Tydens die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) het die Nederlandse bevolking groot belangstelling getoon in die Transvalers en Vrystaters se dapper stryd teen die Britte. Nederlandse vrywilligers het ook aan die stryd deelgeneem. Een van hulle was Cornelis van Gogh, ’n broer van die beroemde kunstenaar Vincent van Gogh. Hy het in 1889 uit Nederland na die Transvaal geïmmigreer, met die uitbreek van die oorlog hom aan die kant van die Boere geskaar en is toe deur die Britte gevange geneem. Hy het siek geword en is in die siekeboeg van die Brandfort-konsentrasiekamp opgeneem. Daar is hy op 14 April 1900 oorlede. Die Transvaalse Rooikruis het beweer hy het homself geskiet; ander bronne ontken egter dat dit selfmoord was. In 2015 het die boek Die onbekende Van Gogh: Die lewe van Cornelis van Gogh, van Nederland tot Suid-Afrika uit die pen van Chris Schoeman oor hom verskyn.

Nog ’n interessante oorblyfsel van die Anglo-Boereoorlog in Nederland is die sogenaamde Transvaal- of Afrikanerbuurte of -wyke wat na afloop van die oorlog in verskeie Nederlandse stede gevestig is. Weens hulle heldeverering vir en simpatie met die Boere, wat destyds as Nederlandse afstammelinge beskou is, het Nederlanders in hierdie buurte strate of pleine na Boereleiers, plekke in die Vrystaat en Transvaal, of beroemde veldslae vernoem. Sulke buurte word in Amsterdam, Arnhem, Baarn, Den Haag, Dordrecht, Haarlem, Leeuwarden, Leiden, Vaassen, Vlaardingen, Zaandam, Nijmegen, Hengelo en Rotterdam aangetref. Dit was meestal werkersklasbuurte en die huise wat daar opgerig is was eenvoudig en goedkoop. Meer onlangs is sommige strate weens die anti-apartheidstryd na anti-apartheidsfigure hernoem. In Amsterdam het Pretoriusplein byvoorbeeld Steve Bikoplein geword. Die meeste van die oorspronklike name het egter behoue gebly.

Leeuwarden se Transvaalwijk is na my mening een van die mooiste buurte in Nederland. Dit word aan die een kant deur die stadsgrag begrens, wat beteken dit is tussen pragtige openbare ontspanningsareas met reusebome, grasperke en blomme geleë. Volgens die sensussyfers het 2 645 mense in 2012 daar gewoon. Die buurt is besig om te moderniseer en baie van die oorspronklike huise word tans gerestoureer.

Vir ’n besoeker soos ek met ’n passie vir Afrikanergeskiedenis, is dit aangrypend om in Steijn- [sic], De Wet-, Cronjé-, Natal- en Transvaalstraat te loop en te beleef hoe ons verlede op hierdie wyse in die vreemde nog bewaar word, terwyl dit in Suid-Afrika so maklik verag of vergeet word.

Ek beveel ’n wandeling deur Leeuwarden se Transvaalwijk sterk aan, veral in die lente as die gras op die oewer van die grag byna neongroen is en die geur van rose swaar in die lug hang.

Hierdie artikel is ook beskikbaar in: English

Alana Bailey
Alana Bailey
Alana Bailey is Adjunk Uitvoerende hoof van AfriForum verantwoordelik vir Internasionale skakeling, taal en kultuur.

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest