Leesvordering:

Uit en Tuis: E-pos uit Dorset

Apr 7, 2021

Uit en Tuis is ’n rubriek waar ons met mense gesels wat tans in die buiteland woon of wat daar gewoon en gewerk het. Vandeesweek gesels ons met Liezl Brynard wat in Dorset, Engeland woon.

Vertel ons meer van jouself en jou gesin en waar julle woon.

Ons is ’n gesin van drie en ons woon in Dorset. Ons het vier jaar in Londen gewoon, maar het besluit om te verhuis sodat ons meer spasie kan hê. Londen se huur is ongelooflik duur. Hier is ons net 10 minute se stap van die mooiste bos af en ons dorpie is omring met plase. Ons is ook net 30 minute van een van Engeland se min sandstrande af. Die strande hier is mos maar meestal klipperig.

Julle het ’n interessante emigrasiereis beleef. Vertel ons meer.

Ek en my man (op daardie stadium my kêrel) wou bitter graag oorsee gaan en het begin 2005 vir ons avontuur vertrek. Die plan was om drie maande Engeland toe te kom, aangesien my man iemand hier geken het. Ons sou dan ’n bietjie werk aan ons Engels en geld spaar voordat ons Hongkong toe gaan. Laasgenoemde het egter nooit gebeur nie, want ons het nie besef hoe duur Engeland (veral Londen) is nie. Ons moes ons rande mooi tel voor ons iets kon koop!

My man het vinnig werk gekry, maar ek het ’n bietjie gesukkel. Ons is in 2006 getroud en ons dogtertjie is in 2012 gebore. Aangesien kindersorg so duur is hier, maak dit vir die meeste mammas nie sin om ná hulle kraamverlof weer terug te gaan werk toe nie. Ons het besluit om ná my jaar kraamverlof eerder terug te trek Suid-Afrika toe sodat ons naby die familie kan wees en sodat my dogtertjie met haar oumas en oupas ’n klipgooi van haar af kan grootword. Ons het ons hele huis en ons kar per skip Suid-Afrika toe gestuur en ek het Engeland finaal gegroet. My man kon gelukkig nog vir dieselfde besigheid van die huis af in Suid-Afrika werk.

Ná twee jaar het die besigheid ongelukkig besluit om daardie tak toe te maak, en ons opsies was dat hy afgedank word of dat ons terugkom Engeland toe waar hy ’n bevordering kon kry. Ná baie trane het ons besluit om terug te kom. Ons het met net ses tasse op Heathrow geland. My dogtertjie (toe 3) kon nie ’n woord Engels praat nie, maar het gou reggekom en is nou heeltemal gemaklik met Engels en Afrikaans. Ons praat ook net Afrikaans in die huis.

Enige lesse wat emigrasie julle geleer het?

’n Mens moet hare op jou tande hê en baie aanpasbaar wees, want dinge werk nie altyd uit soos jy beplan nie. So ’n groot stap kan ’n mens se verhouding maak of breek. Ons het gelukkig baie sterker aan die ander kant uitgekom.

Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika?

Sjoe, waar sal ek begin? Die weer, die vriendelike mense, die kos (veral die vleis en vars plaasvrugte), ons familie, die see!

Wat is vir jou die beste en slegste van Engeland?

Die beste is beslis die geleentheid om sommer vir ’n naweek Europa toe te gaan. Ons het al baie lekker plekke besoek, maar die beste sover was Madeira en Italië. Ek is ook mal oor die lang dae in die somer wanneer die son al 05:00 opkom en eers ná 21:00 sak. Engeland het baie mooi landskappe;  die Merestreek is byvoorbeeld pragtig! Die ou geboue en kastele is ’n belewenis!

Die slegste is die feit dat die kinders so vroeg al moet begin skoolgaan. Hulle begin die jaar wat hulle vyf word, en ons skooljaar duur van September tot Julie. Gelukkig verjaar my dogtertjie in Oktober, so sy is een van die ouer kinders in haar klas, maar van haar maatjies verjaar eers in Augustus, so hulle was die hele jaar vier jaar oud. My dogtertjie hou ook niks van skoene dra nie, en hier moet hulle die héle dag skoene dra. Die donker Desembers vang ons ook. Die son kom eers ná 07:00 op en teen 16:00 is dit al weer donker.

Hoe lyk julle ondersteuningstelsel daar? Het julle maklik vriende gemaak en by die gemeenskap ingeskakel?

Dis baie moeilik om hier vriende te maak. Die meeste van ons vriende is Suid-Afrikaners. Die Britte is baie private mense. Jy kan nie net by hulle huis opdaag nie, jy moet vooraf reël. Ons het darem meer vriende gemaak toe my dogter skool toe is, maar omdat ons nou weer verhuis het en met die inperking niemand mag sien nie, het ons nog nie regtig vriende gemaak hier waar ons nou woon nie. Ek hoop ons sal hierdie somer meer mense ontmoet. Die mense buite die groot stede is baie vriendeliker as in die stad self. Dit was altyd vir my so vreemd dat ek vir vyf jaar lank langs dieselfde ou op die trein op pad werk toe gesit het, en hy het nie een keer met my gepraat nie. Ek is seker in Suid-Afrika sou ons teen week een al land en sand gesels het!

Tot watter mate het COVID ’n impak op julle lewens gehad?

Ons sou die week toe Suid-Afrika se grense toegemaak is vir drie weke gaan kuier het. Dit was vir ons ’n baie groot teleurstelling! Ons het destyds toe ons besluit het om terug te kom almal verseker dat ons elke jaar sal kom kuier en dat ons darem altyd binne 24 uur in Suid-Afrika kan wees in geval van nood. Min het ons geweet dat ons ’n jaar later steeds nie Suid-Afrika toe sal kan vlieg nie. Ons eerste inperking was streng, maar ons kon darem steeds een keer ’n dag uitgaan vir oefening en die weer was baie lekker. Ons het ook elke oggend lekker saam met Joe Wicks op YouTube geoefen en in die tuin uitgekamp.

Ek en my man werk albei van die huis af, en met die skole wat in Maart 2020 gesluit het en eers weer in September oopgemaak het, was dit baie uitdagend om ons dogter met haar skoolwerk te help, ons eie werk te doen en nog die huis ook in stand te hou. Dit plaas baie druk op ’n mens se verhoudings en jy kan nie ’n bietjie wegkom van mekaar nie. Die skole was weer van Januarie tot 15 Maart 2021 gesluit. En nou lê die 19 dae lange Paasvakansie voor! Voor die grendeltyd was ek nie eens bewus van platforms soos Zoom en Google Classroom nie! Terwyl Suid-Afrika ingeperk was, het ons familie elke Saterdag ’n Kahoot-vasvra oor Zoom gedoen en sommer net lekker gekuier!

Ons het in Oktober 2020 laas vriende gesien, en as gevolg van strenger reëls in Desember was dit ons eerste Kersfees heeltemal alleen. Ons kon darem die familie Zoom en sommer saam-saam geskenke oopmaak. Dankie tog vir tegnologie!

Ons reëls begin darem nou ’n bietjie beter raak. Van vandag af mag ’n mens weer ses mense in jou tuin sien en jy mag ook weer na verskillende dele toe ry; ons mag byvoorbeeld weer Londen toe gaan. Ons sien baie uit om weer ’n slag met ons vriende te kan kuier!

Is daar enigiets anders wat jy wil byvoeg?

Ek het lank gelede op ’n suikerpakkie gelees: “Life is what happens to us while we are busy making other plans.” Dinge werk nie altyd uit soos jy dit beplan het nie, maar dit werk altyd soos dit móét. Jy kan nie altyd alles beheer nie, so geniet die nóú en moet jou nie te veel oor die toekoms bekommer nie!

Woon jy in die buiteland of het jy onlangs na Suid-Afrika teruggekeer? Ons wil van jou hoor. Stuur gerus ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

Uit en tuis: ’n e-pos uit Nederland

Uit en tuis: ’n e-pos uit Nederland

Uit en tuis is ’n rubriek waarin ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar weer terug is in Suid-Afrika. Ons hoor graag van enigeen wat hul belewenisse met ons wil deel. Vandeesweek gesels ons met Natasha Viljoen wat al ses...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest