Leesvordering:

Uit en Tuis: Groete uit Newbury

Mar 15, 2021

Uit en Tuis is ’n rubriek waar ons met mense gesels wat tans in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het. Vandeesweek gesels ons met Maxie Heppell wat saam met haar man Èmil in Newbury in die Verenigde Koninkryk woon.

Van waar in Suid-Afrika is jy en waarom het jy besluit om oorsee te gaan woon?

Ek en my man is eintlik al twee Vrystaters – ek is van Trompsburg en hy is van Jagersfontein. Maar Èmil was sy hele loopbaan nog in bankwese (FNB) en ons het gereeld verhuis. Sy laaste plasing was as uitvoerende hoof van FNB in Lesotho en ons het vir twee jaar in Maseru gewoon. Weens ’n seldsame genetiese siekte het hy egter in 2015 sy sig tot so ’n mate verloor dat hy medies ongeskik verklaar is, en ons het (bloedjonk) gaan aftree in Jeffreysbaai.

So drie jaar later het ’n ou bankkliënt van Lesotho genoem dat hulle besigheid gereed was om ’n nuwe produk wêreldwyd te neem. Ons het onmiddellik die moontlikheid van ’n nuwe avontuur aangegryp! Ek is tans hoof van Besigheidsontwikkeling: Europa en my man is my grootste ondersteuner en klankbord.

Was dit ʼn groot aanpassing?

Nie regtig nie. Ons het vantevore ook in Engeland gebly en kom vakansie hou. Om eerlik te wees: Die aanpassings was “lekker” aanpassings!

TESCO (Pick n Pay) bly tot 00:00 oop; daar is ’n nommer wat jy kan bel as jy sleg voel, maar nie weet of jy moet dokter toe gaan nie; en die ondersteuning wat Èmil hier kry met sy ingeperkte sig, is ’n groot riem onder die hart. Om maar net ’n paar goed te noem …

Vertel ons meer van jou gesin.

Èmil het twee kinders wat in Suid-Afrika woon. Amelia studeer onderwys aan die Noordwes-Universiteit en Reevan is ’n tweedejaarstudent in Bedryfsingenieurswese by die Universiteit Stellenbosch. Ons sien hulle nie so gereeld as wat ’n mens graag sou wou nie – veral nie nou nie. Maar dankie tog vir tegnologie!

Wanneer hulle wel hier kom kuier, is dit gewoonlik ’n lang en goed beplande toer deur die beste van die Engelse toeriste-aantreklikhede!

Praat julle nog Afrikaans?

Beslis! Met mekaar, natuurlik. Maar hier is heelwat Suid-Afrikaners in Engeland, en al praat hulle Engels, verstaan hulle gewoonlik Afrikaans baie goed! My haarkapster, ons versekeringsagente en die persoon by wie ons ons motor gekoop het, praat almal Afrikaans. My man het ook twee neefs wat hier woon, so familiekuiers is ’n groot Afrikaanse gedoente!

Hoe gereeld sien julle familie mekaar?

Nie baie nie. Ons is nou amper twee jaar hier, en ek was nog nie weer terug Suid-Afrika toe nie. My ma en pa is beide reeds oorlede, maar ek het nog ’n boetie in Suid-Afrika.

Èmil was al twee keer terug: Die eerste keer weens sy pa se gesondheid en nou onlangs om die kinders se studies te gaan uitsorteer vir die nuwe jaar. Èmil-hulle is vier boeties en dan weet jy daar word ordentlik gekuier!

Daar is heelwat Suid-Afrikaners in die Verenigde Koninkryk. Kom julle soms bymekaar?

Soos reeds genoem – daar is baie Suid-Afrikaners hier! Veral in die omgewing waar ons woon. Ons het nie nog nie regtig oor en weer begin kuier nie, want in Maart 2020 het alles hier tot stilstand gekom weens COVID.

Wat was die vreemdste waaraan jy gewoond moes raak?

Ek klem soms steeds my handsak vas en loop en kyk oor my skouer. Aaklige gewoonte om af te leer.

Aan die ander kant: Ons is vreeslike hondeliefhebbers en het ons skaaphond ook laat oorvlieg. Dis so lekker om te sien hoe die honde hier oral saam met hulle eienaars rondgaan: kroeg toe en winkel toe en woud toe en selfs bank toe!

Ons raak nog die Engelse kossmake gewoond. Sout blyk ’n vloekwoord te wees, die suiker word van beet gemaak, die aartappels is soet en die asyn proe frank. Dankie tog vir Suid-Afrikaanse winkels!

’n Vuil kar is nie ’n teken van luiheid of onverskilligheid nie. Dit is bloot ’n saak van onmoontlikheid!

Waarvan hou julle die meeste van julle lewe daar?

Die wonderlike vryheid en veiligheid is iets waarvoor ons gereeld dankie sê. Sisteme werk ook wonderlik goed en misdaad word hanteer soos dit hoort.

Die Engelse het eintlik ’n wonderlike sin vir humor! Ek dink op TV lyk hulle dalk vreeslik “stiff upper lip”, maar wanneer jy hulle in hulle alledaagse omgewing sien, haal hulle mekaar ook dwarsoor die poskantoor se vloer uit, is hulle bedagsaam en vriendelik en help hulle graag.

“Volunteering” is groot hier en daar is nooit ’n tekort aan mense wat rigting aanwys in ’n besige hospitaal of kospakkies pak by die “Food Bank” nie. Ook nou is daar geweldig baie mense wat aanbied om te help by die COVID-inentingstasies, of wat kruideniers gaan koop en aflewer vir diegene wat isoleer, of wat ook al nodig is.

Ons het geleer om eenvoudiger te lewe: Ek het regtig nie ’n hele kombuis vol breekgoed nodig nie, twee plastiekbakke werk net so goed soos vyf. Jy het nie soveel klere nodig nie, en stryk is heeltemal “overrated”. As jy nie vandag die hele huis kan skoonmaak nie, dan doen jy nou die helfte en môre die res.

Hier is honderde gratis TV-kanale met goeie programme. ’n Mens hoef regtig nie te betaal vir TV nie.

Daar is verskriklik baie goed om te sien, te besoek en te beleef hier. (Nou nie met COVID nie …) Elke dorp of stad het sy unieke karakter en geskiedenis en toeriste-aantreklikhede om te beleef. En baie daarvan is gratis.

Wat is die een ding wat niemand jou vertel het van emigrasie nie?

Dit is baie duur. Nie net die proses om hier te kom nie, maar die alledaagse lewenskoste. Wanneer jy jou berekenings gaan doen, tel ten minste nog 20% per maand by.

Tweedehandse motors is spotgoedkoop hier! Vir die ekwivalent van R30 000 kan jy ’n gesinsmotor in ’n goeie toestand koop wat jou ’n hele paar jaar sal hou. Ons het ‘n Vauxhall (Opel) Astra (outomaties) en alhoewel nie vlekkeloos nie, is dit presies wat ons hier nodig het.

Die verlange om te behoort sal maar altyd in ons wees, maar oorlewing vereis ’n kopingesteldheid bo hartsverlange.

Besoek gerus Maxie se blog Genade is ’n dag lank

Woon jy in die buiteland of het jy onlangs na Suid-Afrika teruggekeer? Ons wil van jou hoor. Stuur gerus ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

Uit en tuis: ’n e-pos uit Nederland

Uit en tuis: ’n e-pos uit Nederland

Uit en tuis is ’n rubriek waarin ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar weer terug is in Suid-Afrika. Ons hoor graag van enigeen wat hul belewenisse met ons wil deel. Vandeesweek gesels ons met Natasha Viljoen wat al ses...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest