Leesvordering:

Tien vinnige (én vreemde) feite oor Paul Kruger

Okt 8, 2020

Die skets van Paul Kruger het op 8 Maart 1900 in Vanity Fair onder die afdeling “Men of the day” verskyn.

Stephanus Johannes Paulus (Paul) Kruger (10 Oktober 1825-14 Julie 1904) is ongetwyfeld een van die grootste name in Afrikanergeskiedenis. Maar wie was hierdie man werklik? Kraal Uitgewers het ter viering van Krugerdag – 10 Oktober – tien feite oor dié legendariese figuur uit die verlede gaan opsoek.

  1. Paul Kruger het slegs drie maande se formele skoolonderrig ondergaan. Hy was egter bekend vir sy helder verstand en het die Bybel as sy enigste leerboek beskou.

 

  1. Hy het as kind aan die Groot Trek deelgeneem en was as 11-jarige teenwoordig by die Slag van Vegkop in Oktober 1836 en het ook die bittere moordtonele by Moordspruit en Bloukrans in Februarie 1838 aanskou.

 

  1. Kruger was twee keer getroud. In 1842 is hy op 17-jarige ouderdom met Maria du Plessis getroud, maar sy is minder as vier jaar ná hul troudag oorlede. In 1847 trou hy weer. Dié keer met Maria se niggie, Gezina du Plessis.

 

  1. Paul en Gezina het 16 kinders gehad en teen die tyd wat Gezina in 1901 gesterf het, het 31 van die egpaar se seuns en kleinseuns in die veld aan die Anglo-Boereoorlog deelgeneem.

 

  1. Hy was ’n vurige jagter en het beweer dat hy onder meer tussen 30 en 40 olifante, vyf seekoeie en vyf leeus geskiet het. Kruger het ook ’n noue ontkoming met ’n renoster en ’n buffel in die jagveld gehad. Boonop het hy sy duim in ’n skietongeluk verloor toe die geweer waarmee hy op ’n renoster gevuur het, gebars het.

 

  1. Paul was teenwoordig by die Beleg van Makapansgrot waar die Voortrekkers duisende Kekana-mense gedurende Oktober en November 1854 onder beleg gehou het. Hier het Kruger in ’n heldhaftige optrede die liggaam van Piet Potgieter (wat in die geveg gedood is) naby die bek van die grot gaan haal en ook gepoog om die beleg tot ’n einde te bring. Volgens navorsing deur Janetta du Plooy het Kruger “die grot op ’n keer binnegegaan en in hulle eie taal die vasgekeerdes probeer oorreed om hom na buite te volg. Op ’n wonderbaarlike wyse het hy sy eie lewe behou en sowat 170 vroue en kinders uitgelei”. (Lees die volle verhaal van die beleg hier.)

 

  1. Kruger was deel van die sogenaamde Transvaalse Driemanskap – bestaande uit Kruger, Piet Joubert en M.W. Pretorius – wat leiding geneem het in die Transvalers se stryd om hul onafhanklikheid terug te kry. Dit het tot die Eerste Vryheidsoorlog (1880-1881) gelei. (Lees meer hieroor in Jackie Grobler se bekroonde boek Die Eerste Vryheidsoorlog, 1880-1881, beskikbaar in Kraal se e-winkel.)

 

  1. Paul Kruger is in 1883 die eerste keer verkies as president van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR). Hy het uiteindelik vier termyne in dié amp gedien.

 

  1. Kruger het die ZAR gedurende die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) verlaat en het vanjaar 120 jaar gelede, op 10 Oktober 1900, sy 75ste verjaardag in Lourenco Marques gevier. Dit was sy laaste verjaardag op Afrikabodem, want hy is nagenoeg vier jaar later as banneling in Switserland oorlede.

 

  1. Strate, dorpe, voorstede en bakens dra vandag nog Paul Kruger se naam, insluitende die Kruger Nasionale Park in die ooste van die land; Paul Krugerstraat in Afrikaanderbuurt in Rotterdam, Nederland; die President Paul Kruger-kinderhuis in Pretoria; Paul Krugerstraat in die middestad van Pretoria; Krugerrande; Krugersdorp; en Paul Krugerplein in Den Haag, Nederland.

 

BONUSFEIT:

Die naam van die woongebied Mamelodi, noordoos van Pretoria, is volgens oorlewering afkomstig van die bynaam wat plaaslike inwoners vir Paul Kruger gegee het. Die bynaam “Mamelodi” (wat beteken “moeder van melodieë”) is aan Kruger gegee weens sy fluitvernuf en sy vermoë om die sang van voëls na te maak.

(Bronne: Du Plooy, J. 1990. “Die ontstaans- en vestingsgeskiedenis van Potgietersrus, 1852-1904”, MA-verhandeling, PU vir CHO; San Francisco Call, “Death has summond Madame Paul Kruger”, 87(51), 21 July 1901, p. 19, available at https://cdnc.ucr.edu/cgi-bin/cdnc?a=d&d=SFC19010721.2.41&e=——-en–20–1–txt-txIN——–1; Rademeyer, J.I. “President S.J.P. Kruger”, Pretoriana, 50/51, 1966, pp. 64-69; South African History Online, “Mamelodi”, available at https://www.sahistory.org.za/place/mamelodi.)

Meer oor die outeur

Ilze Nieuwoudt

Ilze Nieuwoudt is die publikasiebestuurder by AfriForum.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Afrikaans is Groot hou vir ’n 11de keer konsert en jy kan wen!

Afrikaans is Groot hou vir ’n 11de keer konsert en jy kan wen!

In ’n wêreld vol onbekendes is daar een bekende: Afrikaans is Groot. Dis ’n saamkomplek omjou taal, jou kultuur en jou menswees te vier. En die jaar is geen uitsondering wanneer diegrootste familie-reünie nóg vanaf 8 to 17 November 2024 in die SunBet Arena in...

AfriForum vier 18 jaar van selfdoen

AfriForum vier 18 jaar van selfdoen

AfriForum, ’n organisasie wat vandag meer as 315 000 lede in elke uithoek van die land verteenwoordig, vier vandag sy agtiende bestaansjaar. Dié burgerregteorganisasie is op 26 Maart 2006 vir die eerste keer aan die publiek bekendgestel in ’n berig oor sy...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest