Tunis alkhadra. Dit is die Arabies vir Tunisië, die groene en wys daarop dat dit ‘n reusewanopvatting is om aan dié land as ‘n woestyn te dink. Tunisië is bo in Afrika teen die Middellandse See geleë, tussen Algerië en Libië en reg oorkant Italië. Die suide is woestynagtig, maar die noorde vrugbaar en groen met ‘n Mediterreense klimaat. Tunis is die hoofstad van Tunisië.

Vir twee volle en twee halwe dae was dit my voorreg om Tunis te besoek. Die doel was om deel te neem aan die eerste byeenkoms van die Afrika-Midde-Oosterse Streeksforum oor Onderwys: Taal- en Menseregte van Minderhede wat deur die VN en die Tom Lantos-instituut gereël is. Die byeenkoms was ‘n groot sukses. Aan die einde van twee dae se intensiewe bespreking het die aanwesiges ‘n lys voorstelle vir die bevordering van minderheidstale in onderwys opgestel. Dit sal as aanbevelings aan die twaalfde sitting van die VN se Forum vir Minderheidsaangeleenthede in Genève, Switserland deurgegee word en waarskynlik ook in ‘n VN-gids oor die hantering van hierdie temas vir lidstate ingesluit word. Dit is ‘n besondere voorreg dat AfriForum se insette op hierdie vlak erken en gebruik word. Ek was die enigste aanwesige uit Suider-Afrika; hopelik sal bywoning uit ons streek in die toekoms toeneem.

Uiteindelik was daar net vier uur tussen sonop en my terugreis om meer van Tunisië self te siene te kry. ‘n Gawe taxibestuurder het my na van die besienswaardighede geneem. Dit sluit onder meer die volgende in:

Byrsa-heuwel

Tunisië is aanvanklik bewoon deur die Imazighen, ook bekend onder die meer neerhalende naam Berbers. Volgens legendes het ‘n prinses, Dido (ook bekend as Elissa), in die negende eeu voor Christus met haar gevolg uit Fenisië gevlug nadat haar broer, Pygmalion, haar man vir mag en besittings vermoor het. Sy het met die Imazighen se plaaslike leier onderhandel om grond te koop om ‘n stad daar te bou. Die legende lui dat die leier gesê het sy mag soveel grond kry as wat sy met ‘n beesvel kan toespan. Sy was slim en het die vel in ‘n rafeldun riem opgesny waarmee ‘n groot stuk grond omspan is. Dit was dan die geboorte van die beroemde Kartago, eens ‘n magtiger stad as selfs Rome.

Die invloed van Kartago is geen mite nie. Dit was ook die geboorteplek van Hannibal. Op Byrsa-heuwel kan fondasies van die oorspronklike Puniese stad, wat rofweg uit die derde eeu voor Christus dateer, nog gesien word. Van die wonings was tot vyf verdiepings hoog en het ingewikkelde watertoevoerstelsels gehad.

Danksy Kartago se strategiese posisie kon die stad handel om die Middellandse See beheer. Die Romeinse Ryk wou hierdie dominansie verbreek en drie hewige oorloë tussen die Romeine en Puniese burgers het gevolg. In 146 v.C. het Rome die laaste stryd gewen, Kartago vernietig en die area in besit geneem. Die Romeine is later deur die Vandale verdryf; die Vandale is weer deur die Bisantyne verdryf, en daarna het die Arabiere die gebied gekoloniseer.

Destyds het een beskawing bloot bo-op die vorige beskawing se reste gebou, dus kan argeoloë oorblyfsels van die Puniese, Romeinse, Vandaalse en Bisantynse beskawings laag vir laag ondersoek op terreine soos dié by Byrsa.

Op Byrsa is ‘n museum wat voorbeelde van die argeologiese ontdekkings aan die publiek ten toon stel, maar dit word tans heringerig en ek kon dit dus nie besoek nie. Ek moes met ‘n vroegoggendstappie deur die ruïnes tevrede wees. Dit was steeds ‘n aangrypende ervaring.

By Byrsa het ook ‘n meer “onlangse” stukkie geskiedenis afgespeel. Louis IX (1214-1270) is die enigste Franse koning wat ooit deur die Rooms-Katolieke Kerk tot heilige verklaar is. Hy het ernstig siek geword en ‘n gelofte afgelê dat hy ‘n kruisvaarder sou word as hy die siekbed oorleef. Nadat hy op wonderbaarlike wyse gesond geword het, het hy aan die Sewende en Agtste Kruistog deelgeneem. Tydens die Agtste Kruistog het hy en sy manskappe in 1270 in Kartago aangekom en kamp opgeslaan. Disenterie het onder hulle uitgebreek en hy is daar oorlede. Hy is later in die Basilika van Saint-Denis in Frankryk herbegrawe. Ter ere van hom is ‘n katedraal in 1884 op Byrsa-heuwel gebou op die plek waar ‘n antieke tempel eens gestaan het. ‘n Standbeeld van hom is ook daar opgerig.

Romeinse villas

Naby Byrsa-heuwel is ‘n argeologiese terrein waar spanne argeoloë met lede uit 23 lande soms aan opgrawings deelneem. ‘n Dierbare plaaslike argeoloog het van die mosaïekvloere wat daar ontdek is en gerestoureer word vir my gaan wys, asook die oorblyfsels van die luukse “Voëlkou-villa”, so genoem omdat dit ‘n oordekte binnehof gehad het met pragtige mosaïekvloere wat voëls uitbeeld. Die patrone op die vloere dui die ouderdom aan. Die oudstes is bloot geometriese patrone. Die Romeine het beeldryke, veelkleurige vloere geskep. Rofweg ‘n eeu na Christus begin die kruis as simbool in die mosaïeke verskyn. Daarna kom die Vandale, wat weer geometriese patrone verkies het waarvan die swastika ‘n gewilde simbool was. Die area is besonder mooi geleë met ‘n uitsig op die Middellandse See. Selfs keiser Hadrianus het ‘n vakansievilla hier gehad.

Tophet

‘n Afgryslike stuk geskiedenis kom ook in die omgewing aan die lig. Die Fenisiërs van Kartago het kinders aan Tanit en Baäl geoffer. Vir jare is die praktyk ontken, maar argeoloë het die afgelope dekade onteenseglike bewyse gevind dat dit wel so was. Hulle reken meer as 20 000 kinders het tydens die Fenisiese tydperk só omgekom. Hulle oorskot is dan begrawe in urne met grafsteentjies daarop.

Romeinse Baddens van Antoninus

Die derde grootste openbare badkompleks wat ooit in die Romeinse tydperk gebou is, is in Kartago opgerig. Hierdie Baddens van Antoninus, soos dit bekendgestaan het, kon meer as 500 mense op ‘n keer huisves in gimnasiums, verhitte en koue swembaddens, badareas en kleedkamers. Dit is omring deur die ruïnes van winkels en villas. Water vir gebruik deur die baddens en huishoudings is 132 km ver uit die binneland gebring met die Zaghouan-akwaduk. Net langs die kompleks kan die moderne paleis van die Tunisiese president gesien word. Die president is pas op 15 Oktober 2019 verkies en swaar gewapende soldate bewaak die paleismuur. Polities lyk dinge redelik stabiel in die land, maar almal hou nog ‘n bietjie asem op.

Sidi Bou Said

Hierdie pragtige dorpie lê op ‘n heuwel bo die Middellandse See, net noord van Tunis. Die wit geboue en helderblou deure en vensters is kenmerkend daarvan. Oral stroom bougainvilleas in helder kleure oor die skelwit mure. Daar woon heelwat mense, waaronder kunstenaars en winkeliers. Enkele van die huise word ook deesdae as verblyf vir toeriste ingespan. Dit is ‘n heerlike plek vir teedrink, inkopies doen en sommer net verken.

Wenke vir ‘n besoek aan Tunisië
  • Min direkte vlugte is na Tunisië beskikbaar. Jy kan wel maklik van Parys, Rome en Dubai daar kom.
  • Suid-Afrikaners het nie visums nodig nie. Jy stap letterlik net deur paspoortbeheer en begin jou avontuur.
  • Tunisiërs se eerste taal is Arabies, die tweede Frans en die derde Engels. Met net Engels gaan jy sukkel… Maar die mense is baie vriendelik en behulpsaam.
  • Kos is redelik goedkoop en heerlik, veral bredies en seekos, granate en dadels. Allerlei soorte tee en limonade is heerlik verfrissend.
  • Tipiese produkte van Tunisië is mosaïekwerk, kameelleerprodukte, tradisionele kaftans, tapyte, weefwerk en keramiek.
  • As jy mosaïekwerk wil koop, hou dit voor skerp lig. Regte marmermosaïek sal ‘n bietjie lig deurlaat, maar nagemaakte marmer, wat eintlik net ‘n pasta van sand is, nie.
  • Winkeliers, smouse en taxibestuurders kan baie intimiderend wees. Kibbel oor pryse, en as jy kan, moenie alleen met hulle sake doen nie.
  • Die Tunisiese dinar is ‘n geslote geldeenheid. Dit beteken jy mag nie kontant in of uit die land neem nie, maar jy kan oral ander geldeenhede vir dinar wissel. Op pad uit die land moet jy bewys toon van die wisseltransaksie om die geld te kan terugruil. Ek het eenvoudig geld by ‘n OTM getrek. Daar is baie OTM’e en hulle aanvaar die meeste soorte kaarte, soos Master en Visa. Baie winkels en diensverskaffers sal ook met graagte Amerikaanse dollars of euro’s aanvaar. Op die lughawe kan jy jou laaste dinars op Tunisiese produkte of verversings spandeer as jy dit nie wil terugruil nie.
  • Geen inentings is vir Tunisië nodig nie, maar pasop vir vars vrugte (maagaandoenings) en rondloperdiere (hondsdolheid).
  • Besoek die historiese terreine met ‘n goeie gids. Daarsonder weet jy nie wat jy sien nie, want dikwels is daar geen byskrifte nie of dit is onleesbaar. Inligting oor die land is ook jammerlik beperk op die internet. Geld is duidelik skraps en museums en historiese terreine trek swaar. As iemand “vrywillig” as gids aanmeld, onthou dat hy ‘n fooi verwag. Dit is beter om eers daaroor ooreen te kom voor die toer begin.

Ek is seker die land het veel, veel meer te ontdek. Gaan gerus en beleef jou eie avontuur in Tunis alkhadra.

Hierdie artikel is ook beskikbaar in: English

Alana Bailey
Alana Bailey
Alana Bailey is Hoof van Kultuursake by AfriForum, verantwoordelik vir Internasionale skakeling, taal en kultuur.

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest