Leesvordering:

Reis veilig in ’n wêreld wat (weer) grense het

Mar 27, 2020

Alana Bailey, Hoof: Kultuursake, AfriForum

Met die aanvang van die 21ste eeu is voorspel dat grense gaan verdwyn.  Trouens, in Europa kon jy al wyd reis met die diensverskaffer wat op jou selfoonskerm verander, of die GPS se inligting as enigste aanduiding dat jy nou in ’n ander land as tien minute gelede is.

Vriende van my het verklaar: “Buiten vir langer vlugte, is daar geen verskil tussen vir kinders in Kaapstad of Hamburg gaan kuier nie.”

En toe kom Covid-19 en skielik is daar weer grense.  Trouens nie net grense nie, maar dikwels onverbiddelik geslote grense.  Grense met grendels.

Al wat ons nou weet, is dat die wêreld nooit weer dieselfde gaan wees nie, maar hierdie week herinner ’n radio-kommentator my daaraan dat dit ook was wat ons destyds in die dae na 9/11 gesê het.  Die einde van die lugvaartbedryf en toerisme is voorspel, maar reis het daarna net meer in gewildheid toegeneem.  Ons het gou aan nuwe vereistes betreffende vloeistof in handbagasie gewoond geraak en marsjeer ewe getrou deur elke land se eie vereistes by lughawens.  Hier moet jy jou skoene uittrek, daar jou baadjie, elders jou bril afhaal, soms jou polshorlosie …  Geen een van die maatreëls word bevraagteken nie en niemand skrik meer daarvoor nie.

Ek wil die kans waag om te sê dit gaan weer die geval wees.  Waarskynlik gaan nuwe veiligheidsmaatreëls in die toekoms op lughawens voorkom, maar ons voete gaan nog jeuk en reis sal ons nog reis.

Die afgelope paar dae is ons by AfriForum oorval met navrae van Suid-Afrikaners wat besig was om te toer, kuier of werk in die buiteland en toe word grense skielik gesluit, wat hulle gestrand gelaat het.  In die ergste gevalle was hulle iewers met bitter weinig toegang tot geriewe, kommunikasie, beskerming of lewensmiddele vasgekeer.

Omdat ’n mens wil voorkom dat dit gebeur, volg hier ’n paar wenke vir toekomstige reisigers om die reis met lekkerkry klaar te kry, as ek nou woorde in Langenhoven se mond mag lê …  Vir ervare reisigers gaan hierdie ou nuus wees en hulle hoef nie verder te lees nie.  Vir ander help dit hopelik ongerief en ontnugtering voorkom.  Daarmee wil ons ook glad nie te kenne gee dat mense wat weens die virus in die buiteland gestrand geraak het, dit kon voorkom het nie.  Hierdie pandemie het almal onkant betrap.  Ons moet egter in gedagte hou dat so iets weer in ons leeftyd mag gebeur en dan moet ons voorbereid wees.

Hiermee dan die wenke:

  • Doen navorsing oor jou bestemming. Kom gevaarlike weerstoestande soos orkane sekere tye van die jaar daar voor?  Is dit ’n gevaarsone wat natuurrampe soos aardbewings of vulkaniese uitbarstings (soos by Whakaari / White Island in Desember 2019) aanbetref?  Is dit polities stabiel?  Hoe lyk misdaad daar?  Kom enige endemiese siektes soos malaria daar voor?  Twee bronne vir betroubare inligting is jou naaste reiskliniek en die internet.  Tik “travel directives” in en jy sal die jongste inligting kry wat lande soos die VSA en VK aan hulle burgers voorsien.  Hulle intelligensiedienste is baie deeglik en die advies op datum.
  • Kry reisversekering en lees die polis. Oor sekere ouderdomme word bepaalde siektetoestande dikwels uitgesluit.  Alle aktiwiteite word ook nie noodwendig gedek nie ‒ as jy byvoorbeeld gaan ski in Switserland, sal eise wat met jou gebreekte been verband hou, dalk verwerp word, omdat die betrokke polis ski as hoë gevaar aktiwiteit klassifiseer.  In areas waar mense ontvoer word, dek polisse soms net enkele dae se onderhandeling met die kriminele of terroriste, terwyl onderhandelings maande mag duur.  Lees die opsies noukeurig deur voor jy versekering uitneem, maar moenie daarsonder vertrek nie.
  • Moenie op die staat staatmaak nie. Volgens die internasionale reg is ’n staat onder geen verpligting om altyd tot sy burgers se hulp te kom nie.  Hulp gaan van verskeie kwessies afhang.  Waarom was jy in die buiteland?  Bestaan enige verdrae tussen jou land en die land waar jy is wat sodanige hulp moontlik maak of voorkom?  Is hulp prakties uitvoerbaar?  Het jou land die kundigheid of hulpmiddele om op die tydstip wat jy die hulp benodig, op te tree?  Bereken jou risiko’s voor jy vertrek en as jy nie gemaklik voel nie, moet eerder nie gaan nie.
  • Moenie op ander instellings staatmaak nie. In ’n noodsituasie is die kaptein soms letterlik voor die passasiers van die sinkende boot af.  ’n Regering, hotelgroep, skeepvaart- of lugredery is soms net so onvoorbereid op ’n ramp as jy, of eenvoudig laks, of skuil agter die fynskrif by “Bepalings en voorwaardes” in jou ooreenkoms met hulle.  Moenie aanvaar hulle gaan jou help as daar probleme ontstaan nie en moenie die blaamspeletjie speel as jy in nood verkeer nie.  Gebruik eerder jou energie om oplossings te vind om so veilig en gou as moontlik uit die situasie te kom.
  • Moenie pakkies vir enigeen saamneem nie. Al meen jy dat jy 100% seker is wat daarin is, bly dit die beste om dit nie te doen nie.  Smokkelaars is soms die mense van wie jy dit die minste verwag.
  • Wees eerlik oor jou gesondheid. As jy ’n redelik ernstige harttoestand, of diabetes, of enige soortgelyke siekte het, dink mooi of jy die kans wil waag om te reis.  Hou ook jou geliefdes se angs en spanning in gedagte as jy ver van die huis af sou siek word of gestrand raak sonder chroniese medikasie.  Jy moet ook in hulle beswil optree.
  • Neem ekstra medikasie saam. As jy enige chroniese medikasie neem, sorg altyd dat jy ’n paar dae se ekstra voorraad saamneem.  Vlugte kan vertraag word, of stakings kan openbare vervoer lamlê en dan moet jy ekstra medisyne hê.  Neem ook jou voorskrif en die medikasie se inligtingsblaaitjies saam.  Dieselfde medisyne het nie altyd dieselfde naam oraloor nie en as ’n apteker die blaaitjie het, kan ’n plaasvervangende middel makliker gevind word.  Onthou, ongelukke kan ook gebeur soos dat medisyne uitval en dan moet jy nog kry, al het jy voorsorg getref.
  • Misdaad bly nie in Suid-Afrika agter nie. Bly waaksaam en paraat!  Moenie ’n beursie in ’n oop handsak of broeksak bêre nie.  Hou ekstra kopieë van jou paspoort, visum en jou bank se nommer waar jy kaartdiefstal moet aanmeld in al jou stukke bagasie.
  • Reisigers kan nie op ’n leë maag marsjeer nie. Hou altyd iets om te eet in jou handbagasie.  Staatmakers is energiestafies, sjokolade, of goeie ou Mariebeskuitjies.  As vloeistof nie ’n probleem is nie, neem water of melk saam.

Daar is vele ander wenke oor hoe jy veilig in ’n ander land kan bly, maar met die bostaande fokus ons veral op die beplanning, vertrek en terugkeer.

Waar die meeste van ons nou nogal lank tuis gaan wees, is dit die ideale tyd om ’n volgende reis te beplan en solank die huiswerk te begin doen.

By voorbaat, bon voyage!

Meer oor die outeur

Alana Bailey

Alana Bailey is Hoof van Kultuursake by AfriForum.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Soos jy nooit die reuk van ’n stofpad ná die reën sal vergeet nie, so het elke Suid-Afrikaner ervaringe gehad wat ’n mens nie anders kan as om te mis nie. Sê wat jy wil, Suid-Afrika is uniek. Daar is nie veel plekke in die wêreld waar jy oor soveel mooi vlaktes kan...

Onderneming in die Kollig: Ipixel web & graphic solutions

Onderneming in die Kollig: Ipixel web & graphic solutions

Hierdie week se kollig is op Ipixel web & graphic solutions in Nieu-Seeland. Ipixel web & graphic solutions is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom om...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest