Leesvordering:

Sewe vaardighede wat kinders moet aanleer om teen boelies op te staan

Okt 3, 2018

Maandag, 1 Oktober 2018 was Wêrelddag vir Boelievoorkoming. In die laaste tyd skenk die media baie aandag aan die probleem van kinders wat mekaar boelie, nie net in Suid-Afrika nie, maar regoor die wêreld. Die publiek is bewus van wat die meeste ouers en skole reeds weet en beleef: kinders kan brutaal en wreed wees. Bekendes en mense in professionele beroepe was gewillig om voor die kameras te sê dat alle vorme van afknouery en boeliegedrag tot ‘n einde moet kom – en hulle is reg! Die vraag is: hoe sal ons dit tot ‘n einde bring? Hoewel skoolbeleide fokus op geen-toleransie van boeliegedrag, en daar kriminele vervolging is van uiterste gevalle van boeliegedrag, bly die beste verdediging teen boelies steeds om proaktief en ferm op te tree. Dit beteken glad nie dat die slagoffers van boelies moet saamspan om wraak te neem op die boelie nie. Ouers word eerder aangemoedig om hulle kinders met spesifieke vermoëns toe te rus wat hulle sal help om op te staan vir hulleself en om die boelies in hulle spore te stop. Met ander woorde: die wêreld gaan nie noodwendig vir ons kinders verander nie, maar ons kinders kan hulle eie wêreld verander deur ‘n stel vermoëns te ontwikkel wat die afknouery nie meer die moeite werd maak vir die boelie nie.

Vermoë 1: Staan saam

Boelies gaan te werk deur hulle slagoffers alleen en magteloos te laat voel. Kinders kan hulle mag herwin wanneer hulle met vriende en ondersteunende volwassenes saamstaan.

Vermoë 2: Skep bewustheid

Soms voel kinders dat volwassenes nooit iets doen nie, en dat dit tydmors is om hulle enigsins te probeer vertel van voorvalle van afknouery. Daar is wel gevalle waar volwassenes die erns van ‘n saak miskyk, maar dit is meer dikwels die geval dat volwassenes nie bewus is van wat aangaan nie. Boelies gebruik verhoudingsaggressie om hulle mag op ‘n subtiele en sosiaal aanvaarbare manier uit te oefen, met die gevolg dat volwassenes dikwels nie die situasie raaksien nie. Leer die kind dat dit sy verantwoordelikheid is om bewustheid te skep. Wees duidelik met die kind dat daar niks daarmee fout is om vir ‘n volwassene te vertel as hy geboelie word nie en dat dit nie lafhartig van hom is nie, maar eerder ‘n dapper en kragtige stap in die regte rigting.

Vermoë 3: Herdefinieer skinderstories/klikbek

‘n Dogtertjie gaan byvoorbeeld na haar ma toe en vertel dat sy bekommerd is dat sy as ‘n klikbek gebrandmerk sal word indien sy die busbestuurder vertel dat ‘n seuntjie op haar gespoeg het. Dit is partykeer presies wat die boelie wil hê ons moet dink, want isolasie is ‘n boelie se metode van intimidasie. Om ‘n volwassene te vertel kan in werklikheid die magsbalans en dinamiek tussen kinders balanseer. Wanneer ‘n boelie besef dat hy nie meer sy slagoffer geïsoleerd kan hou nie, verloor hy onmiddellik sy mag en krag.

Vermoë 4: Tree vinnig op

Hoe langer ‘n boelie mag het oor ‘n slagoffer, hoe sterker word sy houvas. Somtyds begin afknouery op ‘n relatief ligte manier, soos byvoorbeeld om iemand name te noem of te etiketteer, of met geringe fisiese aggressie. Nadat die boelie die situasie getoets het en vasgestel het dat die slagoffer nie vir ‘n volwassene daarvan sal vertel nie en nie sal opstaan vir sy regte nie, word die aggressie erger. Leer kinders dat die beste manier om teen boelies op te staan, is om mag te kry en dit te behou – eerder te vroeg as te laat.

Vermoë 5: Reageer selfgeldend/ met selfvertroue

Hoe meer ‘n boelie dink dat hy op ‘n slagoffer kan pik sonder enige nagevolge, hoe meer sal hy dit doen. Dit is hoekom ‘n selfgeldende reaksie so doeltreffend is wanneer die boelie teengestaan word. Kinders wat selfgeldend en met selfvertroue optree, gebruik met gemak die middeweg tussen aggressiewe reaksie (wat weer ‘n reaksie van afknouery ontlok) en passiewe reaksie (wat voortgesette afknouery in die toekoms ontlok).

Vermoë 6: Gebruik eenvoudige, onemosionele taal

Kinders met selfvertroue gebruik eenvoudige, onemosionele, direkte taal wat dit duidelik vir die boelies maak dat hulle nie slagoffers sal word nie. ‘n Kind moet geleer word om reaksies te gebruik wat onemosioneel is, want reaksies wat wys dat die kind baie maklik emosioneel gemaak kan word, is vir boelies ‘n aanmoediging om hulle mag oor daardie kind uit te oefen. Deur kinders aan te moedig om sonder woede, aggressie of vrees te reageer, leer jy hulle om selfvertroue te weerspieël. Op sy beurt sal die boelie dan besef dat hy nie regtig die potensiaal het om die kind te beheer nie.

Vermoë 7: Gebruik liggaamstaal om woorde te versterk

Wanneer kinders geleer word om met selfvertroue te kommunikeer, is dit goed om hulle ook liggaamstaal te leer wat hulle woorde versterk. Leer kinders om eenvoudige, nieverbale selfvertrouestrategieë te gebruik om die boelie te laat verstaan dat die kind bedoel wat hy sê, byvoorbeeld:

  • Behou oogkontak
  • Hou jou stem kalm en dieselfde
  • Staan die regte afstand van die boelie af
  • Gebruik die boelie se naam wanneer jy met hom praat

Leer kinders dat emosionele nieverbale taal – soos om weg te kyk, om jou stem te verhef, of om terug te tree – dit vir die boelie duidelik maak dat hy jou in sy mag het.

AfriForum se teenboeliegids kan gratis hier afgelaai word vir meer inligting: https://www.afriforum.co.za/wp-content/uploads/Teenboeliegids_Digital.pdf
As jou kind se skool by AfriForum se teenboelieveldtog betrokke wil raak, stuur ‘n E-pos aan Leandie Bräsler van AfriForum (Koördineerder vir leierskapsontwikkeling) by leandie.brasler@afriforum.co.za.

Meer oor die outeur

Leandie Bräsler

Leandie Bräsler is bestuurder van junior leierskapontwikkeling by AfriForum.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Afrikaans is Groot hou vir ’n 11de keer konsert en jy kan wen!

Afrikaans is Groot hou vir ’n 11de keer konsert en jy kan wen!

In ’n wêreld vol onbekendes is daar een bekende: Afrikaans is Groot. Dis ’n saamkomplek omjou taal, jou kultuur en jou menswees te vier. En die jaar is geen uitsondering wanneer diegrootste familie-reünie nóg vanaf 8 to 17 November 2024 in die SunBet Arena in...

AfriForum vier 18 jaar van selfdoen

AfriForum vier 18 jaar van selfdoen

AfriForum, ’n organisasie wat vandag meer as 315 000 lede in elke uithoek van die land verteenwoordig, vier vandag sy agtiende bestaansjaar. Dié burgerregteorganisasie is op 26 Maart 2006 vir die eerste keer aan die publiek bekendgestel in ’n berig oor sy...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest