Leesvordering:

SA ekspat opgeroep om te help by COVID-19-toetsstasies in Nieu-Seeland

Apr 21, 2020

Die popmusiek-ikoon Madonna het onlangs onder skerp kritiek deurgeloop toe sy op ’n video  vanuit ’n melkbad vol roosblare na die koronapandemie as ’n groot “gelykmaker” verwys het.

Hoewel haar stelling nie noodwendig die sosio-ekonomiese uitdagings wat baie middel- en laerklasgroepe in die gesig staar weerspieël nie, is dit tog tot ’n sekere mate nie heeltemal onwaar nie.

In die lig van die Covid-19-krisis ervaar talle eerste- én derdewêreldlande vir die eerste keer soortgelyke uitdagings, onder meer ekonomiese onsekerheid en ’n tekort aan mediese voorraad en nooddienspersoneel. Die boodskap aan dié lande se burgers is ook nóú wêreldwyd dieselfde. “Ons mediese personeel bly by die werk vir jou, so jy moet tuisbly vir hulle.”

Nieu-Seeland is een só land, wat soos Suid-Afrika, sedert Maart vanjaar in ’n staat van inperking is. Tot op hede het meer as 1 000 mense in Nieu-Seeland positief getoets vir Covid-19.

Sarah Dalton, uitvoerende direkteur van die vakbond ASMS (Association of Salaried Medical Specialists) het onlangs gesê dat Nieu-Seeland se mediese werksmag op enige gegewe dag reeds yl gesaai is, met min senior dokters en verpleegsters tot hulle beskikking. Sy het ook daarop gewys dat Nieu-Seeland veral staatmaak op hul geskoolde immigrante.

Gevolglik is talle werkendes met ’n basiese mediese agtergrond opgeroep om te help met Covid-19-toetse.

Een só ’n geskoolde immigrant is Karla Roodt, ‘n spraak- en taalterapeut by die departement van gesondheid in Wellington. Sy en haar man, Martin, ’n meganiese ingenieur, het in 2019 die groot skuif van Gauteng na Tawa, ’n woonbuurt sowat 15km vanaf Wellington se middestad, gemaak.

Martin en Karla Roodt.Martin en Carla Roodt.

“Hulle vermoed die getal Covid-19-gevalle gaan binnekort in Nieu-Seeland styg omdat die toetskriteria onlangs verander het. Voorheen moes jy in die laaste maand in die buiteland gewees het of in kontak met iemand gewees het wat al positief getoets het, maar nou kan jy ook getoets word as jy van die simptome het. Hierdie maak die deur nou oop vir baie meer toetse en dit is hoekom ek as spraakterapeut opgeroep is om te help met die toetse,” verduidelik sy.

Sedert 25 Maart is dié land, met sowat 4,8 miljoen inwoners, in ’n maandlange staat van inperking. Die reëls is egter minder streng as in Suid-Afrika. “In terme van inperking, mag ons beslis meer doen as Suid-Afrikaners. Ons is baie dankbaar daarvoor dat ons darem bietjie kan rondloop as die ‘kajuit koors’ te rof raak.

“Ons moet almal by die huis bly, tensy ons gaan stap, inkopies doen of dokter toe moet gaan. Die noodsaaklike dienste word nog elke dag gelewer en diegene wat van die huis af kan werk, gaan daarmee voort,” sê Roodt.

Roodt sê haar man het hul studeerkamer as sy kantoor geannekseer, terwyl die leefarea nou haar  “virtuele terapie-kamer” geword het. “My kamera, babapop en sy bottel is elke dag slaggereed vir terapie, sommer so in ons sitkamer.”

Hoewel hul volgens Roodt “nie so drasties ingeperk is nie”, is daar steeds baie hartseer en frustrasie wat met hierdie virus gepaard gaan. Die egpaar sou in Mei vanjaar Suid-Afrika toe gekom het vir twee van hul beste vriende se troue en om by familie te kuier. “Dit is vir my bitter hartseer dat baie mense se spesiale geleenthede gekanselleer of uitgestel is. Daar is soveel mammas wat sonder ’n familie geboorte moet gee, of oumas en oupas wat alleen ’n groot verjaarsdag moet vier en selfs mense wat hul laaste asem in isolasie uitblaas.”

Daarom benadruk sy die belangrikheid om die regulasies tydens die pandemie te gehoorsaam. “Ek voel ons elkeen moet doen wat ons kan om hierdie so vinnig as moontlik te stop. Ons moet dit stop sodat mense weer hul families kan sien, weer kan werk toe gaan en sodat daar nie nóg maatskappye hul deure hoef te sluit nie. Die finansiële implikasies van hierdie virus affekteer baie meer mense as wat die fisiese simptome doen. Daarom móét ons by die huis bly, na ons land se leiers luister en vir nou maar van ons menslike dinge opgee. Ons moet gehoorsaam wees aan God, want net Hy kan ons die rustigheid gee wat ons nou so nodig het.”

Sy sê tergend dat die inperking nou wel beteken dat haar geliefdes in Suid-Afrika makliker beskikbaar is vir video-oproepe.

“Só iets raak ons almal, dit breek ons almal, maar tog bring dit mense op ’n manier ook nader aan mekaar. Skielik is baie mense in soortgelyke bootjies. Ons lag saam, ons huil saam en soos tipiese Suid-Afrikaners braai ons tot saam met geliefdes, al is dit via ’n video-oproep!”

 

Hierdie artikel is beskikbaar gestel deur Forum Nuus
Die skakel na die oorspronklike artikel: SA EKSPAT OPGEROEP OM TE HELP BY COVID-19-TOETSSTASIES IN NIEU-SEELAND

Meer oor die outeur

Jhua-nine Wyrley-Birch

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Soos jy nooit die reuk van ’n stofpad ná die reën sal vergeet nie, so het elke Suid-Afrikaner ervaringe gehad wat ’n mens nie anders kan as om te mis nie. Sê wat jy wil, Suid-Afrika is uniek. Daar is nie veel plekke in die wêreld waar jy oor soveel mooi vlaktes kan...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest