Leesvordering:

Uit en Tuis in Perth, Australië

Okt 16, 2018

Uit en Tuis is ’n rubriek waar ons met mense gesels wat tans in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het. Vandeesweek gesels ons met Reeva Cutting wat in Perth, Australië woon.

Vertel ons meer van jouself en waar jy woon?

Ek is Reeva. Ek is oorspronklik van Suid-Afrika, en ná tien jaar in koue en nat Engeland het ek na sonnige Perth, Australië getrek.

Wat doen jy daar?

Ek doen ’n paar dinge! Ek is ’n vryskut- digitale bemarker by Cutting Edge Digital, wat spesialiseer in soekenjinoptimering (SEO), Google Ads en blogs.

Ek skryf ook ’n blog vir mense wat Australië toe wil trek, genaamd Proudly South African in Perth. Die blog bevat baie praktiese inligting oor die skuif, hoe die lewe in Australië regtig is en dit stel ook pragtige plekke ten toon om in die land te besoek.

Oor twee dinge nie genoeg is nie, werk ek ook vir Rand Rescue, waar ek Suid-Afrikaners help om hul aftreeannuïteite en kontant uit Suid-Afrika na Australië te kry.

Was dit vir jou moeilik om in ’n nuwe land aan te pas?

Dit was moeiliker om aan te pas in die VK as in Australië. Australië het soos huis gevoel die oomblik wat ek hier aangeland het, al was ek nog nooit vantevore hier nie.

Die huise, weer en leefstyl is alles merkbaar soortgelyk aan Suid-Afrika.

Sodra jy uitgewerk het waarheen om te gaan en wat om by die winkels te koop, voel jy baie meer gevestig.

Wat is die beste en slegste avonture wat jy al daar gehad het?

Die slegste was moontlik ons eerste drie maande voor ons werk of ’n huis te huur gevind het.

Ons het oorgekom met beperkte fondse en geen werk nie en het ’n vakansiehuis gehuur vir drie maande. Ons het albei werk gekry en ’n eers in die laaste week voor ons die vakansiehuis moes verlaat ’n huis gekry om te huur! Dit was nogal stresvol en nou kyk ek terug en dink ons was mal om dit te doen, maar ek het net geweet dit sou op die ou end alles uitwerk.

Die beste avontuur moet wees om deur ons nuwe tuisland te reis. Dit is effens duur om enige plek heen te reis, veral Wes-Australië, so ek het nog nie soveel gereis soos ek sou wou nie. Maar wanneer ek reis, word my asem altyd deur die natuurlike skoonheid weggeslaan.

Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika?

Behalwe familie en vriende? Waarskynlik Ocean Basket!

Wat was die vreemdste ding om aan gewoond te raak in jou nuwe land?

Die koste van uiteet – dis buitensporig hier in Perth!

Wat geniet jy die meeste van Australië?

Die vryheid om nie vrees en daaglikse stres te ervaar nie.

Die pragtige somers en wit sandstrande.

Die feit dat alles werk, al sou die plaaslike inwoners altyd iets kry om oor te teem. Daar is selfs ’n Facebook-groep in Perth vir mense wat net ’n bietjie wil kerm!

Sal jy ooit terugkeer na Suid-Afrika?

Slegs vir vakansies, om familie te sien. Ek sal nie weer kan terugkeer om daar te bly nie, tensy iets drasties ten opsigte van lewensgehalte, regering en misdaad verander.

Vakansies in Suid-Afrika is egter altyd skouspelagtig!

Was dit maklik vir jou om jou voete daar te vind?

Dit is nie maklik om mee te begin nie, veral as jy niemand ken wanneer jy aanland nie.

My raad aan enigiemand nuut is om uit te reik en aanlyn met mense in verbinding te tree. Hierdie aanlynvriende kan dikwels vriende in die vlees word en hulle kan die verskil tussen ’n slegte en ’n goeie dag beteken.

Moet ook nooit ’n uitnodiging van die hand wys nie – jy weet nooit wie jy daar gaan ontmoet nie!

Hoe vergelyk die lewenskoste met dié van Suid-Afrika?

Ek het vir tien jaar in die VK gebly voor ons hierheen getrek het so toe ons verhuis het, het ek daardie twee met mekaar vergelyk. Ek het dit ongeveer gelyk gevind, alhoewel sommige goed soos brandstof en gasrekenings veel goedkoper was.

Toe ons hierdie jaar (2018) terug is Suid-Afrika toe, was ek geskok deur van die pryse daar – sommige kruideniersware is deur die dak in vergelyking met salarisse. Ek weet nie hoe gemiddelde gesinne oor die weg kom nie.

Het jy die geleentheid om gereeld te reis? Indien wel, waarheen gaan jy graag?

Nie so veel soos ons graag wil nie.

Vir vinnige wegbreke kan jy nie die Margaretrivier-gebied en Wes-Australië se suidwestelike deel klop nie.

Ons het Bali verlede jaar besoek en was so mal oor ons tyd daar dat ons weer teruggaan. Dit blyk dat jy nie as ’n volwaardige Wes-Australiër gesien word tot jy Bali besoek het nie!

Kry jy ooit kans om met ’n besige skedule soos joune te ontspan?

Somtyds. Dit is egter moeilik om drie ondernemings te bedryf en ’n gesin te hê. Ek is mal oor perdry so dit is my uitspantyd en ek probeer om so gereeld te gaan soos ek kan.

Hoe lyk jou tipiese dag?

Ná die skoolaflaaiery gaan ek gewoonlik gim toe en spandeer dan die volgende paar ure aan soveel werk as moontlik voor die skoolklok weer lui! Ek deel my tyd tussen my digitalebemarkingsonderneming, migrasieblogs en Rand Rescue.

My middae word somtyds aan meer werk gewy of ek gaan na naskoolse aktiwiteite met my seun.

Naweke is veel meer pret, veral in die somermaande wanneer dit voel of daar elke naweek iets is om te doen. Ek is mal oor die feit dat daar soveel gratis gebeurtenisse in Perth is en gesinne het baie om van te kies wanneer dit by doendinge saam met jou kinders kom.

 

Vir meer oor Reeva en Cutting Edge:

Besigheid Webtuiste:

https://cuttingedgedigital.com.au/

Besigheid Sosiale Media:

https://www.facebook.com/CuttingEdgeDigital/

https://www.instagram.com/cuttingedgedigitalau/

https://twitter.com/ReevaCutting

https://www.linkedin.com/in/reeva-cutting/

Migrasie Blog:

https://proudlysouthafricaninperth.com/

Blog Sosiale Media:

https://www.facebook.com/ProudlySouthAfricanInPerth

https://www.instagram.com/reevac/

https://www.pinterest.co.uk/ukreeva/

 

Meer oor die outeur

Reeva Cutting

Reeva Cutting is ’n digitale bemarker by Cutting Edge Digital en blog ook by Proudly South African in Perth oor die trek na en die lewe in Australië. Sy is ’n passievol daaroor om klein ondernemings te help om aanlyn gevind te word en om hul verkope deur aanlynkanale soos organiese soektogte, Google AdWords en sosialemediakanale te dryf. As ’n kranige bemarker en blogger is sy mal daaroor om daai bladsy-een resultate vir haar SEO-kliënte te sien en ook te sien wanneer ondernemings uiteindelik begin om hul kliënte deur middel van hul aanlynteenwoordigheid te bereik. Sy is ook ’n prominente lid van die ekspatgemeenskap in Perth en het ’n liefde daarvoor om immigrante deur haar blog te ondersteun om ’n nuwe lewe in Australië te begin.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Soos jy nooit die reuk van ’n stofpad ná die reën sal vergeet nie, so het elke Suid-Afrikaner ervaringe gehad wat ’n mens nie anders kan as om te mis nie. Sê wat jy wil, Suid-Afrika is uniek. Daar is nie veel plekke in die wêreld waar jy oor soveel mooi vlaktes kan...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest