Leesvordering:

Saai stel Die Wynboer bekend om druk op familiewynboere te verlig

Okt 23, 2020

Saai (Suider-Afrika Agri Inisiatief) se wynbemarkingsprojek, Die Wynboer, is op 22 Oktober 2020 by die Marianne-wynlandgoed in Stellenbosch bekend gestel. Die Wynboer is ’n aanlyn wynwinkel wat daarop gemik is om familieboerwyne teen kelderdeurpryse aan verbruikers van regoor Suid-Afrika beskikbaar te stel.

“Gedurende vlakke 4 en 3 van die inperking het Saai meer as 220 wynboere verteenwoordig in ’n hofsaak teen minister Nkosazana Dlamini-Zuma en andere om die verbod op die verkoop van wyn op te hef aangesien dié verbod ontsaglike skade aan die bedryf veroorsaak het. Die Wynboer is die tweede helfte van ons inisiatief om familiewynboere te help om hulle bedryf weer aan die gang te kry,” sê Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai.

Tans beloop die skade tot die wynbedryf R7,5 miljard in die sewe maande sedert die inperking aangekondig is. Na raming is daar ’n oorskot van byna 400 miljoen liter wyn, wat meer as Suid-Afrika se plaaslike jaarlikse verbruik is.

Saai is baie bekommerd oor die duisende hektaar wingerde wat in die gedrang is en dat tot 80 familieplase verlore kan gaan. “Van die oudste familieplase in ons land is in die Wes-Kaap geleë. As netwerkstruktuur vir familieboere is dit vir ons kritiek belangrik om hierdie boere op hul plase te hou. Hierdie plase is nie net wynplase nie – daar is in die meeste gevalle ook ’n restaurant en akkommodasie op die plaas wat geweldig baie werk skep – veral op die platteland, waar werk broodnodig is. Dit is voorts ook ’n toerisme-aantreklikheid wat eie aan die Boland en die Wes-Kaap is,” sê dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai.

Aggressiewe bemarking van wyn kan veel meer as net die vernietigende impak van irrasionele COVID-19-regulasies teenwerk en bydra om van wynsurplusse ontslae te raak. Dit kan ook werkgeleenthede in stand hou, boere op hulle plase hou én die streek se ekonomie red.

Terwyl die owerhede nog absoluut niks gedoen het om die selfgemaakte krisis op te los nie, moet wynplaasfamilies die beste digitale en bemarkingstegnologie inspan vir die herstel van die bedryf.

Die Wynboer sal aanvanklik 10 wynplase se produkte op die webtuiste lys, waarna daar weekliks nog plase bygevoeg sal word.

“Hierdie platform gee aan elke verbruiker toegang tot wyne wat nie noodwendig plaaslik beskikbaar is nie. Dit skakel voorts ook die middelman uit, wat vir die wynboer meer waarde in sy sak beteken,” sê Kwagga Boucher, wynmaker en uitvoerende hoof van Die Wynboer.

“Hierdie webtuiste is meer as net ’n wynwinkel. Elke wynmaker het nou ’n platform om die storie van die plaas en die agtergrond van die wyne te vertel. Jy kan nie elke dag ’n familiewynplaas in die Kaap besoek nie, maar Die Wynboer stel jou in staat om elke dag ’n familiewyn by jou huis te geniet,” voeg Boucher by.

Die Wynboer is beskikbaar by www.diewynboer.co.za.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Soos jy nooit die reuk van ’n stofpad ná die reën sal vergeet nie, so het elke Suid-Afrikaner ervaringe gehad wat ’n mens nie anders kan as om te mis nie. Sê wat jy wil, Suid-Afrika is uniek. Daar is nie veel plekke in die wêreld waar jy oor soveel mooi vlaktes kan...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest