Leesvordering:

Toer Italië plat totdat jy platsak is

Feb 1, 2018

Met paspoort in die hand, opgewondenheid in die hart en euro’s in die sak het ek Italië op die 9de Desember 2017 op ’n soloreis aangepak en 24 uur later by my toergroep in Rome aangesluit.

Ek het die volgende 12 dae in die land van piazzas, pizzas en pastas spandeer, en my eerste indrukke was dat die kleure van die landsvlag ’n behoorlike weerspieëling is van die tradisionele Italiaanse basil, mozzarella en tamatie.

Om alleen te reis na ’n toergroep in ’n vreemde land waar jy niemand ken nie, is ’n angswekkende ervaring wat behoorlik my broek laat bewe het. Hoe weet ek waar om my volgende vlug te kry? Gaan ek by die toergroep uitkom? Hoe gaan my kamermaat wees?

Dít is maar net enkele van die gedagtes wat weke voor die tyd by my begin spook het. Maar as ek hierdie ervaring in een woord kan opsom, sal dit “vryheid” wees. Vryheid om ’n nuwe ervaring aan te pak en soveel as moontlik in te neem, vryheid om tot laat uit te bly, vryheid om nuwe vriende te maak en vryheid om jou eie besluite te neem.

Tydens my eerste aand in Rome is ons vergesel na ’n ondergrondse tronk wat tans in ’n restaurant omskep is en waar ons geleentheid gekry het om ons eerste bord pasta te eet en die res van die toergangers te ontmoet. Die groep het uit Amerikaners, Kanadese, Australiërs en natuurlik Suid-Afrikaners bestaan.

Italië in die winter

Om in die winter deur Italië te toer is ’n ervaring wat nie maklik beskryf kan word nie – alles lyk net mooier en voel net lekkerder. Daar is egter verskeie faktore wat in ag geneem moet word voordat jy besluit om hierdie land van olyfolie en salami in die winter aan te pak.

Talle van die besighede is gedurende hierdie tydperk gesluit omdat dit buite seisoen is, daar ’n groot moontlikheid bestaan dat dit kan reën, asook dat die temperature afneem hoe verder noord getoer word. Tydens my toer in Desember was die temperature matig en het minimum reënval voorgekom, terwyl ons ook gelukkig genoeg was om selfs ’n bietjie sneeu op die bergtoppe te sien.

Die voordele is egter dat die dorpe en stede aansienlik stiller is en dat ’n mens gemaklik kan rondbeweeg en plekke kan verken sonder om in rye te staan of tussen baie toeriste te beweeg. Die geleentheid is ook daar om met die inwoners van die dorpe te gesels en elke klein straatjie en boekwinkel te besoek om die regte “kleindorpiegevoel” te kry. Wintertyd beteken ook Kerstyd, versierde Kersbome in die strate, Kersliggies wat vensterbanke oral verlig, asook Kersmarkte met handgemaakte versierings en gemmerkoekies wat jou mond behoorlik laat water.

Doen dít, sien dít, proe dít

Omdat ek die geleentheid gehad het om die hele Italië plat te toer, het ek besluit om ’n klein wenslys vir elke stad of dorp wat ons besoek het op te stel:

Rome

  • Doen dit: Gaan op ’n staptoer deur Rome waartydens jy die toptoeriste-aantreklikhede sien. Alles is redelik naby mekaar geleë en kan met gemak binne een dag besoek word.
  • Sien dit: Bespreek gerus jou besoek aan die Colosseum en gaan gooi jou muntstuk in die Trevi-fontein om jou terugkeer na Rome te verseker.
  • Proe dit: Café Latte (klem op die Café, anders kry jy net warm melk).

Vatikaanstad

  • Doen dit: Besoek die kleinste land ter wêreld.
  • Sien dit: Hou jou oë na bo gerig wanneer jy die St. Peter’s Basilica besoek. Om die kunswerke met die goud, helder kleure en uitbeeldings teen die plafon te sien voel onwerklik.
  • Proe dit: McDonald’s. Omdat jy hier eerder geld op toegangsfooie moet spandeer. Dis goedkoop, naby en lekker.

Sorrento

  • Doen dit: Woon ’n pizzademonstrasie in Napels by waar die eerste pizza ontdek is.
  • Sien dit: Lemoene hang orals in die bome. Hoewel dit nie geëet kan word nie, is dit steeds iets besonders om te aanskou.
  • Proe dit: Limoncello-likeur, ’n suurlemoendrankie afkomstig vanaf Sorrento.

Amalfikus (word hoogs aanbeveel)

  • Doen dit: Ry al langs die Amalfikus – wat bekend is vir sy suurlemoene – en stop by die verskillende kusdorpies. Besoek die katedraal van St. Andrew in Amalfi.
  • Sien dit: Positano, Amalfi en Ravello. Loop deur die dorpies en gaan sit jou voete in die see.
  • Proe dit: Suurlemoen gegeurde geelsjokolade.

Pompeii

  • Doen dit: Bespreek ’n toer wat jou deur die oorblyfsels van die eens florerende stad Pompeii neem. Dié stad is gedurende die uitbarsting van die Vesuvius-gebergte op 24 Augustus AD 79 deur vulkaniese as bedek (tussen vier en ses meter hoog).
  • Sien dit: Die versteende liggame van die inwoners wat nie betyds van die vulkaan kon vlug nie. Daar is onder meer ’n versteende baba en ’n hond ook.
  • Proe dit: Eet gerus die Margherita-pizza by die Pompeii-restaurant .

Florence

  • Doen dit: Woon ’n leerdemonstrasie by en sien hoe Florence bekend geraak het daarvoor. Gaan ervaar Firenze se naglewe.
  • Sien dit: Klim die “dome” van die Katedraal van Santa Maria wat 463 trappe hoog is, asook die Giotto-toring wat uit 414 trappe bestaan. Dit gaan vir jou ’n 360° uitsig oor Firenze gee.
  • Proe dit: Handgemaakte gemmerkoekies by die Kersmarkte.

Verona

  • Doen dit: Besoek Juliet se huis wat gebaseer is op die bekendste liefdesverhaal in die geskiedenis en skryf jou naam teen Juliet se muur.
  • Sien dit: Die standbeeld van Juliet, asook haar balkon. Al die briewe wat aan Juliet geskryf is en die liefdesmuur vol kleurvolle slotte van mense wat hul liefde vir mekaar daar bewaar.
  • Proe dit: Antipesto misto (dit sluit kouevleis, kaas en broodjies in).

Venesië en Burano

  • Doen dit: Om Venesië te besoek sal nie volledig wees sonder ’n rit in ’n gondola nie. Neem ’n boot na die vissermansdorpie Burano.
  • Sien dit: Besoek en klim die hoogste punt wat jy kry om ’n uitsig oor Venesië te kry. Sien Burano se kleurvolle huisies wat bekend is regoor die wêreld.
  • Proe dit: Tiramisu in Venesië en swartseekatrisotto in Burano.

Sirmione na Salo via Lake Garda

  • Doen dit: Besoek die aftreekasteeldorpie Sirmione. Neem daarna ’n bootrit oor Laka Garda – die grootste rivier in Italië – na die dorpie Salo. Hierdie bootrit neem ongeveer 45 minute en kan rof wees, so pak maar die pilletjies in.
  • Sien dit: Sneeubedekte Alpe kan gedurende die bootrit gesien word. Neem ook die grootheid van die rivier in. Salo het een van die langste promenades langs die rivier en dit is die perfekte plek om foto’s te neem.
  • Proe dit: Drink ’n vars vrugteskommeldrankie in Sirmione.

Milaan

  • Doen dit: Gaan besoek die Da Vinci Museum en maak van die metrostelsel gebruik om rond te beweeg.
  • Sien dit: Sien die Duomo van Milaan ná die son gesak het en besoek die ontwerperswinkels in die stad se strate.
  • Proe dit: Die warm sjokolade is een om te probeer omdat dit ’n baie dik drankie is wat byna net uit gesmelte sjokolade bestaan.

Cinque Terre

  • Doen dit: Gebruik die metro om tussen die dorpe te pendel. Die dorpe is slegs 5 minute uitmekaar geleë en Monterosso, Vernazza en Manarola is die beste om te besoek.
  • Sien dit: Klim teen Manarola se koppie uit om die legkaarthuisies te sien wat langs die kus opgerig is.
  • Proe dit: Vernazza het baie lekker pastaspeserye, asook die lekkerste gelato om langs die see te geniet.

Pisa

  • Doen dit: Neem die ikoniese foto’s en koop vir jouself ’n magneet van die Skewe Toring van Pisa.
  • Sien dit: Kyk na die ander geboue rondom die toring ook; hierdie geboue word nooit genoem nie, maar is net so indrukwekkend.
  • Proe dit: Daar is verskeie straatkafees wat tuisgemaakte warm pizzas verkoop.

Tuscany

  • Doen dit: Besoek ’n wynplaas en gaan vir ’n Chianti-wynproe. Lees ook op oor die spesifieke wynplaas se geskiedenis.
  • Sien dit: Kyk na die verskeie wingerde in die omgewing en gaan vir ’n toer deur die kelder om te sien hoe alles werk en hoe die wyn geproduseer word.
  • Proe dit: Die bekende Chianti-wyn natuurlik.

Wat niemand jou van Italië vertel nie

  • Die Skewe Toring van Pisa is die bekendste, maar beslis nie die enigste skewe toring in die land nie.
  • Italië is ’n land van geluk en indien jy ’n gelukbringer nodig het, vryf die brons varksnoet in Florence, loop onder deur die reusewalvisbeen in Vernona of gooi jou muntstuk in die Trevi-fontein in Rome.
  • Paaie in Rome is georganiseerde chaos; kyk vyf keer links en vyf keer regs voordat jy oor die pad loop, want dit maak nie saak hoe nou die paadjie is nie, daar gaan beslis ’n motor deurkom.
  • Italianers eet eers ná 21:00, so nuttig dus ’n laatmiddagpizza en maak jouself reg vir ’n laat aand met baie pasta en wyn.
  • Moenie ’n TV aanskakel en verwag om iets te verstaan nie, want selfs The Big Bang Theory het ’n Italiaanse transformasie ondergaan.

Toptien wenke wanneer jy Italië wil besoek

  • Niks sê Italië soos ’n pak pasta nie; koop dus ’n pak vir al jou vriende en familie en bring dit saam. Dit is ’n goedkoop geskenk wat sal verseker dat jy meer pizzas vir jouself kan koop.
  • Die kans kom net eenkeer verby. Indien jy iets sien wat jy graag wil hê, koop dit dadelik. Van die produkte is eg aan die dorp en jy gaan dalk nie weer die kans kry nie.
  • Maak seker dat jy jouself genoeg tyd gee om by die lughawe aan te kom. Indien jy van ’n bussie gebruik maak, neem in ag dat die bussie ander passasiers ook moet oplaai en dat dit altyd spitsverkeer in Rome is. Voorkom dit te alle tye om soos ek tien minute voor die vlug te vertrek en die hek te haal.
  • Indien moontlik, reël jou verblyf in hotelle wat deur families besit word. Hierdie is ’n wonderlike ervaring wat jou toelaat om te eet soos wat die Italianers in daardie omgewing eet. Wi-Fi is in al die hotelle beskikbaar (so moenie daaroor bekommer nie).
  • ’n Truuk wat ek geleer het en vinnig by die res van die toergroep aangesteek het, is om ’n Ziplock-sakkie saam te vat na ontbyt. Die hotelle is baie vrygewig en laat ’n mens toe om ’n toebroodjie te maak en in te pak. Teen laatoggend is hierdie broodjie ’n lewensredder wat die ergste bewerasies stop en ’n bietjie energie gee tot middagete.
  • Vlieg is vir my ’n stresvolle ervaring en om dit boonop met ’n leë maag te doen is ’n resep vir tragedie. Pak dus ’n paar energiestafies in jou handbagasie om die kol op jou maag toe te stop en spaar sommer terselfdertyd €5 wat jy op die lughawe sou spandeer.
  • Een of twee dik baadjies gaan jou beste vriend wees op hierdie reis. Maak seker om nie te veel lae aan te trek nie omdat die restaurante soos ’n somersdag in Suid-Afrika voel. Probeer ook jou wasgoed in die middel van jou reis te was; dit is redelik goedkoop en laat jou met ’n tas vol skoon klere om die res van die vakansie skoon af te skop. Dit is ook ’n goeie idee om ’n reënjas of sambreel in te pak vir die dae wat dit ongure weer is.
  • Een van die lekkerste redes om te reis is om foto’s te neem en op sosiale media te laai om sodoende jou vriende by die huis jaloers te maak. Pas op egter om te veel deur die lens te kyk en nie genoeg met jou eie oë nie. Neem jou foto, maak seker dit is reg, en bêre dan die kamera. Foto’s is nie ’n ware weerspieëling van die oomblik nie, so kyk met jou oë en neem alles in.
  • Loop soveel as moontlik, klim soveel as moontlik, eet soveel as moontlik en sien soveel as moontlik.
  • Die belangrikste en waardevolste wenk wat ek vir jou kan gee is om platsak terug te keer!

Leer Italiaans in vyf minute

Goeiemôre – Buongiorno
Goeienaand – Buonasera
Hallo – Ciao
Totsiens – Arrivederci
Dankie – Grazie
Asseblief – Per Favore
Plesier – Prego
Hoe gaan dit – Come stai
Goed – Bene
Hoeveel kos dit – Quanto costa
Koffie – Café
Wyn – Vino

My Italiaanse ervaring was wonderlik; dis ’n land vol geskiedenis, kuns en argitektuur wat my altyd na aan die hart sal lê en wat ek altyd sal onthou. Met my terugkeer na Suid-Afrika het ek net weer eens besef hoe groot die wêreld is en hoe baie daar is om te sien en te ervaar. Gebruik elke geleentheid en gebruik al jou geld, jy sal nie spyt wees nie. Veilige reis!

Arrivederci!

Meer oor die outeur

Minette Keyter

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Soos jy nooit die reuk van ’n stofpad ná die reën sal vergeet nie, so het elke Suid-Afrikaner ervaringe gehad wat ’n mens nie anders kan as om te mis nie. Sê wat jy wil, Suid-Afrika is uniek. Daar is nie veel plekke in die wêreld waar jy oor soveel mooi vlaktes kan...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest