Thailand is ‘n land van kontraste. As jy deur die platteland ry, sien jy die grondbaron (my woord vir hulle) se massiewe huis op die rand van die suikerplantasie, of watter plaasgrond dit ook al is. Die werkers woon in piepklein huisies. Soms leef hulle onder haglike omstandighede en in baie gevalle is dit werkers van anderkant die Thaise grense.

In die stede woon die mense opmekaar, in klein eenhede wat bestaan uit een kamer en ‘n badkamer. Wanneer hulle moet trek na die volgende werk, trek hulle met bitter min. Baie keer is dit net met ʼn rugsak en ʼn tas tussen twee volwassenes en ʼn kind.

In Bangkok is die lyn tussen arm en ryk glad nie so sigbaar nie, want in Bangkok is daar nie iets soos ʼn woonbuurt geskei van ‘n industriële gebied nie. Alles is gemeng. Die fabriekeienaar sal in baie gevalle sy twee- tot drieverdiepinghuis reg langs sy fabriek oprig en nie ver daarvandaan nie, is woonstelblok op woonstelblok met bogemelde klein eenhede waar die werkers bly.

Geboue word opgerig met dieselfde tipe wooneenhede bo-op (sien foto) en die grondverdieping huisves die besighede. Daar is letterlik straatblokke aaneen van hierdie werk-/woonplekke. Dit veroorsaak dat alles regdeur Thailand eenders lyk. ʼn Mens neem ‘n tyd om jou omgewing te leer ken, juis as gevolg van die eendersheid van die geboue.

Gewone Thaise onderwysers verdien ± R5 000 per maand en hulle werk lang ure, van 7 vm. tot 4 nm., met bitter min rustyd. Die administratiewe las maak dit baie moeilik vir hulle om hul werk as onderwysers behoorlik te doen en die tipe kultuur waaraan hulle behoort, pootjie hulle verder. Verder het ek verneem dat professore en lektore nie veel meer as gemelde bedrag verdien nie. Hulle moet baie toegewyd wees om wel vir so ‘n inkomste te werk.

En dit is wat ek van die Thais admireer. Hulle kry swaar en meeste van hulle se lewens is verpand aan banke, maar hulle staan elke dag oop en doen wat hulle moet doen. ‘n Mens hoor baie min klagtes, alhoewel almal van ons bewus is daarvan dat daar baie klagtes behoort te wees. Hulle het almal elke dag ietsie te ete en ek het al opgelet dat van die armes wat straatstalletjies besit, ander help wat nie kos het nie, met ietsie te ete en drinke, sonder vergoeding.

Van die ouers spandeer omtrent al hulle inkomste om vir hulle kinders se skoolopleiding te betaal in ‘n skoolsisteem wat die kinders faal. Daar is geen politieke wil om skoolopvoeding te hervorm en te moderniseer nie.

Dit is ‘n daaglikse geveg om te oorleef, maar elkeen doen wat hy of sy moet doen om dinge vir hulself draagliker te maak.

 

Hierdie artikel is ook beskikbaar in: English

Wêreldwyd
Wêreldwyd

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest