Leesvordering:

Uit en Tuis in Suffolk

Feb 20, 2019

Uit en Tuis is ’n rubriek waar ons met mense gesels wat tans in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het. Vandeesweek gesels ons met Minette Keyter wat in Suffolk woon.

Vertel ons meer van jouself en waar jy woon.

Ek het in Krugersdorp, Gauteng grootgeword en in September 2018 na Engeland verhuis om ’n meestersgraad hier te verwerf. Op die oomblik bly ek in Suffolk, wat in die ooste van Engeland is. Suffolk is veral bekend vir die pragtige platteland, klein dorpies en asemrowende strande.

Wat doen jy daar?

Op die oomblik is ek ’n voltydse student wat vir ’n meestersgraad in besigheid en bestuur studeer. Ek probeer ook soveel as moontlik reis en nuwe plekke ontdek en verken.

Waarby in die nuwe land het jy moeilik aangepas?

Alles is nuut; dit is geheel en al ‘n nuwe ontdekkingsreis. Elke winkel, straat, gebou en area is onbekend. Boonop moet jy nou van rand na pond omskakel en kilometers na myle. Dit is moeilike konsepte waaraan ek in hierdie vreemde, nuwe omgewing moet gewoond raak.

Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika?

Daar is baie dinge wat ek op die oomblik mis. Ek mis dit om Afrikaans te kan praat; ek spits my ore in elke winkel of openbare plek om miskien iewers iemand te hoor met wie ek in my eie taal kan praat. Die deel waarna ek die meeste verlang, is die warm weer. As jy sien dat al jou vriende by die see of in die bosveld is, of braai en swem, maak dit mens nogal jaloers.

Wat was die vreemdste ding waaraan jy moes gewoond raak?

Die vreemdste ding waaraan ek moes gewoond raak, is die son wat eers om 08:30 opkom en weer teen 15:30 sak. Die dae voel baie korter, maar teen somer gaan die dae weer ekstra lank voel. Nog ’n vreemde situasie is om met skoene op die strande te loop. In plaas van sagte, wit sand soos ons dit ken, is daar hier net miljoene klein klippies wat dit baie moeilik maak om kaalvoet op die strand te gaan stap.

Wat geniet jy die meeste van Engeland?

Dit is ’n wonderlike land om in te bly. Daar is soveel om te sien en te doen. Wat ek die meeste geniet, is om die klein dorpies te besoek en van die uitstekende openbare vervoer gebruik te maak. Ons het ook ’n paar sneeudae gekry, wat sover ’n groot hoogtepunt vir my was.

Kry jy geleentheid om gereeld te reis?

Omdat ek op die oomblik baie besig is met my studies, kry ek nie baie kans om oorsee te reis nie. Ek kry egter baie kans om in Engeland rond te reis en ek geniet dit om elke naweek ’n nuwe plek te besoek. In Suffolk veral is daar baie om te sien en baie plekke om te verken. Suffolk is ook redelik sentraal wat dit maklik maak om na ander dorpe en stede soos Londen en Cambridge te reis.

Wat is die een ding wat niemand jou van emigrasie vertel nie?

Inligting oor emigrasie is vrylik beskikbaar en daar is baie bronne wat mens op al die prosesse en stappe voorberei wat jy moet volg. Baie mense het my ook gewaarsku oor hoe moeilik dit gaan wees. Wat niemand my egter vertel het nie, is hoe lekker dit sou wees om hierdie nuwe avontuur aan te pak. Ja, dit was ’n baie groot administratiewe proses en dit het maande se voorbereiding geverg, maar op die ou einde was alles die moeite werd.

Was dit maklik om nuwe vriende te maak en by die gemeenskap in te skakel?

Ongelukkig is dit ’n moeilike proses om by ’n gemeenskap in te skakel. Die universiteit maak dit tot ’n mate makliker om vriende te maak en mense te ontmoet. Ek dink dit gaan ’n lang tyd neem om deel van die gemeenskap te word, maar dit gaan elke dag al beter.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Soos jy nooit die reuk van ’n stofpad ná die reën sal vergeet nie, so het elke Suid-Afrikaner ervaringe gehad wat ’n mens nie anders kan as om te mis nie. Sê wat jy wil, Suid-Afrika is uniek. Daar is nie veel plekke in die wêreld waar jy oor soveel mooi vlaktes kan...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest