Schloss Pillnitz op die oewer van die Elberivier, naby Dresden in Duitsland is ‘n wonderlike besoekpunt vir die toeris wat lief is vir kultuur of die natuur.

’n Verwysing na Pillnitz Paleis en Park as setel en herehuis van die plaaslike adel is die eerste keer in 1335 aangeteken.  Aan die einde van die sewentiende eeu het dit die eiendom van Augustus die Sterke geword.  In 1706 het hy die eiendom aan sy geliefde, Anna Constantia von Cosel, gegee en sy het van 1713 tot 1715 daar gebly.  Die liefdesverhouding het egter skipbreuk gely en Augustus het die landgoed teruggeneem.  Dit is daarna onder meer vir allerlei uitspattige partytjies en huwelikfeeste gebruik.  Maskerballe is gehou, glybane en rondomtalies is opgerig, en al wat barokvermaak was, is daar aangebied.  Meer geboue is mettertyd op die terrein opgerig.  Van 1788 tot 1791 is ’n Sjinese tuin daar aangelê en in 1804 het Christian Friedrich Schuricht ’n Sjinese Pawiljoen tot die kompleks bygevoeg.  Argitektuur en versiering met ’n Sjinese tema was hoogmode in dié tyd.  Op 1 Mei 1818 het ’n groot ramp die pragtige Pillnitz getref.  ’n Brand het uitgebreek en verskeie van die oorspronklike geboue is vernietig.  Daar is toe met die oprigting van die sogenaamde “Nuwe Paleis” begin.  Hierdie projek het tot 1830 geduur.  Die adellikes van die omgewing het voortaan die kompleks as hulle somertuiste gebruik.  Van 1859 tot 1861 is die grootste destydse gietyster kweekhuis in Duitsland hier opgerig.  Dit beslaan 660 vierkante meter en staan as die Palmhuis bekend.  Na afloop van die Tweede Wêreldoorlog is Pillnitz as geheel as museumterrein bewaar.  In 1990 het grootskaalse restourasiewerk daaraan begin.  Skaars was die meeste van die werk afgehandel of nog ’n ramp het dit bedreig – in Augustus 2002 het die Elberivier sy walle oorstroom en groot skade aan die kompleks aangerig.  In die gerestoureerde museumkombuis kan ’n mens vandag nog die hoogste vloedwatermerk sien.  Dit moes ’n skrikwekkende ervaring vir die omgewing se mense gewees het.  Gelukkig is die skade weer ten volle herstel en vandag kan besoekers die pragtige tuine geniet, die paleismuseum of handwerkmuseum (wat beide daar gehuisves word) besoek, iets te ete in die teetuin bestel, of die winkels van allerlei vakmanne soos byvoorbeeld glasblasers ondersteun.  Pillnitz kan oorland bereik word, of nog beter (en meer romanties!), per boot op die Elberivier.

Die restourasie van die Palmhuis is in 2009 voltooi.  Besoekers kan inheemse plante van Suid-Afrika, Nieu-Seeland en Australië daarin bewonder.  Ten tye van die oprigting van die Palmhuis was die versameling van plante uit eksotiese dele van die wêreld hoog mode in Europa.  Onder die leiding van landskapsargitekte en botaniste soos Peter Joseph Lenné (1789-1866) is pragtige plantversamelings opgebou.  Die gerestoureerde Palmhuis slaag daarin om die eertydse glorie van hierdie kweekhuis te laat herleef.  Besoekers kan plante soos ons koningsprotea, strelitzias en palmbome daarin bewonder.  Dit is ook ’n mooi herinnering aan vorige eeue se belangstelling in ons Suid-Afrikaanse plantelewe en die unieke bewaring daarvan op vreemde bodem.

In die somer is die tuine ’n lushof van veelkleurige blomme en ou bome.  Mense sit en kuier oral in die skadu rond, kinders jaag skoenlappers en nou en dan doen die boot by die kaai aan om passasiers op en af te laai.  ’n Dag daar vlieg vinnig verby!

Hierdie artikel is ook beskikbaar in: English

Alana Bailey
Alana Bailey
Alana Bailey is Adjunk Uitvoerende hoof van AfriForum verantwoordelik vir Internasionale skakeling, taal en kultuur.

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest