Leesvordering:

Suid-Afrika se versteekte skatte: Die top-8-plekke om te besoek

Nov 29, 2018

Vakansietye bied Suid-Afrika ’n magdom keuses, maar watter plekke is daar buiten Kaapstad, Durban en Port Elizabeth? Hier is agt unieke skatte wat jy met vrymoedigheid kan besoek.

Magersfontein-slagveld

’n Besoek wat altyd die moeite werd is, is die Magersfontein-slagveld suid van Kimberley, sowat 31,5 km uit op die Modderrivier-pad. Die oop vlaktes vertel dikwels meer as ’n boek, en met die loopgrawe wat steeds sigbaar is, word geskiedenis ’n werklikheid. Die Slag van Magersfontein is een van die Boeremagte se beroemdste oorwinnings tydens die Tweede Vryheidsoorlog. Dit is ook een van die drie Britse neerlae wat in Brittanje as die Swart Week bekendstaan. Gedenktekens vir die Skotte en Skandinawiërs is op die gronde te siene en behalwe om die uitstalling van uniforms en wapens te besigtig, kan jy ook ’n oudiotoer doen vir meer inligting.

Boulders-strand se pikkewyne

Naby Simonstad kan jy Boulders-strand besoek. Groot rotse keer die golwe af en maak dit ’n veilige plek vir kinders om te swem. Dit is ook altyd skoon en veilig omdat dit deel is van die Tafelberg Nasionale Park se beskermde area. Met duisende Afrika-pikkewyne wat op die rotse uitspan, is dit geen wonder dat die strand sowat 60 000 besoekers per jaar lok nie.

Koffiebaai en die Gat in die Muur

Mdumbi-strand naby Koffiebaai is een van die mooiste strande aan die Wildekus. Met Nguni’s wat los op die heuwels wei en ’n ongerepte uitsig in alle rigtings, is dit beslis ’n onvergeetlike ervaring. So 8 km van Koffiebaai af is die Gat in die Muur, ’n buitengewone natuurverskynsel van ’n gat wat in ’n rots in die see gevorm het. Die gat is groot genoeg vir ’n seilboot om deur te vaar en die plaaslike bevolking verwys daarna as die “plek van die geraas”.

Die groot pynappel

Besoek die grootste kunspynappel ter wêreld in die klein dorpie Bathurst. Draai tussen Port Alfred en Grahamstad van die R67 af en ry net 12 km tot by die plek waar die 1820-setlaars hulle gevestig het. Die pynappel staan op die Summerhillplaas en is ’n indrukwekkende 16,7 m hoog.

Annandale-wynplaas

Hempies du Toit, ’n voormalige Springbok-slot, is ’n vyfdegenerasiewynmaker. Sy wynplaas Annandale in die Helderberge in Stellenbosch is ’n wynproe-ervaring wat jy nie moet misloop nie. Proe wyn in ’n ou skuur, kompleet met oom Hempies se Springbok-baadjie teen die muur. Niks is gekommersialiseer nie en Stellenbosch-studente besoek gereeld die plaas om ’n glasie saam met oom Hempies te klink. As jy wil, kan jy selfs ’n sak hout en braavleis saamvat en sommer daar onder bome wat nog deur Simon van der Stel aangeplant is braai.

Kaapsche Hoop

Kaapsche Hoop (of Kaapsehoop) is ’n klein dorpie in Mpumalanga, sowat 35 km buite Nelspruit. Kaapsche Hoop is bekend vir die wilde perde wat in en om die dorp rondloop en sorg vir ’n mistieke ervaring in die mistige weer wat dikwels daar voorkom. Die Royal Coach is ’n treintrok wat in 1947 deur Koningin Elizabeth II van Engeland gebruik is tydens haar ampsbesoek aan Suid-Afrika. Deesdae bied dit verblyf aan toeriste. Daar is ook ’n waterval wat jy kan besoek en mooi staproetes met ’n asemrowende uitsig. As jy meer van dié dorpie wil weet, kan jy ’n spooktoer doen om stories en staaltjies uit die dorp se geskiedenis te hoor.

Vallei van Verlatenheid

Die Vallei van Verlatenheid (Valley of Desolation) buite Graaff-Reinet is reusekranse van tot 120 m hoog wat deur vulkaniese aktiwiteit gevorm is. Dit is deel van die Kamdeboo Nasionale Park wat sowat 15 000 hektaar beslaan en om die 200-jarige Graaff-Reinet strek.

Langs die kranse is ’n reusevlagprojek waar 2,5 miljoen rooi, geel, blou en groen woestynplante in die vorm van die Suid-Afrikaanse vlag aangeplant word. Ná voltooiing van die projek sal dit so groot wees dat dit uit die ruimte gesien kan word! Die uitgemerkte oppervlak is so groot soos 66 rugbyvelde.

Of jy nou langs die Weskus toer of Laeveld toe gaan, daar wag altyd ’n skat net om die draai! Besoek dié vakansie van die unieke besienswaardighede wat ons pragtige land bied.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest