Leesvordering:

St. Dunstan-in-die-Ooste

Aug 7, 2018

Die idee van ’n geheime tuin betower mense al eeue lank. Kan jy glo dat daar só ’n tuin in die middestad van Londen is? ’n Klein eilandjie van vrede in die hart van een van die wêreld se woeligste stede.

In Junie 2018 het my Londense gasvrou, Bronwen Thomas, belowe om my na ’n uitsonderlike plek te neem. Omdat haar man ’n fotograaf is, weet sy van weggesteekte hoekies in dié stad wat selfs ’n gebore Londenaar of gesoute toeris maklik kan miskyk.

Naby die Tower of Londen is St Dunstan in the East, ’n tuin wat aanvanklik ’n kerk was, omring deur wolkekrabbers. Dit het ’n interessante maar hartseer geskiedenis.

Die eerste kerk wat daar gestaan het, is in ongeveer 1100 gebou. In 1391 is ’n nuwe gang aan die suidekant aangebou en in 1631 is dit gerestoureer. Die groot brand wat Londen in 1666 byna vernietig het, het die kerk baie erg beskadig. Tog is daar besluit om dit eerder te herstel as te sloop en oor te bou. Daarna is ’n toring wat deur sir Christopher Wren ontwerp is, aangebou. Die bouwerk het van 1695 tot 1701 geduur.

In 1817 was die gebou só bouvallig, dat dit grotendeels herontwerp en herbou moes word. Dit is in 1821 heropen en kon toe 600 tot 700 mense akkommodeer. Sir Christopher se toring is wel behou.

Die volgende ramp wat dit getref het, was die Duitse bombardement van Londen tydens die Tweede Wêreldoorlog (1939–1945), bekend as die Blitz. In 1941 is die kerk getref en feitlik vernietig. Net die toring en enkele buitemure het bly staan. Na afloop van die oorlog het die Anglikaanse Kerk besluit om nie weer die kerk te herbou nie.

Die ruïnes het so bly staan totdat die City of London in 1967 besluit het om dit in ’n tuin te omskep waar die publiek ’n kans kon kry om in die opelug te ontspan. Dit is in 1970 geopen en in 2015 herbeplant om aan die tuin nuwe lewe te gee.

’n Mens ruik die tuin voor jy dit sien, want plante soos rose, jasmyn en laventel gedy daar. Binne die mure is ’n klein fontein, grasperk en bankies waar ’n mens lekker kan sit en lees, of sommer net rus. Buite bied die glaslose gotiese vensterrame en rankplante wat oor die mure tuimel ’n dramatiese agtergrond vir foto’s. Daar heers ’n byna heilige stilte. Jy begin onwillekeurig fluister wanneer jy daar instap.

Die tuin het al verskeie pryse gewen. Dit bevat ook ’n interessante skaars plant, die winterbas of Drimys winteri. Die blare daarvan bevat hoë vlakke vitamien C. Mense het dit lank gelede gekou om skeurbuik te voorkom.

Die tuin beslaan net meer as 1 000 m² en is tot monument verklaar. Dit is heeljaar vir besoekers oop van agt in die oggend tot sewe in die aand, of sononder, wat ook al eerste geskied. Geen toegangsgelde word gehef nie. ’n Gedeelte kan wel vir privaat funksies gehuur word en opelug kerkdienste word soms daar gehou.

Of jy nou van tuine, geskiedenis of bloot stilte hou, ’n besoek aan dié eiesoortige ruimte word beslis aanbeveel!

Bronne:

https://en.wikipedia.org/wiki/St_Dunstan-in-the-East

https://www.cityoflondon.gov.uk/things-to-do/green-spaces/city-gardens/visitor-information/Pages/St-Dunstan-in-the-East.aspx

Meer oor die outeur

Alana Bailey

Alana Bailey is Hoof van Kultuursake by AfriForum.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Afrikaans is Groot hou vir ’n 11de keer konsert en jy kan wen!

Afrikaans is Groot hou vir ’n 11de keer konsert en jy kan wen!

In ’n wêreld vol onbekendes is daar een bekende: Afrikaans is Groot. Dis ’n saamkomplek omjou taal, jou kultuur en jou menswees te vier. En die jaar is geen uitsondering wanneer diegrootste familie-reünie nóg vanaf 8 to 17 November 2024 in die SunBet Arena in...

AfriForum vier 18 jaar van selfdoen

AfriForum vier 18 jaar van selfdoen

AfriForum, ’n organisasie wat vandag meer as 315 000 lede in elke uithoek van die land verteenwoordig, vier vandag sy agtiende bestaansjaar. Dié burgerregteorganisasie is op 26 Maart 2006 vir die eerste keer aan die publiek bekendgestel in ’n berig oor sy...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest