ’n kroeg te dans tensy daardie kroeg ’n permit daarvoor het. Die meeste lande kan swaar strawwe oplê indien jy kaal of halfkaal in die openbaar verskyn.

Om seker te maak jy trek nie die owerhede se aandag nie, hou liefs jou klere aan en jou taalgebruik skoon, en los jou kougom by die huis.

Fauna en flora

Fauna en flora hoort in die natuur. Alle owerhede beskerm hulle land se natuurskoon ten alle koste aangesien dit gewoonlik die lokaas vir toeriste is. Jy mag byvoorbeeld nie in Maleisië plantegroei pluk of afbreek nie, en die land se diere word ook beskerm. In Brasilië is jag van enige aard al sedert die 1960’s streng verbode.

Om uit te vind in watter lande jy die fauna en flora van naby mag bewonder, kan jy die Konvensie oor Internasionale Handel in Bedreigde Spesies van Wilde Fauna en Flora (CITES) se webblad besoek. CITES beskerm die inheemse plantegroei en wildlewe van lande en verhoed die koop, verkoop en ruil daarvan.

Lees- en kykstof

Boeke is kulturele artefakte en kan jou in groot moeilikheid laat beland. Sekere lande verhoed die besit en verspreiding van boeke, tydskrifte, flieks, musiek en ander visuele elemente om verskeie redes, byvoorbeeld omdat dit geweld kan stook, aandag kan vestig op die land se geskiedenis, of haatspraak kan bevorder. In Duitsland is dit byvoorbeeld onwettig om literatuur te versprei wat fascisme of die Nazi-verlede ophemel. In Saoedi-Arabië is modetydskrifte verbode, en in Uganda literatuur waarin mense mekaar soen.

Hierdie soort wette het meestal te doen met ‘n land se verlede en konserwatisme. Doen goed navorsing oor wat waar toelaatbaar is voor jy jou gunstelingleesstof inpak.

Rommelstrooi

Rommelstrooi is in alle lande onaanvaarbaar, maar dit is tot dusver slegs in enkele lande amptelik gemaak. In Thailand kan jy tronkstraf opgelê word indien jy rommel strooi. In Singapoer is die kou en uitspoeg van kougom verbode. Die meeste Europese lande is ook onverdraagsaam teenoor rommelstrooiers en tree baie streng teen hulle op.

Met soveel verskillende lande en kulture is dit moeilik om te bepaal wat jy waar mag doen en nie mag doen nie. Wat vir jou onskuldige pret is, kan vir ’n ander onwelvoeglik wees. Doen dus deeglik navorsing oor die land waarheen jy wil reis of verhuis en vergelyk hulle wette voor jou vertrek met Suid-Afrika s’n.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Afrikaans is Groot hou vir ’n 11de keer konsert en jy kan wen!

Afrikaans is Groot hou vir ’n 11de keer konsert en jy kan wen!

In ’n wêreld vol onbekendes is daar een bekende: Afrikaans is Groot. Dis ’n saamkomplek omjou taal, jou kultuur en jou menswees te vier. En die jaar is geen uitsondering wanneer diegrootste familie-reünie nóg vanaf 8 to 17 November 2024 in die SunBet Arena in...

AfriForum vier 18 jaar van selfdoen

AfriForum vier 18 jaar van selfdoen

AfriForum, ’n organisasie wat vandag meer as 315 000 lede in elke uithoek van die land verteenwoordig, vier vandag sy agtiende bestaansjaar. Dié burgerregteorganisasie is op 26 Maart 2006 vir die eerste keer aan die publiek bekendgestel in ’n berig oor sy...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest