Leesvordering:

Uit en Tuis: E-pos uit Suid-Korea

Jun 10, 2022

Uit en Tuis is ’n rubriek waar ons met mense gesels wat tans in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het. Hierdie week gesels ons met Maarten Muller wat in Suid-Korea woon.

Hallo Maarten, vertel ons bietjie meer oor waar in die wêreld jy woon en hoekom juis daar?

Ek woon tans in Sejong, Suid-Korea. Dit is ’n nuwe stad wat eers in 2012 gevestig is. Dit lyk dus baie anders as die “normale” Korea. Dit is baie meer modern, oop en ’n mens kan maklik vergeet dat jy eintlik in Korea bly.

Ek wou nog altyd ’n Asiese land besoek het. Korea was die land waar ek die droom die vinnigste en maklikste kon bereik het. My oorspronklike plan was om net vir een jaar te kom, maar tans is ek al hier vir twee jaar en vier maande.

Om in ’n nuwe land aan te pas kan uitdagend wees, wat was vir jou die vreemdste om aan gewoond te raak in die buiteland?

Ek het baie gewonder oor wat vir my die moeilikste uitdaging gaan wees as ek hier aankom. Die taal, kos of kultuur? Snaaks genoeg, vir my, was dit nie een van daardie nie. Die vreemdste en moeilikste ding, selfs nou nog, is die feit dat die meeste dinge in die buiteland tydelik is. Die belangrikste van alles is vriendskappe. Jy ontmoet die wonderlikste mense en bou goeie verhoudings, maar almal gaan altyd huis toe. En jy weet jou tyd kom ook. Dit maak dit moeilik om soms jouself “daar buite te sit”, maar jy moet dit doen. Anders is dit verlore tyd en geleenthede waaroor jy altyd gaan spyt wees.

Is daar enige eg Suid-Afrikaanse winkels naby jou wat jy besoek vir trooskos?

As jy enige Suid-Afrikaner in Korea vra waar hulle biltong, KWV of ’n skaaptjop kan kry, gaan almal dadelik vir jou sê Braai Republic. Dit is ’n Suid-Afrikaanse restaurant in Seoul, die hoofstad, asook in Pyeongtek. Sodra die verlange huis toe te veel raak is dit altyd die eerste plek waarheen ek gaan. Hulle sorg altyd vir ’n wonderlike belewenis met die wonderlikste kos.

Ek was al by ’n paar Koreaanse kroeë in waar daar “springbokkies” op die spyskaart was en dan kan ’n mens natuurlik nie nee sê nie.

Vertel ons bietjie meer oor jou werk. Hoe verloop ’n tipiese dag? Is die lewe rustiger daar en het jy meer tyd om te ontspan?

Ek is ’n Engels-onderwyser in Korea. Ek gee skool vir 6- tot 10-jariges. In Korea is hulle 7 tot 13 jaar oud. In Korea is jy reeds een jaar oud as jy gebore word en almal word een jaar ouer op die 1ste Januarie. So as jy die 31ste Desember gebore word dan is jy twee jaar oud op 1 Januarie – nie twee dae nie.

’n Normale werksdag verloop van 09:00 tot 18:00. Daar is wel skole wat eers 14:00 begin en dan 22:00 eers eindig. Tans gee ek skool vir agt klasse elke dag. Dit is ’n baie fisiese en “mentally” uitdagende werk, maar dit kom alles met sy eie belonings.

Korea het ’n “ppalli ppalli”-kultuur. Dit beteken basies dat alles vinnig-vinnig moet gebeur, hetsy dit in ’n professionele, sosiale of akademiese omgewing is. Persoonlik voel ek daar is minder tyd om te ontspan in die week, maar juis omdat ’n mens so hard werk gedurende die week maak ek oor naweke meer tyd om te ontspan of om die wêreld te gaan verken.

Hoe het jy ingeskakel en vriende gemaak in die proses? Is jy hoofsaaklik vriende met mense van Suid-Afrika of het jy vriende gemaak van ander kulture?

Ek is in ’n baie bevoorregte posisie om by ’n skool te werk wat baie oorsese onderwysers het. Hoofsaaklik is ek vriende met Suid-Afrikaners, maar het al wel baie goeie vriende geraak met mense van Korea, Amerika, Engeland en China.

’n Paar van my vriende in Suid-Afrika het ook intussen besluit om Korea toe te kom en deur hulle het ek ook nuwe mense leer ken.

Dit help ook baie om by van die reisgroepe aan te sluit en toere deur hulle te doen. Nie net verken jy Korea nie, maar jy ontmoet ook wonderlike mense in die proses.

Kry jy kans om te reis?

Een van my hoofdoelwitte toe ek Korea toe gekom het in 2020, was om soveel as moontlik te reis. Ongelukkig het Covid gebeur en dit het daardie planne vertraag. Ons was nooit onder ’n “hard lockdown” waar ’n mens nie kon reis nie. Dit het my net wel gedwing om Korea meer te verken as wat ek beplan het, iets waaroor ek nooit sal spyt wees nie. Ek was ten minste nou al in al vier hoeke van Korea en op ’n paar van die eilande wat ek baie graag wou besoek het.

Dinge begin rustiger raak hierdie kant en die kans om meer buiteland toe te begin reis begin beter lyk. My volgende bestemming is Europa.

Hoe vergelyk die lewenskoste in Suid-Korea met dié van Suid-Afrika?

Oor die algemeen is die basiese lewenskostes in Korea, soos openbare vervoer en verblyf, baie laer as in Suid-Afrika. Onderwysers hoef nie vir verblyf te betaal nie, maar as jy besluit om jou eie plek te huur is dit ook goedkoop, mits jy ’n baie groot deposito neersit.

Vrugte en vleis is weer baie duurder hier, amper tot so ’n mate dat dit as ’n luukse gesien kan word.

Om ’n aand uit te gaan is wel baie duurder as in Suid-Afrika. Een “shooter” of ’n “cocktail” kan jou maklik R200 uit die sak uit jaag. Dit hang wel ook af waar jy kuier.

Die geheim is om nie ₩ (Won) in R (Rand) om te skakel nie. Dit is die enigste tyd wanneer jy gaan agterkom hoe duur of hoe goedkoop dinge is.

Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika?

Daar is so baie goed wat ek mis van die huis. Bo-aan die lysie is familie, vriende, klimaat, kultuur, kos, taal en skoon lug. Tog weet ek wel daar is net soveel goed wat ek gaan mis van Korea as my tyd hier tot ’n einde kom. Die veiligheid, spontaneïteit, onvoorspelbaarheid, uitdagings en die permanente “nuutheid” van enige situasie waarin jy is. Die geleenthede wat Korea jou bied om jou beste lewe te lewe is ook nie iets wat iemand kan onderskat nie.

Bygesê, ek is wel van plan om Maart 2023 my Korea-hoofstuk te sluit. My grootste droom was en is nog altyd om ’n vlieënier te word. Dit is my volgende hoofstuk wat ek in Suid-Afrika wil begin.

Uit en Tuis: ’n E-pos uit Kanada

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Onderneming in die Kollig: Ipixel web & graphic solutions

Onderneming in die Kollig: Ipixel web & graphic solutions

Hierdie week se kollig is op Ipixel web & graphic solutions in Nieu-Seeland. Ipixel web & graphic solutions is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom om...

’n Netwerk wat vir jou werk

’n Netwerk wat vir jou werk

Deur Sue-Ann de Wet Die belangrikheid van ’n ondersteunende netwerk kan nie onderskat word nie. Die bou van ’n netwerk in ’n nuwe land gaan oor meer as net sake doen of werk soek; dit gaan ook oor die skep van ’n ondersteuningsbasis wat jou kan help om die gevoel van...

Watter tradisies laat jy en jou gesin voortleef in die buiteland?

Watter tradisies laat jy en jou gesin voortleef in die buiteland?

Kyk die ouer garde van ander lande jou snaaks aan as jy nog na hulle as “Oom” en “Tannie” verwys? Langarmsokkie julle nog in die sitkamer op Afrikaanse sokkietreffers? Ons kultuur is meer as net melktert en braaivleis. Wat is daardie klein gewoontes wat jy net...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest