Leesvordering:

Sewe belangrike feite oor migrasie

Jul 17, 2019

Migrasie bly ’n warm tema. In die buiteland bepaal migrasiebeleide selfs toenemend verkiesingsuitslae en moet politieke partye baie duidelik in hul manifeste uitspel hoe hulle oor immigrasie na hulle onderskeie lande voel.

Heelwat Suid-Afrikaners emigreer tans en die ou, verstokte debat van “bly of gaan” is weer op verskeie mediaplatforms aan die woed – iets wat totaal onnodig is.

Ná 29 jaar se ervaring met immigrante na Suid-Afrika, emigrante uit Suid-Afrika en migrante wat na hulle land van oorsprong terugkeer, wil ek graag weer ’n paar feite oor die migrasie van Suid-Afrikaners in die kollig plaas.

  1. Besluite is persoonlik

Die eerste is dat die besluit om te emigreer of te bly, ’n persoonlike besluit is. Niemand het die reg om enigiemand anders se besluit te veroordeel nie, omdat elkeen van ons ’n eie waardestelsel het wat ons keuses bepaal. Probleme wat vir die een mens onoorkomelik lyk, pla die ander een glad nie. Elkeen leef volgens sy eie, ononderhandelbare lewenstandaard. Elkeen se reaksie op ervarings verskil hemelsbreed van ander s’n. ’n Voertuigkaping kan een slagoffer net meer vasberade maak om in die land te bly en misdaad teen te staan, terwyl ’n ander só deur vriende se ervaring geraak word, dat hy summier begin beplan om te emigreer. Nie een van die twee se keuse is verkeerd nie – dit is vir elkeen se lewensuitkyk die regte keuse. Dit is die realiteit.

Diep gelowiges se keuses verskil. Sommige glo hulle is geroepe om te bly en hier ’n verskil te maak; ander glo hulle is geroepe om elders ’n rol te gaan speel. Met ons aardse insig kan ons nie besluit wie reg of verkeerd is nie. Elkeen moet self besluit, en dit is nie ’n besluit wat aan enigeen buite gesinsverband verduidelik hoef te word nie. Niemand hoef jou besluit om te bly of te gaan te verdedig nie. Dit is jou besluit en jy moet verantwoordelikheid daarvoor aanvaar – ook as dit mettertyd blyk dat dit ’n fout was.

Ons het baie bronne tot ons beskikking om navorsing te doen oor al die voor- en nadele van elke opsie, asook gesonde verstand om te dink of ons met die keuse sal kan saamleef. Sorg net dat jy ’n ingeligte besluit neem en nie deur ’n tydelike opwelling van emosie aangevuur word nie.

  1. Min dinge in die lewe is seker

’n Ou grappie sê net twee goed in die lewe is seker: belasting en die dood. Dit is ook so met die besluit om te gaan of te bly. Vandag voel iemand dalk 100% seker van sy keuse, maar oor ’n jaar het sy omstandighede soveel verander dat die besluit nie meer sinvol is nie. Mense wat nie kon wag om te emigreer nie en verklaar het “dat hulle sommer op die lughawe hulle Suid-Afrikaanse paspoorte gaan verbrand,” moes al om verskeie redes terugkeer – van veranderde gesondheidstoestande, verlange, nuwe besigheidsgeleenthede in Suid-Afrika en ’n onvermoë om elders aan te pas tot werkverlies. Mense wat weer aan die ander kant gesweer het hulle sal die laaste wees om Suid-Afrika te verlaat, het om soortgelyke redes geëmigreer. Skielik trou hulle met ’n buitelander en volg dié oorsee, of kry ’n werksaanbod wat net te goed is om te weier, raak ’n misdaadslagoffer en sien nie meer kans vir die lewe in Suid-Afrika nie, of ’n duisternis ander redes. Moet dus nooit dink jou keuse is permanent nie – wat natuurlik nog ’n rede is waarom jy nie ander se keuses moet veroordeel nie. Belangriker nog is dat jy nie brûe moet verbrand nie (soos in die lawwe paspoortvoorbeeld hier bo). Maak seker geen besluit sal jou gevange hou as jy dalk van plan verander nie.

  1. Mense verander

Dikwels word mense se besluit om te gaan of te bly deur familie of vriende bepaal. Dit is baie gevaarlik. Ouers verlang byvoorbeeld na kinders en pak alles op om by hulle in die buiteland aan te sluit. Daar gekom, is die kinders en kleinkinders reeds gevestig in ’n nuwe roetine en vriendekring en die ouers pas nie noodwendig daarby aan nie. Hulle kan dan vereensaam, veral as hulle nie meer baie mobiel of welvarend is nie. Net so verlang emigrante soms terug na vriende en familie “by die huis” en migreer terug, maar hier gekom, ontdek hulle die mense het aanbeweeg, nuwe vriende gemaak, nuwe stokperdjies gekry en het min tyd om aan hulle te spandeer. Die keuse om terug te keer, moet dus op baie meer as die herinnering aan goeie tye saam met geliefdes berus.

  1. Prioriteite verander

Op verskillende ouderdomme geld verskillende prioriteite en beïnvloed ook die keuse oor waar “huis” is. Vir ’n jongmens is die kwessie van bevordering waarskynlik minder belangrik as vir iemand wat al meer as tien jaar in ’n beroepsveld is. Mense sonder kinders verplant makliker. Hulle het nog nie die behoefte aan ’n familienetwerk wat kan help kinders oppas en grootmaak of familiebyeenkomste met niggies en nefies, ooms en tantes nie, of aan ’n skoolervaring vir hulle kinders binne ’n waardestelsel soos dié waarmee hulle grootgeword het nie. Ouer mense fokus baie meer op kwessies soos die waarde van ’n pensioen te midde van wisselkoerse wat skommel en beskikbare gesondheidsorg as iemand in sy vroeë twintigs. Jongmense wat nou maklik wortels uittrek en gesonde, aktiewe ouers agterlaat, het skielik nuwe oorwegings as die ouers ouer en hulpbehoewend word en nie in ’n ander land by hulle mag aansluit nie. Dit moet by keuses in gedagte gehou word.

  1. Kuier is nie bly nie

’n Land lyk wonderlik as jy daar toer of tydelik daar werk, want jy het jou retoerkaartjie in jou sak. Buitelanders is oor die algemeen ook baie vriendeliker teenoor ’n toeris as teenoor ’n migrant, want die toeris bring geld in, maar die migrant kompeteer vir plaaslike hulpbronne. Moet dus nooit jou idee van ’n land op jou ervaring as toeris baseer nie. Doen moeite om werklike lewensomstandighede na te vors voor jy jou tasse toerits. Dieselfde geld ook vir remigrasie. As jy een keer in drie jaar vir twee weke by die familie kom kuier, is almal dol van vreugde om jou te sien en wil jou graag onthaal. As hulle egter sien jy trek in en beplan nie om weer weg te gaan of na jouself om te sien nie, is hulle dalk minder warm en gasvry.

  1. Probleme gaan saam

Emigrasie gaan nie probleme in jou eie of jou gesin se lewe oplos nie. As jou huwelik nie werk nie, is dit iets wat jy en jou huweliksmaat moet uitsorteer. Of jy nou in Perth of Petrusburg bly, maak weinig verskil. As Sarie verkeerde maats by die skool maak of Hansie begin met dwelms eksperimenteer, is die probleem nie jou adres nie, maar iets wat in die gesin opgelos moet word. As jou lewensuitkyk somber is en jy nie die daaglikse gebeure in die oë kan kyk nie, gaan dit nie elders makliker wees nie. In Suid-Afrika is dit dalk misdaadberigte wat jou teen die mure uitdryf, in Engeland die onsekerheid oor Brexit, in Ysland die weer … Jou persoonlike ingesteldheid speel ’n rol, en emigrasie is nie ’n kitsantwoord nie.

  1. Salaris versus lewenskoste

Om net salarisse te vergelyk, is nie voldoende nie. Jy moet ook die bedrag vergelyk met jou vereistes en lewenskoste in die land waarin jy dit verdien. In Suid-Afrika is dit redelik noodsaaklik om voorsiening te maak vir privaat mediese versekering en sekuriteit, ons belastings is hoog, die koste van goeie privaat of openbare skole is duur. Elders is soortgelyke kostes dalk nie dadelik sigbaar nie. Gratis onderrig en mediese sorg word dalk beloof, maar wat is die gehalte daarvan, en is dit dadelik beskikbaar in geval van nood, of sal jy moet wag vir byvoorbeeld ’n knievervanging? Die besluit om te bly of te gaan moet dus met ’n sakrekenaar in die hand, koelkop en ná deeglike navorsing geneem word.

Ten slotte

Die besluit om te bly, te gaan of terug te keer, is nie eenvoudig nie, en die finansiële en emosionele koste is nie gering nie. Luister gerus na ander mense se ervarings, maar begin by selfkennis. Bekom betroubare inligting en besluit wat vir jou en jou gesin die beste sal wees voor jy die tasse uithaal of bêre.

AfriForum respekteer mense se individuele keuse om te bly, te emigreer of terug te keer. Ons beskou emigrante as ons nie-amptelike ambassadeurs wat steeds ‘n belangrike rol kan speel om AfriForum se doelstellings vanuit die buiteland te ondersteun en te bevorder. Dit is ook waarom ons kontak hou deur Wêreldwyd en Vriende van AfriForum.

Dit bly egter ook AfriForum se standpunt dat die Afrikaanse taal en kultuur slegs in ’n gekonsentreerde gemeenskap in Suider-Afrika sal kan voortbestaan, en daarom werk ons doelgerig om omstandighede plaaslik te verander sodat Afrikaners nie die land sal wíl verlaat nie.

Ons gun elkeen ’n voorspoedige toekoms en het waardering vir elkeen wat sy of haar roeping met vreugde uitleef. Ons is dankbaar saam met diegene wat weet waar hulle wil wees, en wens dié wat wonder sterkte toe.

Meer oor die outeur

Alana Bailey

Alana Bailey is Hoof van Kultuursake by AfriForum.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Soos jy nooit die reuk van ’n stofpad ná die reën sal vergeet nie, so het elke Suid-Afrikaner ervaringe gehad wat ’n mens nie anders kan as om te mis nie. Sê wat jy wil, Suid-Afrika is uniek. Daar is nie veel plekke in die wêreld waar jy oor soveel mooi vlaktes kan...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest