Leesvordering:

Sagres: ’n Fees vir die sintuie en elke reisiger se droom

Des 10, 2019

Voordat ek Portugal besoek het, het ek nog nooit van Sagres gehoor nie. Omdat dit bo-aan die mees suidwestelike kranse van die Europese vasteland geleë is, het mense vir baie eeue lank geglo dat Sagres die eindpunt van die aarde is. ’n Besoek aan die Algarve sal nie tot sy volle reg kom sonder om in hierdie klein dorpie aan te doen nie.

Omdat Sagres net omtrent 2 000 permanente inwoners het, is dit ’n klein, oulike, ideale wegkomplek van die skares somerliefhebbers in Faro en Lagos. Dit is nou wel ’n vissersdorpie, maar toerisme het die afgelope paar jaar die hoofbron van inkomste begin word en daar is nou baie vakansiewoonstelle, boutique-hotelle en Airbnb-verblyf beskikbaar. As jy in styl wil bly, bespreek reeds lank voor die tyd een van die pragtige kothuise by Cercas Velhas. Maak seker dat jy ’n draai maak by die ongelooflik kleurvolle Ceramica Paraiso-potterbakkerywinkel in die dorpie. Die mure vol kleurvolle ontwerpe met tradisionele patrone sorg daarvoor dat dié winkel een van die plekke in die Algarve is wat die meeste op Instagram gedeel word.

Vanweë die ontspanne atmosfeer wat daar heers, is dit makllik om Sagres te voet te verken en ’n mens móét net afstap na die beskutte hawe. Daar kan jy jou eie vis kies en kyk hoe dit oor ’n oop vuur gaargemaak word by A Sereia – die klein restaurant wat deur ’n familie besit word en ongetwyfeld van die heel beste seekos in Portugal bedien.

Die hele kuslyn rondom Sagres word gedomineer deur hoë kranse wat deur die woeste see en sterk winde uitgekerf is en waarvoor hierdie omgewing bekend is. Die kranse maak so nou en dan plek vir klein inhamme en beskermde strandjies – ek glo die beste strandjies in Portugal is hiér te vinde. Maak seker dat jy al vier Sagres se hoofstrande besoek as jy daar is: Praia da Mareta, Praia do Tonel, Praia da Baleeira en Praia do Martinhal is almal uniek en ongelooflik mooi.

Sagres is ’n droombestemming vir buitelug-entoesiaste en bied van die beste stap-, branderplank- en berfietsgeleenthede in suidelike Portugal. Jy kan branderplanke en fietse huur, maar maak seker dat jy dit vooraf bespreek as jy in piekseisoen daarheen gaan. Daar is ’n paar branderplankskole waar jy jou vaardighede kan verfyn.

Omdat die dorpie redelik ver geleë is, is daar feitlik geen openbare vervoer in Sagres nie. Daar is ’n bekostigbare busdiens wat gereeld van Lagos na Sagres ry, maar as jy eers daar is sal jy die plek verder te voet of met ’n fiets moet verken. As jy meer vryheid wil hê om die pragtige omgewing en die besienswaardighede te ontdek, is dit ’n goeie idee om ’n kar te huur. Een daarvan, en die enigste groot toeriste-aantreklikheid in Sagres, is die Fortaleza de Sagres. Die fort het net een beskermende muur aan die suidelike kant – die res daarvan word deur die regaf kranse rondom die klein lighuisie begrens. In Oktober 2019 was die ingangsfooi €4 per persoon en jou besoek sal veral die moeite werd wees as jy na die lighuis, die grotto en die groot windkompas gaan kyk en 1,5 km ver langs die krans-afgronde gaan stap.

As jy met ’n gehuurde voertuig in Sagres is en die omgewing ’n bietjie verder wil verken, vat dan die pad na die Cabo de Sao Vicente, of Cape St. Vincent. Die rit soontoe sal jou omtrent 10 minute neem. Die Cape St. Vincent-lighuis is in 1846 gebou waar die ruïnes van ’n 16de eeuse Fransiskaanse klooster eens was. Dit troon 24 m (79 voet) bo die dorre landskap uit. Die lighuis, wat tans een van die sterkste lighuise in Europa is, hou wag oor een van die besigste skeepsroetes in die wêreld met ’n lamp wat tot so ver as 60 km (37 myl) ver gesien kan word.

Die maklikste manier om tot by die Cabo de Sao Vicente-lighuis te kom, is deur gebruik te maak van ’n gehuurde motor, maar ene Eva het ’n busdiens wat elke dag om 11:15 vanaf Sagres vertrek en om 15:05 weer terugkeer van die lighuis af. In Oktober 2019 het ’n enkelrit in beide rigtings €1.95 gekos. Ek sal egter aanbeveel dat jy na vertrektye en pryse kyk voordat jy gaan, aangesien dit alles van die seisoen afhang. Daar is ’n dakkroeg in die lighuis, maar jy kan ook jou eie drinkgoed saamvat en dit in piekniek-styl by die kranse geniet – dit is een van die beste plekke in die wêreld om na die sonsondergang te kyk. Maak seker dat jy genoeg warm klere saamvat wanneer jy Cabo de Sao Vicente en die lighuis besoek. Omdat dit redelik oorgelewer is aan die elemente en die wind baie sterk waai, gaan jy baie kouer kry as in die res van die Algarve.

As jy nie Cabo de Sao Vicente wil besoek vir die uitsig nie, gaan dan ten minste sodat jy die worsies kan eet. Die Letze Bratwurst vor Amerika-stalletjie is die laaste plek waar jy ’n worsie kan koop voordat jy die Atlantiese Oseaan oorsteek op pad na die Amerikas toe. Dit is nou al ’n instelling en ’n besoek aan Sagres is nie volledig as jy nie ’n Duitse worsie geëet het terwyl jy oor die kranse uitkyk nie.

As jy graag meer wil weet oor my reise in Portugal, volg my op Instagram by @luzanne_f.

Meer oor die outeur

Luzanne Fletcher

Luzanne Fletcher is gebore in Johannesburg en het in Krugersdorp aan die Wes-Rand grootgeword. Ná sy haar studies aan die Noordwes Universiteit voltooi het, het sy vir ’n jaar as ’n fotograaf op P&O Cruises Australia se plesierbote (cruise ships) in Australië gaan werk. Dit was haar eerste ervaring van in die buiteland bly. Buiten Australië het sy ook die geleentheid gehad om onder meer Nieu-Seeland, Fidji, Tonga en Singapoer te besoek. Dit is ook op een van hierdie plesierbote waar sy ’n aantreklike Engelsman ontmoet het. Ná haar tyd op die skepe het sy na Suid-Afrika teruggekeer en in die mediabedryf begin werk. Ná ’n langafstandverhouding van twee jaar met haar Engelsman het hulle in Suid-Afrika afgehaak en is sy vanaf Desember 2017 voltyds in Scarborough – ’n klein dorpie aan die noordoostelike kus van Engeland – gevestig.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Onderneming in die Kollig: Ipixel web & graphic solutions

Onderneming in die Kollig: Ipixel web & graphic solutions

Hierdie week se kollig is op Ipixel web & graphic solutions in Nieu-Seeland. Ipixel web & graphic solutions is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom om...

’n Netwerk wat vir jou werk

’n Netwerk wat vir jou werk

Deur Sue-Ann de Wet Die belangrikheid van ’n ondersteunende netwerk kan nie onderskat word nie. Die bou van ’n netwerk in ’n nuwe land gaan oor meer as net sake doen of werk soek; dit gaan ook oor die skep van ’n ondersteuningsbasis wat jou kan help om die gevoel van...

Watter tradisies laat jy en jou gesin voortleef in die buiteland?

Watter tradisies laat jy en jou gesin voortleef in die buiteland?

Kyk die ouer garde van ander lande jou snaaks aan as jy nog na hulle as “Oom” en “Tannie” verwys? Langarmsokkie julle nog in die sitkamer op Afrikaanse sokkietreffers? Ons kultuur is meer as net melktert en braaivleis. Wat is daardie klein gewoontes wat jy net...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest