Leesvordering:

Taal ken nie grense nie

Okt 14, 2020

Baie van julle ken daardie gevoel: Op ’n vreemde plek in ’n vreemde land hoor jy onverwags iemand Afrikaans praat. Of (wat soms erger kan wees) jy praat Afrikaans en dink niemand verstaan jou nie, maar skielik antwoord ’n stem jou. Daar is baie staaltjies hieroor, maar wat dit bewys, is dat Afrikaanssprekendes toenemend reis en migreer, met die gevolg dat ons taal lankal nie meer net tot die suidpunt van Afrika beperk is nie.

Dit geld natuurlik ook vir alle ander tale, want moderne tegnologie het bevolkings meer beweeglik gemaak as in enige vorige era. Ons praat nou nie oor die invloed van virusse en inperkings nie, maar van die tye voor en ‒ hopelik ‒ ná COVID-19.

Die sprekers van tale kleiner as die magtige Engels, Chinees/Mandaryns, Frans, Arabies en Spaans moet rekening hou met die invloed van migrasie op tale en ons toelaat om ons tale te handhaaf. In die verlede het navorsing bewys dat emigrante gewoonlik binne drie generasies hulle moedertaal verloor omdat dit deur die taal van hulle bestemming vervang word. Deesdae maak tegnologie egter die voortbestaan van moedertale onder migrantegroepe makliker as ’n eeu gelede.

By ’n taalkonferensie in Friesland in 2019 het die sprekers van onder meer Afrikaans, Wallies, Skots, Iers, Amazigh en Baskies koppe bymekaargesit oor hoe ons ons tale binne en buite hulle landsgrense lewendig kan hou. Aksies soos Wêreldwyd is natuurlik een manier – die nuusbrief en sosialemediaplatforms hou mense in die buiteland in kontak met Afrikaans. Ook Afrikaanse flieks, dokumentêre, musiek, tydskrifte, koerante, boeke, luisterboeke en ander produkte in ons taal lewer ’n bydrae.

So het die Walliesers vertel hoe die misdaadreeks Hinterland belangstelling in Wallies laat opvlam het en nuwe lewe in die gebruik daarvan geblaas het. Hinterland is twee keer verfilm – beide in Engels en Wallies. In die Engelse weergawe word Wallies ook gebruik, met Engelse onderskrifte. Reekse soos hierdie gee die sprekers van kleiner tale meer selfvertroue om hulle taal te gebruik – ook ná migrasie.

Een van die merkwaardigste gemeenskappe wat wêreldwyd deur taalkundiges bestudeer word, is die “Boere” wat na afloop van die Anglo-Boereoorlog (1899–1902) na Argentinië verhuis het. Dit is een van die groepe wat hulle taal ná emigrasie die langste behou het in ’n anderstalige gemeenskap. Waarskynlik is dit omdat hulle hulle in die afgeleë Patagonië gevestig het en min kontak met hulle Spaanse bure gehad het. Die dokumentêr The Boers at the End of the World / Die Boere op die Aardsdrempel (https://web.facebook.com/boersattheendoftheworld/?_rdc=1&_rdr) vertel hulle verhaal.

Ook die immigrantesprekers van Galisies het hulle taal in Argentinië lewend gehou. Galisies is die taal van ’n groot aantal Spaanse burgers. Tydens die Francoïstiese diktatuur (1936–1975) het skrikwekkende skending van taalregte in Spanje plaasgevind. Generaal Francisco Franco het Spaans (ook bekend as Kastiliaans) tot die enigste amptelike taal van Spanje verklaar. Ironies genoeg was hy ’n boorling van Galisië, maar hy het Spaans as nasionalistiese instrument ingespan en die openbare gebruik van die land se ander tale (Galisies, Baskies en Katalaans) verbied. Oortredings is soms selfs met tronkstraf en deportasie gestraf. Die gee van nie-Kastiliaanse name vir babas is nie eens toegelaat nie. Met verloop van tyd is die maatreëls effens verslap, en ná Franco se dood in 1975 met die oorgang na demokrasie, is die ander tale weer erken. Galisies is nou een van die amptelike tale van die land. Dit word weer in skole onderrig en daar is ’n openbare Galisiese televisiekanaal, naamlik Televisión de Galicia. Die dekades lange onderdrukking van Galisies het die taal uiteraard groot skade berokken. Tydens die diktatuur is egter veral die Galisiese letterkunde deurentyd lewendig gehou en vernuwe deur Galisiese emigrante en uitgewekenes wat hulle in Buenos Aires gevestig het. Danksy hulle voortgesette gebruik van en skepping in hulle taal kon onderrig met Galisies as onderrigtaal hervat met meer as die gebruik van ou tekste van voor 1936 en nostalgie. Dit bewys dat migrasie wel ook ’n lewensaar vir taal kan wees, al sal dit nie onbepaald so kan voortduur nie.

So reis taal saam met ons oor grense heen. Die geskiedenis daarvan is nie ’n koue wetenskap nie, maar die storie van mense wat gewillig of onwillig deur strominge meegesleur word, van nostalgie en verlange, maar ook van drome en hoop wat lewend bly in ons.

Meer oor die outeur

Alana Bailey

Alana Bailey is Hoof van Kultuursake by AfriForum.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Jy ken jou wêreld, maar nou wil Wêreldwyd jou leer ken

Jy ken jou wêreld, maar nou wil Wêreldwyd jou leer ken

Neem deel en WEN! Wêreldwyd, ’n inisiatief van die burgerregteorganisasie AfriForum, bied reeds die afgelope agt jaar ’n aanlyn tuiste vir Suid-Afrikaners wat hulself in die buiteland gevestig het. Dit is die ideale platform vir elke Suid-Afrikaner wat tans in die...

Wêreldgids in fokus – Nieu-Seeland

Wêreldgids in fokus – Nieu-Seeland

Foto: Esmarie Yssel Om in ’n nuwe land aan te pas, is ’n uitdaging. Wêreldwyd is hier om te help. Die beste manier om te verseker dat jy die beste jy kan wees in ’n nuwe omgewing is deur ’n netwerk te bou. Netwerke is nie net vir mense wat met ander wil sake doen nie;...

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Wêreldwyd vriende

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Pin It on Pinterest