Deur Amanda Visser

Nasionale Tesourie het ’n administratiewe fynstelling aan die gewysigde buitelandse belastingvrystelling voorgestel wat daarop gemik is om toekomstige kontantvloeiprobleme te verlig. Ingevolge die wysiging, wat in Maart volgende jaar van krag word, sal Suid-Afrikaners wat in die buiteland werk, belas word op buitelandse vergoeding wat die R1 miljoen-drempel oorskry.

Ingevolge die Inkomstebelastingwet is Suid-Afrikaanse werkgewers verplig om werknemersbelasting (lopende betaalstelsel – LBS [‘pay as you earn – PAYE’]) te weerhou wanneer hulle hul werknemers se vergoeding betaal. Sodra die wysiging in werking tree, kan dit tot dubbele belasting lei: die Suid-Afrikaanse maatskappy sal belasting moet weerhou op vergoeding wat in die buiteland verdien word, en die gasheerland sal ook belasting op dieselfde vergoeding moet weerhou.

In hierdie jaar se begrotingsoorsig het die Nasionale Tesourie voorgestel dat Suid-Afrikaanse werkgewers toegelaat word om die maandelikse binnelandse LBS-weerhouding te verminder met die bedrag wat op die werkgewer se buitelandse inkomste weerhou word om dubbele weerhouding te voorkom. Jaco la Grange, mede-belastingdirekteur van Deloitte, het in ’n onderhoud gesê een van die begrotingsvoorstelle suggereer dat die verpligting om LBS te weerhou moontlik uitgebrei kan word na nie-inwonende werkgewers, selfs al betaal ’n Suid-Afrikaanse agent nie die besoldiging namens hulle nie. Hy het verwys na die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se werkgewersgids wat bepaal dat dit werkgewers vrystaan om nie werknemersbelasting te weerhou nie indien hulle glo daardie werknemers sal voldoen aan die kriteria om te kwalifiseer vir belastingvrystelling op hul buitelandse inkomste. Die werkgewer moet ’n afskrif van elke bladsy van die werknemer se paspoort hê asook ’n afskrif van die betrokke kontrak vir die dienste wat in die buiteland gelewer moet word. Die gids stel dit duidelik: “Indien dit blyk dat die werknemer nie vir die vrystelling kwalifiseer nie, sal die werkgewer persoonlik aanspreeklik gehou word vir alle verliese wat die SAID mag ly as gevolg van die nie-aftrekking van die volle werknemersbelasting.”

La Grange, voorsitter van die South African Institute of Tax Professionals (SAIT) se werkgroep vir persoonlike belasting, het gesê as die Suid-Afrikaanse werkgewer oortuig is sy werknemer sal voldoen aan die kriteria wat in die wet uiteengesit word, kan hy verkies om nie belasting op die buitelandse vergoeding te weerhou nie. Indien die individu egter nie kwalifiseer nie, moet Suid-Afrikaanse werknemersbelasting op die volle bedrag weerhou word. In die meeste gevalle sal die gasheerland ook belasting volgens die maandelikse betaalstaat weerhou. “Tans is slegs sekere aftrekkings soos bydraes tot pensioenfondse toelaatbaar,” sê La Grange.

Buitelandse belastingkrediete is nie ’n toelaatbare aftrekking nie en mag nie in ag geneem word by die berekening van hoeveel belasting teruggehou moet word nie. Dit veroorsaak ernstige kontantvloeiprobleme. Belasting wat op buitelandse inkomste betaal is, kan slegs verhaal word wanneer die Suid-Afrikaanse werknemer sy belastingopgawe indien.

Indien die voorstel geïmplementeer word, kan die buitelandse belastingkrediet in berekening gebring word wanneer bereken word hoeveel werknemersbelasting in Suid-Afrika weerhou moet word. Werkgewers en belastingliggame het hulle kommer uitgespreek daaroor dat die administratiewe bewyslas om die buitelandse belastingkrediet te kan eis op die belastingpligtige geplaas word. La Grange sê om in Suid-Afrika in aanmerking te kom vir ’n buitelandse belastingkrediet moet die belastingpligtige ingevolge die wet kan bewys dat belasting in die buiteland betaal is. SARS aanvaar normaalweg slegs ’n inkomstebelastingassessering van die gasheerland. “Die probleem is dat werknemersbelasting in baie ander lande, veral Afrikalande, slegs via die betaalstaat betaal word.” Daar is dikwels geen bewys van betaling, byvoorbeeld ’n rekeningstaat of ’n belastingsertifikaat (IRP5), soos in Suid-Afrika nie. Die probleem word verder vererger daardeur dat baie lande nie ’n jaarlikse persoonlike inkomstebelastingopgawe vereis nie en assesserings nie aan individuele werknemers verskaf word nie.

Tesourie het gesê voordat die voorstel geïmplementeer word, sal ’n werkswinkel (geskeduleer vir 6 Maart) gehou word om met belastingbetalers oor hul administratiewe bekommernisse te beraadslaag. Alle wysigings wat daaruit voortspruit, sal gedurende die 2019 wetgewende siklus verwerk word. Tax Consulting SA en SAIT pleit vir meer substantiewe verligting, byvoorbeeld die uitsluiting van sekere voordele soos behuising of sekuriteit van vergoeding. Hulle het ook hul kommer daaroor uitgespreek dat die beperking van belastingvrye buitelandse inkomste in randwaarde gemeet word.

Hierdie artikel is ook beskikbaar in: English

Wêreldwyd
Wêreldwyd

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest