Leesvordering:

Skaapbraai in Kent

Mei 19, 2016

– Alana Bailey, AfriForum –

‘n Tipies Suid-Afrikaanse toneel: agter ‘n windskerm hang twee skape aan ‘n spit. Die watertandgeur hang swaar in die lug. Die braaiers praat diep sake om die kole. Agter speel die kleinspan op skoppelmaaie, ‘n wipplank en klimraam. Koelbokse word uitgepak en ‘n CD-speler sorg vir lekker Afrikaanse agtergrondmusiek.

Tipies Suid-Afrikaans? Ja, buiten daarvoor dat hierdie toneel op Saterdag, 7 Mei 2016 by die Stockbury Memorial Hall in ‘n klein dorpie in Kent, Engeland afgespeel het.

Die feit dat dit ‘n warm lentedag in Engeland was, het beslis tot die feestelikheid van die dag bygedra. Sowat 60 Suid-Afrikaners en hulle krose het saamgekom om te kuier en om die braaivleisvure te ontspan.

Hierdie skaapbraai was die breinkind van Simon du Plooy en Ben Earle. Toe hulle hoor Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, en Alana Bailey van AfriForum kom in Engeland besoek aflê, het hulle planne beraam vir só ‘n Suid-Afrikaanse byeenkoms. Pieter en Mariaan de Lange het hand bygesit en die prentjiemooi plattelandse dorpie se krieketklubhuis vir die fees gehuur.

Wildvreemde mense van alle ouderdomme en uit alle beroepsvelde het binne minute vriende geword en ‘n hond uit ‘n bos gekuier. Engelssprekende eggenote het ook maklik ingeskakel. Staaltjies is uitgeruil, foto’s geneem, en later ook bietjie trane gestort – die kuier was vrolik, feestelik en gesellig, maar die verlange na die geliefdes “by die huis” in Suid-Afrika lê maar vlak. Natuurlik is familie ook uitgelê. Soos een van die gaste gesê het: “Ek ken niemand hier nie, maar ek stap net nader en sê ‘Hallo Jaco, hallo Johan’, dan het ek vriende, want daar sal ‘n Jaco en ‘n Johan wees!” En hy was reg!

Enkele Britse omies wat met hulle honde gaan stap het, het die klomp Suid-Afrikaners om die spitbraai met oop monde gade geslaan. Dit was seker ook hulle eerste ontmoeting met Bok van Blerk se musiek!

Net ná vier die middag het Flip meer vertel oor die werksaamhede van die Solidariteit Beweging se instellings en Alana het almal genooi om deel van AfriForum se Wêreldwyd-familie te word. Pieter het die geskiedenis van Suid-Afrika se vlae uitgestal. Sue-Ann de Wet van Wêreldwyd kon nie saamgaan nie, omdat haar dogtertjie eersdaags gebore word, maar die geskenkies wat sy saamgestuur het, is vinnig opgeraap.

Aanvanklik het almal geknibbel aan die boerewors wat Pieter bestel en vir die vroeë hongerpyne gebraai het. Mariaan, Ursula en Sonja het vir watertandbykosse gesorg en uiteindelik was die skape gereed om opgedien te word. Almal het mooi beleefd in rye gestaan om te skep, maar gelukkig het die reël gegeld dat niemand tel hoeveel keer jy weer in die ry inval nie! Veral ook nie toe die malvapoeding verskyn het nie! Die Britte moes toe leer hoeveel lekkerder malvapoeding as sticky toffee poeding is, maar die Boere het weer hulle hart op elderflower cordial verloor.

Met heerlike borde kos op die tafel het almal die kans aangegryp om iets vir minderbevoorregte Suid-Afrikanertjies te doen. Simon en Ben se droom om geld vir Helpende Hand se Kosblikkieprojek in te samel, het waar geword. Aan die einde van die dag het hulle met die braai R13 000 in kontant ingesamel wat aan Helpende Hand oorbetaal is.

Teen skemer moes almal met swaar harte groet. Planne word gemaak om van die kuier ‘n gereelde instelling te maak. Alle belangstellendes kan Wêreldwyd kontak om op die adreslys vir toekomstige funksies ingesluit te word.

Ons bedank Simon, Ben en Henco van Rooyen en hulle gesinne vir die blink planne en harde braaiwerk, asook vir Pieter, Mariaan en Sonja vir die reëlings, voorbereidings en watertandbykosse. Dankie ook aan almal wat by die skaapbraai was. Ons wens julle net wat mooi is toe daar in Engeland en hoop ons sien mekaar eendag weer!

 

 

Meer oor die outeur

Sue-Ann de Wet

Sue-Ann de Wet is die Hoof van Diaspora by AfriForum.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Soos jy nooit die reuk van ’n stofpad ná die reën sal vergeet nie, so het elke Suid-Afrikaner ervaringe gehad wat ’n mens nie anders kan as om te mis nie. Sê wat jy wil, Suid-Afrika is uniek. Daar is nie veel plekke in die wêreld waar jy oor soveel mooi vlaktes kan...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest