Leesvordering:

Resensie: Leef Lig deur Jaco Strydom

Feb 26, 2021

“Jesus het baie meer gepraat oor hoe ons moet lewe as oor wat ons moet glo.” – Jaco Strydom

Vandag fokus mense meer op of hulle die regte goed glo as op of hulle die regte goed doen. Die kerk het sy visplakkies verruil vir swart skoene en ‘n das, en in plaas daarvan om daar te wees waar die tekkie die teer tref, is die kerk in groot geboue waar meer mense uitgesluit word as in. Ons eie lewens raak ook net voller met goed wat nie saak maak nie. Ons bid asof God vir ons werk en nie andersom nie, en ons vergeet dat ons geroep is om Jesus se hande en voete op aarde te wees. Ons kies ons eie weergawe van wie ons graag wil hê Jesus moet wees en in die proses verloor ons die essensie van wat dit beteken om ‘n Christen te wees.

In Leef Lig stel Jaco ‘n alternatiewe kerkwees voor, een met ‘n baie goeie en bekende voorbeeld: Jesus. Ek gebruik die woord “alternatief”, want hoewel Jaco die oorspronklike idee van kerkwees in ‘n klompie hoofstukke uiteensit, is dit vir ons vandag ‘n alternatief tot dit waarmee ons grootgeword het. Ons hou ons besig met dit wat ons dink ons moet doen: kerk toe gaan, ons tiendes gee, nou en dan op ‘n uitreik gaan sodat ons kan sien hoe ander mense leef, en dan weer huis toe gaan en daarvan vergeet terwyl ons wegraak in ons werk en strewe om meer geld op ‘n vinniger manier te maak. Maar is dit waarvoor ons geroep is?

Jaco lig vyf gewoontes van die vroeë kerk uit wat ons in ons daaglikse lewe ook kan en moet toepas: Sonder jouself af in gebed. Reis lig. Leef in eenheid. Wees goed vir jou vyand. Gee om vir die wêreld. Dit is nie maklik nie en jy gaan jouself oor en oor hoor dink: “Ja, maar …”

In die eerste afdeling – Sonder jouself af in gebed – konfronteer Jaco reeds die leser met ons eie gewoontes. ‘n Algemene rede waarom mense byvoorbeeld nie by armes, siekes, straatkinders, oumense, gestremdes, vlugtelinge, ensovoorts betrokke raak nie, is: “My hart sal dit nie hou om hulle so te sien nie.” Dan vra Jaco: Maar wat van die kind wat niks het nie terwyl ons met ons brose harte alles het?

Leef Lig is ‘n bondige teks wat jy gemaklik in ‘n week kan deurwerk. Jy kan ook kies om dit as ‘n studie oor ‘n paar weke te spasieer. Moet dit nie net as ‘n “interessante idee” beskou nie, maar maak ‘n punt daarvan om raak te sien hoe jy in jou eie lewe ligter kan leef om sodoende ook ‘n lig te wees vir dié wat dit nodig het.

Die teks gaan jou diep tref en laat dink soos jy lanklaas (of nog nooit nie) gedink het. Dit voel amper soos om uit Plato se grot te stap: Jy het dinge nog altyd op een manier gesien en gedoen, maar dan word hierdie alternatief aan jou bekendgestel en skielik voel dit of ‘n nuwe wêreld oopgaan.

Ek het ‘n paar keer aan Ursula K. Le Guin se storie The ones who walk away from Omelas gedink. Dit gaan kortliks oor ‘n stad wat baie welvarend is; almal is gelukkig en het alles in oorvloed. Maar die geheim wat onder die stad weggesteek word, is ‘n kind wat diep ongelukkig is en die hele stad se pyne en swaarkry moet dra – nie uit vrye wil nie, maar hy is weggesteek en vergete. Elke stadsbewoner kry een keer in hul lewe ‘n beurt om dié kind te sien, en dan het jy ‘n keuse: Bly jy in Omelas, wel wetende dat jou geluk op ‘n kind se ongeluk geskoei is en jy probeer om net daarvan te vergeet en nie te veel daaroor te dink nie – of loop jy weg van Omelas af? Die alternatief is natuurlik om deur die tronk se mure te breek en die kind vry te maak.

Leef Lig het my baie aan Omelas laat dink, aan hoe ons apaties raak oor die seer rondom ons. Ons gaan een of twee keer ‘n jaar op ‘n uitreik, maak kaste skoon en stop swartsakke vol ou klere en goed wat ons eens gedink het ons gaan gelukkig maak en vat dit kerk toe sodat dit vir “ons mense” uitgedeel kan word, en dan gaan ons weer terug huis toe of werk toe en vergeet daarvan tot ons weer kaste skoonmaak of op ‘n uitreik gaan. Gaan ons die mense wees wat wegstap van die spreekwoordelike Omelas af en êrens op ‘n afgeleë plaas gaan bly waar jy in niemand met seer hoef vas te kyk nie, of gaan ons die renegades wees wat inspring en help daar waar dit saak maak sodat almal iemand kan hê wat werklik omgee.

Dit was nou ‘n uitgerekte manier om te sê: “Klim nou in jou kar, ry na jou naaste boekwinkel en koop Leef lig!”

Luister HIER na Chanté se onderhoud met Jaco.

Leef Lig is te koop by Exclusive Books, CUM Boeke en Grounded at Echo-koffiewinkel in Pretoria.

Leef Lig: Vyf gewoontes van die vroeë kerk en wat dit vir ons vandag beteken
Jaco Strydom

ISBN: 9780796322555
E-pub ISBN: 9780796322562
Uitgewer: Lux Verbi
Datum vrygestel: Februarie 2021
Prys (BTW ingesluit): R200
Formaat: Sagteband, 176 bladsye

Meer oor die outeur

Chante Kelder-Jansen van Rensburg

Chanté Kelder-Jansen van Rensburg is 'n mediaskakelbeampte by AfriForum. In haar vrye tyd hou sy daarvan om boek te lees en ook om self so bietjie te skryf.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

Uit en tuis: ’n e-pos uit Nederland

Uit en tuis: ’n e-pos uit Nederland

Uit en tuis is ’n rubriek waarin ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar weer terug is in Suid-Afrika. Ons hoor graag van enigeen wat hul belewenisse met ons wil deel. Vandeesweek gesels ons met Natasha Viljoen wat al ses...

Kuberafknouery – Wat ouers moet weet

Kuberafknouery – Wat ouers moet weet

Deur Leandie Bräsler Tegnologie ontwikkel op ’n daaglikse basis. Dieselfde kan gesê word van kinders se vermoë om te boelie: Boeliegedrag wat eens net op die skoolterrein of op die skoolbus plaasgevind het, het nou beweeg na boeliegedrag deur die gebruik van...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest