Leesvordering:

Trek ʼn stoel nader!

Mei 2, 2019

Maroela het ’n stoel vir jou – maak nie saak waar in die wêreld jy jou bevind nie! Kom skop jou skoene uit en maak jou tuis in dié unieke Afrikaanse mediahuis.

Hier is sitplek vir elkeen in die familie. In die sitkamer staan die gemaklike leerstoel gereed vir die oggendkoffie saam met die oggendnuus. In die studeerkamer is ons ernstiger; hier word gedebatteer en diep gedink – daarom twee diep dink-stoele. In die kombuis kan jy jou neerplak op ʼn kombuisstoel en vir ouma help groenboontjies kerf. In die Gedoriewaar-afdeling waar ons vreemde, wonderlike stories vertel, is jou nuwe saamkuier-stoel net so vreemd en wonderlik. In Karmenaadjies, wat onder meer sorg vir jou geestelike leesstof vir die dag, spog jou stoel met ʼn tong-in-die-kies-hekeloortreksel waar jy lekker lank kan sit. Kom skerp jou Afrikaans op en bly selfs op hoogte van die jongste sportnuus. Blaai gerus deur al die afdelings op Maroela Media (gebruik die hoofkieslys heel bo): kom maak jou tuis en kom kuier saam.

Maroela Media is gebalanseerd en betroubaar. As jy wonder of iets waar is, kan jy maar by ons kom kyk. Dis ons werk om seker te maak die feite wat ons in ons nuusberigte publiseer, is korrek. Ons probeer die volle prentjie gee sodat jy nie op ander plekke hoef te gaan soek vir die inligting wat selektief weggelaat is nie. Jy kan veilig voel by ons – ons het ons huiswerk gedoen. So as die lewe ʼn bietjie te veel word vir jou, kom kry jou sit in Oupa en Ouma se sitkamer; haal vir jou ʼn boek van die rak af, verwonder jou aan die familieportrette teen die muur en drink die oues van dae se wysheid in.

Dis vir ons belangrik dat ons lesers moet weet wat die omvang is van dit wat die Maroela-span van dag tot dag doen. Mense se oë rek gewoonlik as hulle syfers hoor soos hierdie:

  • Maroela Media het in 2018 net meer as 16 000 artikels op die webblad gepubliseer – dis sowat 1 350 per maand.
  • Die aantal bladsye (of artikels) wat Maroela-lesers gedurende 2018 op Maroela gelees het, was net meer as 150 miljoen.
  • Kom ons bied dit ʼn bietjie meer verteerbaar aan: Indien elke artikel wat gedurende 2018 op Maroela Media gelees is, op ʼn A4-vel papier gedruk sou moes word, sou ons 18 413 bome se papier moes gebruik.
  • Maroela-lesers het gedurende 2018 meer as 4 miljoen ure op Maroela Media spandeer. As ʼn mens dit ʼn bietjie verder verwerk, beteken dit die hoeveelheid tyd wat mense op Maroela deurgebring het, is gelykstaande aan 497 jaar.
  • Die totale hoeveelheid kommentare wat verlede jaar op Maroela Media gelewer is, was sowat 222 000, met ʼn gemiddeld van sowat 18 500 per maand. Elkeen van hierdie kommentare word met die hand nagegaan en goed- of afgekeur.

Maar vir Maroela gaan dit allermins net oor nuus en statistiek – hierdie is maar bloot interessante maniere hoe ons meet of dit wat ons skryf, wel in die kol is vir ons teikenmark se nuus- en inhoudsbehoeftes. Daar is ook ʼn rits ander dinge wat Maroela doen, ter wille van Afrikaans en ons Afrikaanse gemeenskap.

  • Het jy geweet dat Maroela Media ʼn projek het waarmee ons die publiek aanmoedig om Afrikaanse artikels op Wikipedia te publiseer? Die doel hiermee is om skoolkinders in staat te stel om hul navorsing en skooltake in Afrikaans aan te pak. Maroela publiseer self ook ʼn groot hoeveelheid skoolverwante artikels op die Afrikaanse weergawe van Wikipedia.
  • Het jy geweet dat Maroela Media ʼn netwerk van 57 gemeenskapsradiostasies landswyd en in Namibië het met wie ons saamwerk? Ons voorsien hierdie radiostasies van lekker klankinhoud wat ons in ons eie ateljee vervaardig, werk met hulle saam waar moontlik, en bied ook een keer per jaar vir hulle opleiding aan tydens ʼn gemeenskapsradioseminaar teen ʼn uiters geringe koste.
  • Het jy geweet dat Maroela Media elke jaar ʼn radiovervolgverhaal vervaardig? Die ervare regisseur en vervaardiger Bettie Kemp pak elke jaar hierdie projek saam met Maroela Media aan. Die radiovervolgverhaal word oor ʼn tydperk van ses maande, elke weeksdag op sowat 37 van die gemeenskapsradiostasies wat deel van ons netwerk is uitgesaai.
  • Het jy geweet dat Maroela Media die heel eerste instansie was wat die matriekuitslae in Afrikaans in ʼn elektroniese formaat aan matrikulante beskikbaar gestel het? Ons het baanbrekerswerk gedoen toe ons drie jaar gelede ʼn platform ontwikkel het waardeur matrieks met hul eksamennommer hul eksamenuitslae in Afrikaans kan kry op die dag wat dit bekend gemaak word.
  • Het jy geweet dat Maroela Media ʼn paar jaar gelede ʼn veldtog van stapel gestuur het waarmee ons die Grootste Afrikaner van Alle Tye aangewys het? In dié veldtog, wat lesers se kultuurtrots so ʼn bietjie wakker gemaak het, is Paul Kruger deur ons lesers aangewys as die grootste historiese Afrikaner wat nog ooit geleef het.
  • Het jy geweet dat Maroela Media se lesers drie jaar gelede die bekende lied “Kinders van die wind,” geskryf deur Koos du Plessis, aangewys het as die Grootste Afrikaanse Liedjie van Alle Tye? En het jy geweet dat Maroela Media, in samewerking met Ludwig’s Roses, daarna ʼn roos met die naam “Kinders van die Wind-roos” bekend gestel het? Dié roos is steeds by takke van Ludwig’s Roses te koop.

Hoekom doen ons dié dinge? Want dis vir ons belangrik dat ons lesers toegang het tot betroubare, gebalanseerde inligting, wat hulle in staat stel om ingeligte keuses te maak – maak nie saak waar in die wêreld jy jou bevind nie.

Dis vir ons belangrik om te doen wat ons kan om te verseker dat ons moedertaal, Afrikaans, ʼn veilige omgewing het waarin dit kan floreer. En dis veral vir ons belangrik om ons Afrikaanse gemeenskap te dien.

Kom maak jou tuis en kuier lekker saam met ons. Onthou – Maroela Media is jou gebalanseerde, betroubare bron van nuus.

Meer oor die outeur

Maroela Media

Maroela Media is ‘n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela – gemeenskap wil wees.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Soos jy nooit die reuk van ’n stofpad ná die reën sal vergeet nie, so het elke Suid-Afrikaner ervaringe gehad wat ’n mens nie anders kan as om te mis nie. Sê wat jy wil, Suid-Afrika is uniek. Daar is nie veel plekke in die wêreld waar jy oor soveel mooi vlaktes kan...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest