Leesvordering:

Terugblik op ’n warm Spaanse naweek

Sep 14, 2018

Hier in die Noordelike Halfrond word die dae al hoe korter en die weer al hoe grouer en meer winderig. Hoe kon ons so oor die hitte gekla het? dink ek terwyl ek twee sweetpakbaadjies oormekaar aantrek om die reën uit te hou. Ons langnaweek in die provinsie Valencia voel so lank gelede, maar wanneer ek deur die foto’s kyk, voel ek sommer weer die warm, polsende ritme van Spanje. Daar is sowat 2,5 miljoen inwoners in dié provinsie, en een uit drie woon in Valencia. Die vele kleiner dorpe word deur 265 verskillende munisipaliteite bestuur. Die kusvlakte tussen die berge en die see is van die vrugbaarste grond in Europa, vandaar die bekende Valencia-lemoene en ander vrugte.

Ons het toevallig in Benicassim beland en was baie beïndruk met die 6 km-lange wandelplein langs die sandstrand wat deur ’n ry van 27 tradisionele villas uit die1920’s begrens word.  Die meeste geboue spog met inligtingsborde wat die geskiedenis illustreer. Blykbaar het swem – oftewel baai – vroeg in die 20ste eeu gewild geword toe die geneeskundiges besluit het dat dit ’n gesonde tydverdryf is. Al die moets, moenies en wanneers is destyds breedvoerig in die Bathing Decalogue uitgelê. Om die een of ander rede het die Spaanse elite van die kunste- en teaterwêreld destyds hul villas hier opgerig. Dié groep villas staan bekend as die Celestial Courts – of dan ’n soort hemel op aarde. Daar was destyds skynbaar soveel partytjies gehou dat die een raserige huis die hel-op-aarde-etiket gekry het. Die beroemde Amerikaanse skrywer Ernst Hemingway het blykbaar sy verhouding met oorlogskorrespondent Martha Gellhorn hier begin. Gedurende die Spaanse burgeroorlog was sommige villas tydelik as hospitale ingerig.

Deesdae is Benicassim bekend vir die groot musiekfees, die Festival Internacional de Benicàssim of FIB. Liam Gallagher en die Pet Shop Boys tree tydens die 2019-fees op – en daar is net sowat 75 naweekkaartjies teen ’n allemintige €180 oor.

So tussen al die geskiedenis en welvaart deur is dit die doodgewone menslikheid van dié deel van Spanje wat jou bybly, soos die groep dogtertjies wat ewe entoesiasties “juwele” op die strand verkoop, of die groep old-timers wat ná nege in die aand nog ewe getrou hul buitelug-jogaklas bywoon.

Meer oor die outeur

Pieter de Lange

Ek is in Kroonstad gebore neffens die rustige ou Valsrivier en matrikuleer aan die Hoërskool Kroonstad in dieselfde era as skrywers soos Antjie Krog en Max du Preez. Ek studeer op Tukkies, speel o.19-rugby vir hulle en boks vir die SA Universiteitespan, waarna ek Protea-kleure in dié sport verwerf. In 1974 begin ek in Londen praktiseer, word deur die Ferrari-gogga gebyt en keer ná drie jaar na Pretoria terug met ’n rooi Ferrari Boxer. In 1981 trou ek met Mariaan en ons verhuis Londen toe vir 18 maande. Ek begin in 1990 met ’n MBL-kursus en geniet die navorsingsprojek die meeste, en kry tot my verbasing die hoogste punte. Ek skryf baie artikels oor SA se Olimpiese bod vir die Sunday Times, Beeld, Business Day en Rapport. Ek publiseer ook my Olimpiese boek The Games that Cities Play, wat voorgeskryf was vir BA MBK (Menslike Bewegingskunde) asook B Com Sportbestuur se eerstejaars, (Sportgeskiedenis en Sportfilosifie) studente by Tukkies, vir 1999 tot 2003. In 1999 verhuis ons sak en pak Londen toe met ons kroos René, Christiaan en Simon. Ek begin ’n navorsingsprojek oor oorsese Suid-Afrikaners en skryf ’n reeks artikels vir The South African. Ons sien die wêreld saam met ons kinders, van ’n ysige St. Petersburg tot die snikhete Rooisee in Egipte. Ons het nou ’n pragtige kleinseun Arlo en woon in Kent, waar ek steeds praktiseer en gereeld aan parkwedlope deelneem om die ou karkas aan die gang te hou.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Soos jy nooit die reuk van ’n stofpad ná die reën sal vergeet nie, so het elke Suid-Afrikaner ervaringe gehad wat ’n mens nie anders kan as om te mis nie. Sê wat jy wil, Suid-Afrika is uniek. Daar is nie veel plekke in die wêreld waar jy oor soveel mooi vlaktes kan...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest