Leesvordering:

SOMERKOS OP DIE TAFEL MET MARITA VAN DER VYVER

Apr 26, 2018

My onderhoud met Marita van der Vyver is ’n droom wat ’n werklikheid vir my geword het! Nie net is sy ’n ikoniese skrywer nie, maar sommer ’n bobaaskok ook. Somerkos in Provence is sowaar net ’n voorsmakie van haar “crème de la crème”-lewe in Frankryk. Ek het behoorlik gesmul toe ek deur haar Somerkos in Provence-kookboek blaai en ek kon nie wag om elke resep uit te toets nie.

Ek onthou hoe ek Die Ongelooflike Avonture van Hanna Hoekom op hoërskool verslind het, want net soos al haar ander boeke is dit moeilik om dié een neer te sit. Gelukkig vir my is Provence net om die draai en ek het sommer heel voorbarig ’n e-pos aan Marita gestuur en haar gevra om ’n paar vrae te beantwoord oor haar “la vie” in Frankryk. Ek deel ook ’n paar resepte wat in Somerkos in Provence te vind is. Lees meer hieronder!

“Op dié manier sien ek altyd die wyer prentjie – en dis ’n groot voordeel, vir my as skrywer, maar ook net as doodgewone mens.”

Marita, jou lewe is ’n groot inspirasie vir talle Suid-Afrikaanse vroue.

Wat sal jy sê het jy die meeste geleer om in Frankryk te bly?
Ek het geleer dat daar altyd meer as een kant aan elke saak is. As my vriende in Suid-Afrika so kla oor stakings en ek vertel hulle hoe aanhoudend die Franse staak, kan hulle my nie glo nie. Frankryk is ’n wonderlike land om in te woon, maar dit het ook sy probleme, dis lank nog nie die paradys nie. Nes SA ook, ondanks al sy probleme, ’n wonderlike land bly. As ek in SA kom, kan ek alles wat daar gebeur met my “Franse bril” bekyk – en in Frankryk bekyk ek weer die probleme en die plesiere met my “SA bril”. Op dié manier sien ek altyd die wyer prentjie – en dis ’n groot voordeel, vir my as skrywer, maar ook net as doodgewone mens.

Hoe dink jy het die kultuur jou lewenswyse/lewenstyl verander, goed en sleg?
My lewenswyse het beslis verbeter. Nie net omdat ek in Frankryk woon nie, maar dalk nog meer omdat ek in die Franse platteland woon. My stresvlakke is veel laer as wat dit ooit in SA was! Ek het geleer om rustig te wees, tydsaam kos te maak, langsaam te eet. Die hele “kultuur van kos” in Frankryk het my lewe ongelooflik verryk. En die waardering van my Franse vriende vir goeie rolprente – nie net Amerikaanse lokettreffers nie – en duursame klere en intelligente geselskap en kuns-as-deel-van-die-alledaagse-lewe; al hierdie dinge verryk my steeds.

Wat mis jy van Suid-Afrika?
Vriende wat ek al van my jeugdae af ken. Vriende saam met wie ek so ’n lang pad gestap het dat ek nooit enigiets vir hulle hoef te verduidelik nie. Ons het ’n gedeelde verwysingsveld. Ons lag vir dieselfde grappe. En dan mis ek om Afrikaans rondom my te hoor, in kafees en op straat. En natuurlik sekere kosdinge wat ek nie in Frankryk kan kry nie, soos volkoringbeskuit om in my koffie te dompel. En papajas en koejawels en koeksisters.

Hoe het jy jou liefde vir kosmaak ontdek en ontwikkel?
Ek het verlief geraak op ’n Fransman wat glo die pad na ’n vrou se hart loop deur haar maag! So eenvoudig soos dit. Voor ek vir Alain leer ken het, was ek senuagtig as ek mense moet onthaal. Ek sou altyd eerder ’n lekker boek lees as om ure lank kos te maak. Nou verkies ek steeds ’n lekker boek bo omtrent enigiets anders, maar dis tog groot pret om saam met hom kos te maak en nóg groter pret om saam met hom te eet. Waar vind jy die inspirasie vir jou skryfkuns?
Inspirasie is oral om ons, in die mees alledaagse dinge – ons moet net leer om dit raak te sien. As jy al so lank skryf soos ek, word dit ’n “state of mind”. Jy sien moontlike stories in alles wat met jou gebeur, in enigiets wat jy oor die radio hoor of in die koerant lees…

Sou jy jou lewe anders kon insien indien jy nie in Frankryk gewoon het nie?
Dis amper onvoorstelbaar, want dan sou my 17-jarige Frans-Afrikaanse dogter nie hier gewees het nie. Ek sou seker steeds ’n goeie lewe in SA gelei het, maar as ek dink aan alles wat ek sou gemis het… Sjoe!

Meer oor Marita

Marita van der Vyver is in Kaapstad gebore en het haar meestersgraad in joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch (US) verwerf. Tussen die ouderdomme van 20 en 30 publiseer sy drie jeugromans voordat haar eerste volwasse roman, Griet skryf ’n sprokie, in 1992 ’n blitsverkoper en literêre sensasie word. Die boek is met drie van die mees gesogte literêre pryse in Suid-Afrika bekroon: die M-Net, die ATKV en die Eugène Marais. Sedertdien het sy sowel ’n heeltydse as veelsydige skrywer vir alle ouderdomme geword met ’n tiental romans, ’n bundel kortverhale, twee versamelings van humoristiese essays, prenteboeke vir kleuters, talle kortverhale en essays in versamelbundels, asook gereelde rubrieke in koerante en tydskrifte. Sy het reeds verskeie pryse vir haar skryfwerk gewen, asook ’n internasionale studiebeurs van die Suid-Afrikaanse Stigting vir Skeppende Kunste. Sy is in 1997 genooi om aan die bekende International Writers Program van die Universiteit van Iowa in die VSA deel te neem. Haar volwasse romans word deurgaans in Engels, Hollands en Duits vertaal, terwyl Griet skryf ’n sprokie in nagenoeg ’n dosyn tale gepubliseer is. Dit was die eerste Afrikaanse roman ooit wat in Chinees vertaal is en het meer onlangs ook in Yslands verskyn. Marita woon op ’n klein dorpie in die suide van Frankryk saam met haar Franse man Alain Claisse. Hulle het drie seuns en ’n dogter.

Klik hier om haar webtuiste te besoek.

Somerkos in Provence-resepte

Voorbereidingstyd: 30 minute
Kooktyd: 60 minute
Bedien: Vier mense

Polenta Sud

Bestanddele 

  • 1 koppie kitspolenta
  • ’n knypie fyn saffraan
  • 1 e. botter
  • 3 e. parmesaankaas
  • 6 tamaties
  • 3 geel soetrissies
  • 3 eiervrugte
  • olyfolie
  • meel
  • basilieblare
  • sout en varsgemaalde peper

Metode

  1. Kook 2 2/2 koppies water en voeg die koppie polenta, knypie sout en saffraan by. Klits terwyl dit bygevoeg word om klonte te voorkom.
  2. Hou aan om te roer en voeg dan die parmesaan en botter by. As die polenta die tekstuur van dik pap het, is dit gereed om in ’n reghoekige oondpan geskep te word.
  3. Maak seker dat die bak wat gekies word nie hoër as 2 cm is nie. Plaas in die yskas om te stol.
  4. Plaas die tamaties in ’n oondbak (sny in kwarte as dit nie kersietamaties is nie en verwyder die pitte), sprinkel met sout, peper en olyfolie en laat dit vir 25 minute teen 160°C bak.
  5. Haal die polenta uit en sny in blokkies. Plaas onder die oondrooster sodat die bokant bros word.
  6. Smeer die pesto op en plaas die tamaties bo-op, sprinkel ekstra parmesaan bo-op en bedien teen kamertemperatuur.

Ek het nie die soetrissie, eiervrug en tuisgemaakte pesto bygevoeg nie, maar dit is ’n wonderlike byvoeging vir die gereg.

  1. Sny die geel en rooi soetrissies op en sprinkel sout, peper en olyfolie bo-oor. Bak tot swart blase vorm en verwyder. Plaas in ’n plastiese sakkie vir tien minute om te sweet. Dit sal verseker dat die skille maklik afgetrek kan word.
  2. Skil die eiervrug, sny in lengteskywe, plaas in ’n vergiettes en sprinkel sout bo-oor. Laat staan vir ’n halfuur en droog af met handdoekpapier. Vryf met meel, sout en peper en braai in olyfolie tot gaar.
  3. Plaas die soetrissies, eiervrug, vars basilieblare, pesto en tamaties bo-op die polenta.

Aspersies onder komberse

Bestanddele 

  • 24 groen aspersies
  • 300 ml vloeibare room
  • 200 ml hoenderaftreksel
  • vars neutmuskaat
  • 4 snye gerookte ham
  • 125 g gerasperde kaas
  • sout en peper

Metode

  1. Knak die harde kant van die aspersies af en skeer die onderste 5 cm met ’n aartappelskiller.
  2. Kook genoeg gesoute water om die aspersies vir sowat tien minute te bedek totdat dit sag maar nog ferm is. Dreineer en plaas eenkant.
  3. Kook die room en hoenderaftreksel saam totdat dit halfpad verminder is. Voeg sout, peper en neutmuskaat by en verwyder van die hitte.
  4. Verdeel die aspersies in vier porsies, vou die bondels met die stukke ham toe en plaas in oondvaste skottel. Skink die roommengsel oor, bestrooi met gerasperde kaas en bak vir ongeveer 20–25 minute teen 200°C.
  5. Ek het ’n paar teelepels creme fresh bygevoeg tydens bediening van die dis.

Dié gereg is een van my resepte wat ek danksy Marita se inspirasie geskep het en perfek saam met smaaklike bygeregte gepas het.

Jy kan Mariza se blog – Life in the South – hier besoek en haar ook op sosiale media volg. Haar blog is ’n plek waar jy meer as een ding kan wees: ma, sjef, fotograaf en reisiger alles gelyktydig. Vind resepte, reisinligting, doen-dit-self, handige wenke en hoe om in die buiteland te oorleef…

Mariza het ook ’n splinternuwe Facebook- en Instagram-blad, Smaaklike Ete. Enigiemand van Suid-Afrika kan Suid-Afrikaanse resepte hier deel.
Facebook: https://www.facebook.com/Smaaklike-Ete-358086514598361/
Instagram: @smaaklike_ete

Meer oor die outeur

Mariza Ebersohn

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Soos jy nooit die reuk van ’n stofpad ná die reën sal vergeet nie, so het elke Suid-Afrikaner ervaringe gehad wat ’n mens nie anders kan as om te mis nie. Sê wat jy wil, Suid-Afrika is uniek. Daar is nie veel plekke in die wêreld waar jy oor soveel mooi vlaktes kan...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest