In Junie 1948 is die inwoners van Wes-Berlyn midde-in die ontwikkelende Koue Oorlog gedompel. Tog het die ingrype van die Weste vir die elf maande wat daarop gevolg het, op ’n voorheen ongekende wyse verligting aan dié inwoners gebring. Gedurende die Berlynse Lugbrug (in Engels bekend as die Berlin Airlift) is nagenoeg 277 000 vlugte met noodsaaklike voorrade na Wes-Berlyn onderneem. Boonop het sowat vyftig bemanningslede van die Suid-Afrikaanse Lugmag (SALM) ook aan dié operasies deelgeneem.

Ná die Tweede Wêreldoorlog is Duitsland in vier sektore verdeel met Brittanje, die Sowjet-Unie, Frankryk en die VSA in beheer van elkeen van dié sektore. Die Duitse hoofstad, Berlyn, is op dieselfde wyse ingedeel – vandaar die verdeling van Oos- en Wes-Berlyn. Deur middel van lug-, spoor- en padvervoer kon die Westerse moondhede toegang verkry tot hul onderskeie Berlyn-sektore wat midde-in die Russe se sektor in Oos-Duitsland geleë was. Die Weste se besluit om kragte saam te snoer in Wes-Berlyn en ’n nuwe geldeenheid daar in te stel het die Russe erg ontsenu en tot aksie laat oorgaan.

Op 27 Junie 1948 blokkeer die Russe die Weste se spoor- en padverbindings met Berlyn – wat daardeur onder meer die stad van noodsaaklikhede soos voedsel en steenkool (vir kragopwekking) afgesny het. Die inwoners was hierdeur geheel en al van die buitewêreld afgesny.

Deur middel van tientalle vliegtuie (dus die Berlynse Lugbrug) het Westerse lande tot Mei 1949 (toe die Russe die blokkade opgehef het) die inwoners van Berlyn van noodsaaklike hulpmiddels voorsien. Gedurende dié elf maande is daagliks sowat 5 ton brandstof en kos in dié deel van die stad afgelewer. Daar is bereken dat in die besigste fase van die Lugbrug, in die lente van 1949, elke 45 sekondes ’n vliegtuig met voorrade op die Berlynse Tempelhof-lughawe geland het.

In sy boek oor die Berlynse Lugbrug, Berlin Airlift: Salvation of a city, skryf die Britse historikus Jon Sutherland ook oor die werksaamhede van die Suid-Afrikaanse Lugmaglede wat aan die operasies deelgeneem het. Die eerste SALM-lede het op 26 September 1948 in Oakington, Cambridgeshire in Engeland aangekom en is gestuur vir opleiding in Bassingbourn. Nagenoeg drie weke later, op 18 Oktober, het die Suid-Afrikaanse bemanning Engeland verlaat om vanaf ’n basis in Lübeck (nagenoeg 280 km noordwes van Berlyn) by die Lugbrugoperasies aan te sluit.

Die eerste Suid-Afrikaanse bemanning wat aan die Lugbrug deelgeneem het, het hul ampsbeurt op 5 April 1949 afgehandel. Gedurende hul dienstyd het hulle 4 133 ton se goedere in 1 240 krygsvlugte vervoer. ’n Tweede kontingent onder leiding van maj. J.P.D. Blaauw, het die eerste eenheid opgevolg en op 24 Augustus 1949 hul laaste krygsvlug as deel van die Lugbrug onderneem. In totaal het die Suid-Afrikaanse bemanning, volgens Sutherland, 8 333 ton se goedere in sowat 2 500 vlugte na Wes-Berlyn vervoer.

Vlugoffisier Kenneth Reeves is die enigste Suid-Afrikaner wat in die operasie gesterf het, nadat die krygsvlug waarop hy die navigator was, naby Lübeck neergestort het.

Woelinge in Berlyn was egter ná die opheffing van die Russiese blokkade nog lank nie verby nie. Nagenoeg 2,5 miljoen Duitsers in Oos-Berlyn het vanaf omstreeks 1949 tot 1961 via Wes-Berlyn gevlug. In Augustus 1961 het Oos-Berlyn gepoog om hierdie uitvloei tot ’n einde te bring. Dit is eers gedoen met die oprigting van ’n lemmetjiesdraadheining tussen die twee dele, maar later is die oprigting van die Berlynse muur van stapel gestuur.

Klik hier vir ’n kort, insiggewende video deur die Smithsonian Channel oor die geskiedenis van die Berlynse Lugbrug, of lees die artikel oor die Lugbrug en die Suid-Afrikaners se betrokkenheid daarby op die blog “The Observation Post”.

Foto: ’n Skare mense by Tempelhof-lughawe in Berlyn kyk in 1948 toe hoe nog ’n vliegtuig land as deel van die Berlynse Lugbrug.

 

Ilze Nieuwoudt
Ilze Nieuwoudt
Ilze is die publikasie bestuurder by Kraal Uitgewers.

Pin It on Pinterest