Die beplande sluiting van Volksblad se gedukte uitgawe aanstaande maand, volg ‘n eeu na die afsterwe van een van die eerste Afrikaanse joernaliste en later redakteur, Jepete Toerien. Jepete is stellig meer bekend as die persoon wat die woorde van My Sarie Marais, met wie hy getroud was, geskryf het.

Jacobus Petrus Toerien is in 1859 in die Paarl gebore, en sterf in 1920, en is in Middelburg (Transvaal) begrawe waar hy en Sarie tot sy dood gewoon het. Sarie is in Bloemfontein, tuiste van Volksblad, dood en armoedig begrawe.

Volgens die Toerien-stamregister, wat deur Barend J. Toerien opgestel is, het Jepete as jong man subredakteur van De Patriot geword, en ook artikels vir die tydskrif, Ons Klyntji, geskryf. Hy was baie betrokke by die Eerste Afrikaanse Taalbeweging.

In 1883 het hy na die Transvaal verhuis, waar hy Sarie as sestienjarige ontmoet het, toe hy ‘n onderhoud met haar pa, Jacob Maré, gaan voer het. Volgens verskillende rekords was die twee met eerste opslag op mekaar verlief, en is getroud terwyl Satrie nog 16 jaar oud was. Jepete was toe 25 jaar oud. Jacob Maréstraat in Pretoria is na haar pa vernoem, maar die naam is later verander. Jacob was lid van die ZAR se uitvoerende raad, en het as Jors Voeter bekend gestaan omdat hy so kon baklei om sy mening in die raad deurgedruk te kry.

Die jong Toerien-egpaar het hulle in Pretoria gevestig waar Jepete oa joernalis was, maar ook prospekteerder en sekretaris van die Leewpoort Goudmijn Maatschappij. Die egpaar het in relatiewe welvaart geleef, maar weens gesondheidsredes in 1890 na Middelburg verhuis. In Middelburg het Jepete ‘n nuwe koerant, De Republikein met sy eie drukpers begin, asook ’n boekwinkel. De Republikein het genl Joubert in sy stryd ten pres. Paul Kruger gesteun, en eindeloos met die redakteur van van Het Dagblad, ds. S.J. du Toit, die draak gesteek en as pro-Engels beskryf.

Jepete was egter ook ’n digter, en het in Afrikaans, Engels en Nederlands gedig. Die grootste gedeelte is egter later deur sy weduwee vernietig, wat besonder godsdienstig was en ’n afkeer in menslike verheerliking gehad het. Barend Toerien het met die opstel van die stamregister egter ’n klompie van Jepete se werke in die hande gekry en in die stamregister opgeneem.

Intussen het die lied, My Sarie Marais, gewild geword. Volgens die onbekende Engelse tydskrif was die van “Marais” in plaas van “Maré” die gevolg van ’n drukfout. Die lied is ook oral op kommando gesing waar Jepete aan die Anglo-Boere-oorlog deelgeneem het. Jepete het egter malaria opgedoen, en was nooit weer volkome gesond nie. Boonop het sy drukkery en boekwinkel na die oorlog afgebrand, en het nooit finansieel herstel nie. Na sy dood in 1920, het Sarie Bloemfontein toe verhuis om by haar dogter te gaan woon. Sy is in 1939 oorlede, en sonder grafsteen begrawe. Later het die Afrikaanse Nasionale Letterkundige Museum ’n steen uit ’n konsentrasiekamp geneem en as grafsteen op haar graf aangebring.

Barend Toerien was ’n betreklik bekende Afrikaanse digter wat lank in die VSA gewoon het, en ook as deel van die 60’gers beskou is. Na die dood van Elizabeth Eybers was hy kortstondig die Doyen van Afrikaanse skrywers voor hy in sy 90gerjare oorlede is. Barend en Breyten Breytenbach het mekaar goed geken, en beide was ontnugter oor verskeie aspekte van die post-1994-bedeling. Barend het in Die Strand afgetree, en van daar gereeld “aftree-gedigte” aan Die Burger gestuur, waarin dit geplaas is. Uit verskeie van sy gedigte het sy bittere telleurstelling met die Nuwe Suid-Afrika geblyk. Hy het veral swaar gesluk aan hoe die bruin mense weer eens die kort lootjie getrek het.

Jepete en Barend was waarskynlik die bekendste Toeriens met ink in die are, hoewel Jepete se digterlike kwaliteite warskynlik nooit bekend sal wees nie. Die ink in die are het begin vloei ongeag die feit dat die stamvader, ‘n Sweed wat in 1780 in die Kaap aangeland het, nog as analfabeet sy demissie by die VOC met ‘n kruis geteken het. Dit het ook tot die ongewone spelling van die van aanleiding gegee. Die van Toerien is van die naam van ‘n dorpie afgelei, een van talle in Swede wat weer na die dondergod, Tor (later Thor) vernoem is. Thor word in die Skandinawiese tale as Toer uitgespreek, en omdat die stam’ader nie kon lees of skryf nie, is die van gewoon foneties as Toerien opgeteken.  ‘n Bruin stam, wat ook in die stamregister opgeteken is, se van word as Torien gespel.

 

Wêreldwyd
Wêreldwyd

Pin It on Pinterest