Leesvordering:

Taal tel 6 – Die de Stadlers: skeppers in ’n rivier van woorde

Aug 17, 2023

Deur Alana Bailey

’n Huishouding waar Afrikaans letterlik geleef word, is dié van Leon en Amanda de Stadler. Leon is ’n afgetrede hoogleraar (Afrikaans en Nederlands, Universiteit Stellenbosch) en stigterdirekteur van die Universiteit Stellenbosch se Taalsentrum. Amanda is die afgetrede hoof van die Vriende van Afrikaans (sedert 2014 ’n afdeling van die ATKV) en beskryf haarself as ’n “taalwerker”. Moenie dat die gebruik van “afgetrede” enigeen flous nie – hulle twee is baie aktief op die taalakker werksaam! Alana Bailey het met die De Stadler’s gesels oor hulle liefde vir Afrikaans.

This image has an empty alt attribute; its file name is Die-De-Stadlers-682x1024.jpg
Amanda en Leon de Stadler

Waar kom julle belangstelling in en liefde vir Afrikaans vandaan?

Leon: Ek was maar altyd ’n boekwurm, maar my liefde vir taal en veral vir Afrikaans is veral gestimuleer deur goeie onderwysers en dosente. Ek onthou tot vandag toe die reuse-invloed wat ’n mnr. Van Schalkwyk, my Afrikaansonderwyser op hoërskool, op my gehad het. Hy het in ’n stadium die laaste klas op ’n Vrydag met ons gehad en vir die lekker dan vir ons voorgelees – met die nodige drama – om ons skoolvermoeidheid aan die einde van ’n lang skoolweek weg te werk. Ek was ook bevoorreg om tot op nagraadse vlak briljante onderwysers en dosente te hê wat die vak laat “sing” het.

Amanda: Ek het ook maar van altyd af gelees. Ek is een van daardie mense wat medisynevoubiljette lees as daar niks anders beskikbaar is nie.

Julle Tesourus van Afrikaans het in 2021 by Pharos verskyn. Wat is ’n tesourus?

Leon: Die woordeboeke wat ons ken, is gewoonlik alfabeties gerangskik en dien veral om woorde te verklaar (verklarende woordeboeke) of woorde in ander tale te vertaal (vertalende woordeboeke). ’n Tesourus is iets anders: In ’n tesourus soos die een wat ons gemaak het, word woorde nie alfabeties gerangskik nie. Hulle word georden in sogenaamde betekenisvelde rondom die konsepte in terme waarvan ons ons leefwêreld ken. Op hierdie manier sal jy dan al die woorde wat byvoorbeeld met BLYDSKAP te make het, of al die name van voëls by mekaar gegroepeer kry. Tesourusse word dan veral gebruik om die beste woord te vind vir dit wat jy wil oordra. ’n Voorbeeld illustreer dit: Die woord goed kan tog soms ’n bietjie verslete raak, veral omdat hy so baie gebruik word, en jy soek dalk iets wat ’n bietjie beter gaan werk. Jy soek dan goed in die indeks op en dit lei jou na ’n inskrywing waar jy alternatiewe vind soos belowend, keurig, behoorlik, fyn, piekfyn, bak, bakgat, funky, cool, bemang, klopdisselboom, en nog baie ander.

Amanda: Die woord tesourus beteken skatkis. In hierdie boek het jy ’n taal se hele taalwoordeskat op een plek – ’n groot skat. Dit is goed as ’n mens van kleins af kan leer dat alles op aarde ’n naam het, ’n woord aan hom of haar of dit gekoppel het. Hoe meer woorde jy ken, hoe beter verstaan jy die wêreld waarin jy leef. En dan is daar nog iets soos die beste of juisste woord vir dit wat jy wil sê of dink of skryf. Daarmee help ’n tesourus geweldig.

Hoe “skryf” ’n mens so ’n boek – waar begin jy en hoe besluit jy wat om daarin op te neem, of nie?

Leon: Die eerste moeilike taak om ’n tesourus te bou, is om besluite te neem oor die konsepsisteem wat aan die tesourus sy struktuur gee. Gelukkig was daar natuurlik goeie voorbeelde waarna ons kon gaan kyk. Dink maar aan Roget se bekende tesourus vir Engels, en daar was ook Nederlandse voorbeelde wat gehelp het. Verder is dit natuurlik so dat mense oor die wêreld heen sekere konseptuele raamwerke met mekaar deel: Ons ken almal ’n fisiese leefwêreld wat “bevolk” word deur dinge soos mense, diere, plante, masjiene, meubels, ensovoorts; of ’n intellektuele leefwêreld wat ons ken in terme van konsepte soos verstand, denke, logika, begrip, betekenis, ensovoorts. Ons ken almal konsepte soos tyd en ruimte; ons vertoon almal bepaalde gedragsvorme, ons het almal gevoelens, emosies; … Op hierdie manier het ons oor ’n lang periode ’n fyn struktuur uitgewerk wat uiteindelik vir ons 855 konsepkategorieë opgelewer het waarin ons oor ’n periode van sewe jaar die woordeskat van Afrikaans ingedeel het.

Die besluit oor wat ’n mens opneem en wat nie, is ook ’n moeilike een. Uiteindelik het ons ons laat lei deur die bekende verklarende woordeboeke van Afrikaans, maar ons het self ook woorde “gejag” sodat ons ook die nuutste woorde in Afrikaans kon registreer. In die hersiene uitgawe wat in 2021 verskyn het, het 20 000 nuwe woorde bygekom wat oor die jare tot ons wonderlike lewende taal toegevoeg is.

Ek gee graag enkele voorbeelde: Toe die Tesourus die eerste keer verskyn het, het ons in Afrikaans maar pas begin om die woordeskat van die internet en die wêreldwyeweb te ontwikkel. Daardie woorde is nou deel van die nuwe, hersiene weergawe. Ons het ook veel meer woorde uit die verskillende variante van Afrikaans (die lektiese taalskat) opgeneem, woorde soos annerlik, jits, newwer, newwermaaind, nema, voorlik, omtes, oralster, klossie (kleinhuisie), moewies, habba, piemp, liksens, mouter, skorro-skorro, loslappie, komvandaan, barakat, ottermaklottertjie, boom en koelpatats (dagga), madjat, sjoekran, properse, sterkgevreet (sterk van gees)

Natuurlik kan ons nie alles opneem nie, maar die idee was wel om die woordeskat in al sy rykheid te probeer weergee.

Amanda: My werk was hoofsaaklik om vir elke woord ’n nommer te gee van die konsepkategorie of kategorieë waarin hy tuishoort.

Wat het julle ervaar en geleer in die proses – enige interessante ontdekkings, woorde, of staaltjies?

Leon: Vir my was die wonderlike ding van werk aan so ’n woordeboek die ervaring van Afrikaans as ’n lewende organisme, iets wat letterlik elke dag groei. Dit is tegelyk wonderlik en skrikwekkend natuurlik, want die dag as die woordeboek gepubliseer word, is dit reeds verouderd, aangesien daar tussen voltooiing en publikasie alweer nuwe woorde bygekom het!

Verder het ek my elke dag verlekker in die ryke seggingskrag van die taal. Gaan kyk maar net in die woordeboek na die pragtige benamings wat ons het vir diere, voëls en plante, of die heerlike rykdom aan vloekwoorde!

Amanda: Ja! Vir my het Afrikaans gevoel soos ’n rivier van woorde, met ’n eie wil, wat verbyvloei. Hy loop waar hy wil. In ’n sekere sin is dit waar van ’n taal. As die sprekers hou van ’n woord, keer die taalfundi dit nie maklik nie. Dink maar aan woorde soos steakoukei en tekkie – dis daar om te bly.

Hoe lank het julle hieraan gewerk?

Leon & Amanda: Aan die eerste uitgawe het ons sewe jaar gewerk, die hersiene uitgawe het ons ’n verdere stewige twee jaar besig gehou.

Waarmee is julle nou besig?

Leon: Ons het intussen die werk voltooi aan die hersiening van Anton Prinsloo se Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom. Die boek is in 2022 uitgegee deur Pharos met die titel Spreekwoorde en ander segswyses. Op die oomblik is ons besig met die uitgebreide hersiening van Pharos se Verklarende Afrikaanse Woordeboek, ’n enorme taak wat hopelik in 2024 voltooi sal word.

Amanda: Dit is ’n voorreg om op Labuschagne en Eksteen se arbeid voort te bou. ’n Mens sukkel net om voor te bly in ’n wêreld wat elke dag nuwe woorde oplewer.

Die Tesourus en Pharos wat dit publiseer is vir my van die beste tekens dat ons taal springlewendig is. Wat is julle advies aan mense wat Afrikaans wil ondersteun – hoe kan hulle bydra om dit so te hou?

Leon: ’n Taal bly lewe in die eerste plek omdat dit aktief gebruik word – so, moenie jou moedertaal versaak nie, gebruik die taal en help dat dit bly voortleef in die verskillende sfere van menslike bestaan (in jou persoonlike ruimte, in opvoedkundige instansies, kerk, regering, howe, die handel, ensovoorts).

Amanda: Koop Afrikaanse boeke en woordeboeke. Skrywers, uitgewers, lesers (gebruikers) ‒ dis eenvoudigweg wat ’n taal vra.

Waar kan mense meer oor julle werk en die Afrikaanse woordeskat te wete kom?

Leon: Al die woordeboeke waaraan ons werk en nog vele meer kan aanlyn geraadpleeg word in Pharos Aanlyn, ’n wonderlike bron van talige rykdom.

Verder kan mense meer lees oor ons werksaamhede op ons webblad Woeker met Woordeboeke. Daar is inligting oor woordeboeke, woordeboekgebruik en advies rakende die gebruik van woordeboeke in opvoeding.

Amanda: Ja, daar is handige wenke wat onderwysers kan inspan om leerders te inspireer om woordeboeke te gebruik.

Meer oor die outeur

Alana Bailey

Alana Bailey is Hoof van Kultuursake by AfriForum.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Onderneming in die Kollig: AanTafelThuis

Onderneming in die Kollig: AanTafelThuis

Hierdie week se kollig is op AanTafelThuis. AanTafelThuis is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom om ’n gemeenskap te vorm. Op dié manier...

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Stemdae vir Suid-Afrikaners oorsee

Stemdae vir Suid-Afrikaners oorsee

Die stemdatums vir Suid-Afrikaners wat nie in Suid-Afrika woon nie is aangekondig! Stemdag in Suid-Afrika is op 29 Mei, en burgers buite Suid-Afrika het geleentheid om op óf 17 Mei, óf 18 Mei te kan stem, afhangend van die gasheerland se dominante godsdienstige en...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest