Leesvordering:

Uit en Tuis met Chamonix Terblanche

Sep 19, 2018

Uit en Tuis is ’n rubriek waar ons met Suid-Afrikaners gesels wat in die buiteland woon. Vandeesweek gesels ons met Chamonix Terblanche, wat in Perth, Australië woon.

Waar woon julle en waarom juis daar?

Ons woon in die suidelike voorstede van Perth. My ouers, Tom en Sophi Smalberger, broer Marnus, sy vrou Anita en hul driejarige tweelingseuntjies woon ook hier. Dis ’n pragtige stad. Die spierwit strande met turkoois water is net tien minute van ons huis af en dis net 20 minute se ry tot in Perth se middestad.

Was dit ’n groot aanpassing?

Enige trek is ’n aanpassing – of dit nou Kaapstad of Perth toe is. Ek glo ’n plek is wat JY daarvan maak, so toe ek hierheen getrek het, het ek die bul by die horings gepak en seker gemaak ek skakel by die plek en die mense in. Australië het ongelooflike ontvanklike mense en as jy uitreik en hulle laat weet jy is hier en wil deel van die gemeenskap word, ontvang hulle jou met ope arms.

Vertel ons meer van jou gesin? Het jy geswot en watter werk doen jy?

My man Carl is van Groblersdal. Ons is nou 13 jaar in Australië en 12 jaar getroud (ons het eers ver oor die water gevry en toe trek hy later na my toe down under!). Hy werk vir ’n bank, in hul tesouriershoofkantoor. Ons het drie seuntjies: Monaco (5), Bordeaux (3) en Everest (1), en dan het ons nog ’n wonderwerkie op pad wat ons Februarie in die lewe gaan verwelkom.

Ek het ’n Ph.D. in Besigheidsinformatika hier in Perth gedoen en ná ’n wye beroepspad waar ek onder andere vir ’n senator in Australië se parlement as stafhoof (Chief of Staff) gewerk het, het ek besluit om ’n beroepsverandering te maak en ’n maatskappy in eiendomsontwikkeling en -verkope saam met twee ander direkteure te begin. Ek is van tyd tot tyd ’n genooide gasspreker op Sky News Australia en ook ’n stadsraadslid by een van die grootste munisipaliteite in Perth. Van my uitsendings kan op YouTube gevolg word by https://www.youtube.com/c/thechamonixshow?sub_confirmation=1 en https://www.youtube.com/channel/UCE9rE1HHIyl5wIVZ-ODp8NA?sub_confirmation=1.

Praat julle nog Afrikaans?

Ja, ons praat Afrikaans. Ons seuntjies praat ook vlot Afrikaans alhoewel hulle hier in Perth gebore is. Hier is ’n groot Afrikaanse gemeenskap en ons het baie Afrikaanse vriende, so ons kinders kuier gereeld in Afrikaans met maats en het natuurlik ook hul nefies, ouma en oupa wat hier bly!

Hoe gereeld sien julle familie mekaar?

Vandat ons in Australië bly, sien ons mekaar baie meer gereeld as wat ons mekaar ooit in Suid-Afrika gesien het. Ons het doelbewus besluit om almal naby aan mekaar te bly (vyf minute se ry van mekaar af) en ons het ’n staande reëling om elke Woensdagaand as Smalberger-gesin (my nooiensvan) almal saam te kuier. Ons is so bevoorreg om my hele direkte familie hier naby ons te hê.

Vreemdste om aan gewoond te raak?

Sjoe, ek is nou darem al als goed gewoond! Maar toe ek net hierheen getrek het, was dit vreemd dat mense mekaar by die kasregisters en ander dienspunte in winkels groet en dan altyd vra: “How are you?” As die transaksie of geselsie verby is, sluit hulle altyd af met: “See you later!” al gaan jy hulle nooit weer sien nie – wat ’n interessante dog vriendelike gebruik om mense mee te ontvang en te groet.

Het julle nog kontak met Suid-Afrika?

Ons het kontak met Suid-Afrika, meestal deur konneksies op Facebook en ons families se WhatsApp-groepe, maar ek volg geen nuus of stories in Suid-Afrika meer nie. Ek het ’n algemene idee van wat in die politiek in Suid-Afrika aangaan, gebaseer op wat ek nou en dan op Facebook raaklees of op ons Australiese nuuskanale sien. Maar dis maar few and far between. Ons ken omtrent geen meer Suid-Afrikaanse sportsterre of TV-sterre nie so om byvoorbeeld ’n Afrikaanse tydskrif te lees, is glad nie vir ons interessant nie want dis totale vreemdelinge van wie gepraat word of onderhoude mee gevoer word. Ons luister darem nog graag Afrikaanse musiek deur YouTube-musiekvideo’s.

Sal julle ooit terugtrek Suid-Afrika toe?

Nee, ons sal nooit terugtrek nie. Ons gaan ook baie min Suid-Afrika toe vir vakansie. Daar is te veel ander plekke in die wêreld wat ons nog graag wil sien. Australië is nou ons plek en ons is baie lief vir ons nuwe land en haar mense!

Waarvan hou julle die meeste van julle lewe daar?

Die sorgvrye lewe van veiligheid, regverdigheid en die ongelooflike karaktereienskap van Australiërs waarin hul mateship uitgebeeld word. Mateship is ’n Australiese wyse van vriendskap, maar is groter as net gewone vriendskap. Dit beteken mense word gelyk hanteer ongeag van hul geslag, geloof, ras of sosiale status. Mateship versinnebeeld optrede waar mense uit hul pad sal gaan om jou te help, bekend of onbekend, en niks in ruil verwag nie.

Wat is die grootste verskil van jul lewe in Suid-Afrika?

Ons lewe ’n baie meer doelgerigte lewe in Australië. As ons nog in Suid-Afrika gebly het, sou ons waarskynlik steeds in die rat race gewees het om die veiligheid-, status- en sosiale leer wat so belangrik in Suid-Afrika geag word, te klim. In Australië het ons geleer om die lewe en mekaar werklik te waardeer en doelbewus te deurdink hoe ons elke dag van ons lewe wil spandeer en wat werklik aan die einde van die dag saak maak.

Wat mis julle die meeste van Suid-Afrika?

Daar is basies niks in Suid-Afrika wat ons nie in Australië kan kry nie. Suid-Afrikaanse winkels hier bied al die noodsaaklike eetgoed aan wat Suid-Afrikaners in die buiteland mis. Ons eet daagliks vetkoek wat my wonderlike pa elke oggend vars bak en waarvan ek padkos kry as ek in die oggende op pad werk toe daar by hulle ’n draai maak. Koeksisters, biltong en melktert is alles algemeen beskikbaar, en die groot kruidenierswarewinkels verkoop al ’n reeks Suid-Afrikaanse produkte soos beskuit, atjar, NikNaks en dies meer.

Wat ek wel mis, is die besonderse lekker produkte van biltong.co.za en Fleisherei in Suid-Afrika!

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Soos jy nooit die reuk van ’n stofpad ná die reën sal vergeet nie, so het elke Suid-Afrikaner ervaringe gehad wat ’n mens nie anders kan as om te mis nie. Sê wat jy wil, Suid-Afrika is uniek. Daar is nie veel plekke in die wêreld waar jy oor soveel mooi vlaktes kan...

Onderneming in die Kollig: Ipixel web & graphic solutions

Onderneming in die Kollig: Ipixel web & graphic solutions

Hierdie week se kollig is op Ipixel web & graphic solutions in Nieu-Seeland. Ipixel web & graphic solutions is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom om...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest